Video: Len Muller, Stella stel inspirerende lied vry

Len Muller. (Foto: Jannes de Villiers)

Die sangers Len Muller en Stella het kragte saamgesnoer om ʼn inspirerende lied, “Toevlug”, te skryf en op te neem.

Die lied gaan oor die toevlug en heenkome wat die Skepper vir ons almal wil wees, vertel Muller, wat vroeër vanjaar sy enkelsnit “Heildronk” vrygestel het.

“Wanneer dinge moeilik gaan, of heelwat uitdagings kom oor jou pad, wil die lied jou bemoedig om nie te hardloop na tydelike verligting op aarde nie, maar na die Een wat jou hart geskep het, want dáár alleen sal jy rus en beskerming vind,” sê hy.

Die musiekvideo van “Toevlug” is vervaardig deur Lens Flare Productions en die regie en kamerawerk is deur Jannes de Villiers behartig. Marike Steenkamp van Common Ground Collective het die redigering gedoen en Raldo Mattheüs is die tjello-speler.

“Beeldmateriaal van my is geskiet in my motorhuis wat ons in ʼn ateljee omskep het. Stella se beeldmateriaal is op haar plaas in Carolina geskiet. Daar is ook dele in die Kaapse Skiereiland geskiet,” verklap Muller.

“Die lied is vir my spesiaal omdat ek die voorreg gehad het om vir die eerste keer saam met my tien jaar lange vriendin, Stella, te kon saamsing. Die lied het my ook persoonlik deur baie moeilike tye gehelp.”

Muller het voorheen in ʼn onderhoud met Maroela Media sy hart oopgemaak oor sy stryd met angs en depressie.

Hy is sewe jaar gelede met angs en depressie gediagnoseer en vertel dat hy al van jongs af sukkel met sy selfbeeld, maar dat sake vererger is nadat hy in ʼn traumatiese motorongeluk was ʼn paar jaar gelede.

Stella.

“Musiek het die krag om mense se emosies en harte aan te raak. Musiek kan mense beweeg om besluite te neem om beter te word,” het hy gesê.

“Toevlug” vorm ook deel van Muller se vollengte album wat tans in die afrondingsfase is en later hierdie jaar vrygestel sal word.

Buiten sy nuwe album, het hy onlangs ʼn nuwe agentskap gestig wat ander kunstenaars soos onder meer Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) bestuur. Hy is ook besig om liedjies vir Caroline Grace en Kurt Darren te skryf.

“Toevlug” stel nie net sy vaardighede as liedjieskrywer en musikant ten toon nie, maar nooi ook die luisteraar uit om spontaan saam te sing en met nuwe oë na jou lewe te kyk, sê hy.

“Gedurende die storms wat ons nou beleef met die pandemie hoop ek die lied kan ʼn klomp mense bemoedig en resoneer in die harte van mense wat hoop sal kweek,” sê hy.

“Toevlug” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.