Wilha Carstens: Van ‘Die Kontrak’ tot kollig

Wilha Carstens (Foto: Wilha Carstens/Facebook)

Vier jaar gelede het Wilha Carstens die plaas waar hy grootgeword het verlaat om tydelik in Johannesburg te werk, maar op die nippertjie besluit om wortel in Gauteng te skiet.

Die hartjie van die Afrikaanse musiekbedryf, waarvan hy met elke vesel van sy bestaan wou deel wees, was hier en hy het geweet dit is waar hy moet wees as hy sy droom om musiek te maak wou bewaarheid.

Wilha het kykers van die eerste seisoen van die VIA-werklikheidsreeks Die Kontrak se harte verower met sy sang en verhoogpersoonlikheid. Kykers was hewig ontsteld toe Coleske-baas, Arnold Coleske, sy kontrak halfpad deur die program opgeskeur het. Selfs die sangeres en aanbieder Karlien van Jaarsveld moes die trane wegpink toe hy die kompetisie moes verlaat.

Nou, twee jaar later, is hy uiteindelik op die voorgrond met sy debuutenkelsnit, “Ek sal jou weer kies”, wat pas uitgereik is. Dit is geskryf deur Johan Oberholzer, wat verantwoordelik was vir Die Kontrak-wenner Demi Lee Moore se suksesvolle debuutenkelsnit “Mis eet slaap herhaal”.

“Ek is ongelooflik gelukkig met die opname en kan nie wag om die publiek se terugvoer oor die liedjie te kry nie,” sê Wilha.

Hy sê hoewel die liedjie in egte Wilha-styl ʼn ballade is, is daar ook pop-elemente in die liedjie wat dit toeganklik vir ʼn wye gehoor maak en ʼn vars klank bied.

“Ek sal nie sommer dansmusiek maak nie, want dit is nie die rigting waarin ek wil beweeg nie. Ek wil graag musiek uitbring wat positiewe boodskappe en mooi lirieke het wat emosie by mense kan opwek wanneer hulle daarna luister.”

Hoewel Wilha se lewenspad soms met duwweltjies besaai was, is hy dankbaar oor wat hy alles langs die pad geleer het.

“’n Mens weet nie altyd in die gegewe oomblik waarom iets gebeur soos wat dit gebeur nie. Die dag nadat ek uit Die Kontrak gestem is, het my lewe basies net weer teruggekeer na normaal. Ek was op daardie stadium ʼn kroegman en dit was moeilik om te aanvaar dat ek nie verder met die program kon gaan nie.”

Vandag verstaan hy waarom die lewe hom op kronkelpaaie geneem het tot waar hy vandag is. “Dit is ʼn reis, en twee jaar na die program is dit nou my tyd om te skyn.”

Sy liefde vir musiek is reeds as kind gekweek in die musikale huis waar hy grootgeword het. Sy pa, ook Wilha, was ʼn boer en musikant wat hom gereeld in die middernagtelike ure wakker gemaak het om vir die gesin te sing.

“Ek het na skool op skepe en in Spanje gesing vir ondervinding en was deel van ʼn musiekskool in die Kaap. Alles het my gelei tot hier waar ek nou sit.”

Die tweede seisoen van Die Kontrak skop eersdaags af. Wilha se raad aan voornemende deelnemers is om ten alle tye hulleself te wees.

“Daar is ʼn kontrak aan die einde van die reeks wat een persoon se lewe vir altyd gaan verander. Dit is belangrik dat deelnemers konsekwent moet wees in wie en wat hulle is. Bly 100% jouself en bly in jou baan. Moenie soos iemand anders probeer wees nie, want as die program verby is, moet jy weer jouself wees.”

Hy lag as hy sê sy ma verstaan nou eers, vier jaar later, sy besluit om nie na die plaas toe terug te keer nie en in Gauteng sy brood en botter te verdien.

“Dit was ʼn baie impulsiewe besluit, maar ek is nie vir ʼn oomblik spyt nie. Ek was op die lughawe en ek het net geweet ek moenie vertrek nie. Ek het gedoen wat ek kon in die bedryf totdat Die Kontrak oor my pad gekom het. Daarom weet ek nou, alles gebeur met ʼn groter doel.”

  • “Ek sal jou weer kies” is op alle digitale platforms beskikbaar.
  • Luister ook na die volledige onderhoud met Wilha boaan hierdie artikel.
  • Luister op een van dié platforms na “Ek sal jou weer kies”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.