Student speel saksofoon vir buurt tydens inperking

Piet Grobler (Foto; Verskaf)

Piet Grobler (20), ʼn meganiese ingenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria, het besluit om sy buurt op te kikker tydens die staat van inperking met pragtige saksofoon-musiek wat by hul vensters inwaai.

Grobler vertel dat hy al lank in dié buurt in Pretoria woon en dat die mense in die buurt weet hy speel saksofoon omdat hulle hom al baie hoor oefen het.

Hy vertel hy het eendag met die venster oop saksofoon geoefen en sy pa het toe op die gras gaan sit en daarna geluister. Hy het vir hom hande geklap toe hy klaar is. Dít is hoe die idee by hom opgekom het.

“Ek weet baie mense sukkel veral nou verskriklik finansieel en oor die algemeen is die moreel baie laag. Meeste mense dink nie aan musiek wanneer hulle in ʼn moeilike tyd is nie, maar wat musikante doen, is om mense beter te laat voel,” vertel hy.

“So ek het net gedink: Ek kan nie die mense finansieel help nie, maar ek kan wel vir hulle musiek speel om hulle beter te laat voel.”

Grobler speel van toe af elke nou en dan van hul balkon af vir die buurt musiek. Sy tuiskonsert vind elke keer om 17:00 plaas. Mense kan dan uit hul huise of tuine na hom luister.

Grobler sê baie mense het al terugvoer op hul buurt se verskeie WhatsApp-groepe gegee, en dat dit lyk of almal dit baie geniet.

Grobler speel al die saksofoon vandat hy twaalf jaar oud is. Hy sê hy gaan deur al die vlakke van inperking aanhou speel tot hy terug universiteit toe moet gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JANINE ·

Dis pragtig!! Hier by ons naby Secunda oefen iemand “The Last Post” van tyd-tot-tyd. Hoop nie dis simbolies nie …. Hoekom nou juis The Last Post kies in hierdie tyd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.