Skenk bederfgoed vir vroue in nood se handsakke

Sandra Taljaard van Style Challenge International saam met die tenoor Coert Grobler. (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou se handsak kan baie vir die wêreld sê oor haar menswees en lewe en daarom wil Solidariteit Helpende Hand met die Hier’s my Hand-“sak”-musiekblyspel die geleentheid aangryp om vroue in nood by te staan met bederfgoed vir hulle handsakke.

“Elke vrou se handsak gee vir ʼn mens diepgaande insig in haar lewe, al besef sy dit nie. Miljoene vroue spandeer jaarliks duisende rande aan handsakke waarvan hulle hou, al land dit net weer op ʼn rak en stof opgaar,” sê Sandra Taljaard, internasionaal-bekroonde voorkomsspesialis van Style Challenge International.

Helpende Hand se Pretoria-streek nooi vroue om op 16 September ʼn blaaskans te neem, ʼn handsak met bederfgoed vir vroue in nood te pak, en by die bekendstelling van Hier’s my Hand-“sak” aan te sluit. Dié geleentheid vind by die AfriForum Teater in Pretoria plaas.

Die musiekblyspel handel oor ʼn vrou se lewe – in haar handsak, met haar handsak, vir haar handsak. Dit is ʼn prettige, insiggewende, motiverende verhaal wat deur Taljaard geskryf en deur die tenoor Coert Grobbelaar getoonset is. Jannes Erasmus, regisseur van onder andere “Die Kaplyn”, is die kreatiewe regisseur.

“Ek het vir Coert gesê dat ek die behoefte het om ʼn motiverende musiekblyspel te skryf waar ek tussen-in praat en hy dan die bypassende musiek doen. Ek praat nie net oor mode nie, maar dit gaan ook gepaard met humor en motivering,” sê Taljaard.

Volgens Mariana Kriel, streekorganiseerder van Helpende Hand Pretoria-streek, is die organisasie opgewonde om met dié kunstenaars hande te vat.

“Ons roeping is gemeenskapsontwikkeling en daarom is dit belangrik om die gemeenskap waarin ons leef te ontwikkel en op daardie manier voorspoed te verseker.

“Helpende Hand ontvang geen skenking van die staat af nie en ons is dus afhanklik van die publiek en persone wat maandelikse bydraes gee. Die fondse wat by hierdie geleentheid ingesamel word, sal spesifiek geoormerk word vir Helpende Hand Noord-Gauteng se studiefonds om meisies deur opleiding te bemagtig.”

Kriel moedig vroue aan om ou handsakke, gevul met iets spesiaals vir vroue in nood, op die dag saam te bring.

“Ons wil dit egter nie net tot die dag beperk nie. Vroue kan ook bederfhandsakke by hul naaste Ons Winkel-tak in Pretoria of Bronkhorstspruit of by GROOTfm se kantoor in Lynnwood Manor afgee. Van die handsakke sal tydens die vertoning aan Corlea Botha oorhandig word, spesiaal vir haar Genadesakke-projek.”

Die bekendstelling op September is volgens Kriel die ideale netwerkgeleentheid om ʼn verskil in ander vroue se lewens te maak.

“Daar gaan genoeg tyd gegun word vir vroue om met mekaar te netwerk en nuwe vriendskappe te sluit. Omtrent 150 sakevroue gaan die geleentheid bywoon en dit is dus ʼn gulde geleentheid vir ondernemings om as gesogte borge op te tree. Dit is ook die ideale dag om ander sakevroue te bederf en hulle die geleentheid te bied om deel van die dag te wees.”

Kaartjies, wat die etes en wynproe insluit, kos R500. Dit kan bespreek word deur ʼn e-pos te stuur aan Mariana Kriel na [email protected]. Kaartjies vir die galery, wat nie die etes insluit nie, kos R250 en dit is aanlyn beskikbaar by www.afriforumteater.co.za. Besoek www.pretoriahand.co.za om meer oor die geleentheid te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elma ·

Lyk my “skenkings” is die land se nuwe “buzz word”. Dis al wat mens deesdae hoor. Skenk ietsie hier, skenk ietsie daar. Dit hou nooit op nie.

Karoo ·

Gemeenskaps werk het sy plek, jy moet baie versigtig wees waar jy betrokke raak. Vir ‘n behoeftige vrou met nou’ n uiters mooi handsak se dit vir die skelms juis…. Hier’s my Hand-“sak!!!! Behoeftige vrouens kort dalk werk, opleiding of net goeie self sorg om weer op die been te kom.

Eclectus ·

Iemand het eens oor ‘n vrou se handsak gesê: “Nog nooit is so baie in so ‘n klein spasie vergaar tot voordeel van so min nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.