Wesna sing oor haar liefdesavontuur

Wesna. (Foto: Tania Allen Photography/Wesna/Facebook)

“Die begin van ʼn nuwe lewe saam. Dit is nou die beste tyd van my lewe.”

Só gesels Wesna oor die tema van haar splinternuwe enkelsnit, “Avontuur”, wat pas uitgereik is.

Dié liedjie, geskryf deur Hugo Ludik en Nick Jordaan, vertel die verhaal van twee mense wat mekaar nie net goed aanvul as paartjie nie, maar ook op ʼn romantiese avontuur is.

Die sangeres is onlangs getroud en voel dat die liedjie hand in hand met haar eie romantiese storie loop.

“JT [Wesna se man] is die perfekte persoon saam met wie ek elke aand onder die sterre deurbring. Hy is die perfekte persoon om die lewensreis mee aan te durf.”

ʼn Deel van hul trouvideo is selfs by die musiekvideo van “Avontuur” ingesluit.

Wesna glo ook dat haar liefdestorie een is waarmee talle mense sal kan vereenselwig, selfs al is hulle nie self op ʼn liefdesavontuur nie.

“Avontuur is ʼn breë term wat soveel kan insluit, so ek glo die publiek sal dit goed ontvang,” sê Wesna.

Die liedjie is ʼn heerlike oorwurm, vertel sy verder, dit het ʼn voetstampritme wat luisteraars beslis na die dansvloer sal lok.

Hoewel dit vir haar belangrik is om musiek te maak wat lekker is om na te luister, is betekenisvolle lirieke boaan haar prioriteitslys. Sy sien uit daarna om voltyds op haar musiekloopbaan te fokus, en juis dié tipe betekenisvolle musiek uit haar pen te laat verskyn.

Wesna koester sedert kindsbeen ʼn liefde vir musiek. Sy het op ʼn klein dorpie in die Noord-Kaap grootgeword, en het nie geskroom om haar passie met mense rondom haar te deel nie.

Wesna het haar eerste album, As ek jou vanaand kom haal, uitgereik toe sy maar nege jaar oud was.

“My eerste enkelsnit, “Tuis”, was een van die hoogtepunte van my musiekloopbaan tot dusver,” vertel die blondekop sangeres.

“En as ek nie sing nie, is ek besig om te jag!”

Kyk hier na die musiekvideo van Wesna se “Avontuur”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.