Trots Afrikaans Vol. 7

Trots Afrikaans Volume 7Deur die jare is die amptelike Suid-Afrikaanse trefferslys wat op werklike albumverkope gebaseer is, oorheers deur versamelalbums.

Die sewende volume van die reeks Trots Afrikaans is onlangs vrygestel, en hoewel dit nog nie so gewild is soos Afrikaans is groot Vol. 5 nie, het dit al ‘n redelike inruk op RSG se Top 20 gemaak.

Die eerste snit op hierdie versameling is By jou, een van die treffers vanaf Theuns Jordaan se jongste album, Roeper.  Theuns se gereelde sangmaat, Juanita du Plessis, is volgende met ‘n komposisie van Rudi Claase, Onthou my. Hierdie liedjie is ingeskryf  vir Huisgenoot se liedjieskryfkompetisie, en hoewel dit ‘n rukkie geduur het voordat dit op een van haar albums veskyn het, was dit ‘n treffer. Bobby van Jaarseld se gewildheid het die afgelope jaar of wat toegeneem, en sy laaste twee albums was topverkopers. ‘n Vrou wil dit hoor was die eerste treffer vanaf sy jongste album, en dit is ‘n verbasend diepsinnige liedjie vir ‘n relatief jong kunstenaar.

Daar is een snit wat eksklusief op hierdie versameling voorkom. Riana Nel het verlede jaar vir ‘n aangemane verrassing gesorg toe haar album, Die moeite werd, die algehele topverkoper in Suid-Afrika geword het. Terwyl haar aanhangers ag dat sy ‘n nuwe album vrystel, het sy solank ‘n nuwe snit wat sy self geskryf het, Tyd om te lewe, opgeneem.  Nog ‘n kunstenaar wat al hoe gewilder word, is Jay. Sy het dit kom vanaf sy tweede solo-album, Dis hoe ons rol; die feit dat dit hier ingesluit is, beteken sekerlik dat dit een van die treffers vanaf die album sal wees. Bobby se suster Karlien het haarself gou as een van ons land se gewildste kunstenaars gevestig, en die titelsnit van haar vorige album, Jakkals trou met wolf se vrou, was ‘n baie groot treffer. Dit was egter nie die beste snit vanaf die album nie. Ek wag nog steeds vir jou, die snit wat hier ingesluit is, het ‘n lekker aansteeklike klavierbaslyn, en hoewel dit radiolugtyd gekry het, is die feit dat dit nie ‘n reuse treffer geword het nie, ‘n skande.  Bok van Blerk se nuwe album word binnekort vrygestel, maar instusen kan sy aanghangers hul ore oophou vir Blou bul snor, wat ook op die album Blou bul droom voorkom.

Jay en Lianie May het ‘n uiters suksesvolle duet-CD verlede jaar vrygestel en As jy sing is een van die treffers wat dit opgelewer het. Die gelyknamige rolprent word in November vrygestel, maar of dié liedjie deel van die klankbaan gaan wees, is nog nie bekend nie.  Dewald Wasserfall het die Ghoema-toekenning as die beste nuweling op die Afrikaanse musiektoneel gewen, en Jy’s beautiful vir my kom vanaf sy eerste solo-album, Vergeet wat jy weet van liefde.  Nog ‘n opwindende nueling is Johan C. Venter, wat deel van die a capella-groep Flip a coin was. Sy eerste treffersnit, Oë soos pêrels, is seker een van die mooiste Afrikaanse liedesliedjies in ‘n lang tyd, en dit is hier ingesluit. Twee kunstenaars wat lank laas nuwe albums vrygestel het, is Robbie Wessels, wat die rol van die skoolhoof in As jy sing vertolk, en Lianie May.  Ons huil nie en Saam is ons beter kom van hul laaste onderskeie albums af; albei is goeie snitte wat treffers moes gewees het.

Eden het drie jaar gelede hul versamelalbum, Dekade, vrygestel, en nog nie weer ‘n album opgeneem nie. Aai ja jaai is een van die treffers wat hulle deur die jare gehad het, en dis eienaardig dat hiedie snit, wat seker al vyf jaar oud is, hier ingesluit is. Klein Karoo is en van verskeie goeie Afrikaanse rolprente wat die afgelope tyd uitgereik is.  Die akteur wat die hoofrol vertolk, Tim Theron, het Sias Reinecke se gelyknamige treffer saam met die Vosperd-brigade vir die klankbaan van die rolprent opgeneem, en dit is hier ingesluit.  Jak de Prister se jongste album is vroeër vanjaar vrygestel en hy het Liefde van my lewe vir sy vrou geskryf.

Twee snitte op die album is in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Die eerste hiervan is Die heuwels Fantasties se Klein tambotieboom, vanaf huk heel eerste album. Dit is ook die finalis onder die “raserig”-kategorie van Maroela Media se Grootste Afrikaanse liedjie-kompetisie wat hoegenaamd enige meriete het.  Ampie du Preez was by verskeie projekte betrokke voordat hy sy eerste solo-album vrygestel het. Die titelsnit van die nuwe weergawe van hierdie album, Niks en niemand, was tot dusver die enigste treffer, maar Jy bly die een in my hart is hier ingesluit. Die Campbells het verlede jaar ‘n belangrike loopbaanskuif gemaak, en die eerste gevolg daarvan is hul nuwe album, Voet in die hoek, wat tot ‘n mate beter is as enigiets wat hulle tevore opgeneem het. Yvonne is een van die treffers vanaf dié album. Sean Else en Vaughan Gardiner het Hoe wys ‘n man sy hart saam geskryf, en dit was die titelsnit vanaf Vaughan se jongste album. Jannie Moolman is een van die min kunstenaars wat opera en ligte musiek ewe goed kan sing, soos hy op Volg net jou hart bewys. Die laaste snit op dié versameling is die tweede een wat in die FAK-sangbundel voorkom. Mathys Roets is eerder ‘n vertolker as wat hy ‘n liedjieskrywer is, maar met In my lewe, wat deur Nardus du Plooy geskryf is, het hy’n treffer in eie reg gehad.

Soos gewoonlik bestaan Trots Afrikaans Vol. 7 uit ‘n wye verskeidenheid snitte deur ons land se voorste kunstenaars. Gelukkig is daar geen snitte ingesluit deur sommige kunstenaars wat ‘n rukkie lank gewild bly maar vir wie ‘n mens gou moeg word nie. Daar is heelwat liedjies wat die toets van die tyd sal deurstaan, en daarom kan dit vir enige liefhebber van Afrikaanse musiek aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.