Luister: Ilne Fourie hou spieël op oor boelies in skole

Ilne Fourie kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Lank voor gehore vir Ilne Fourie as die sagte en sorgelose Marietjie in die verhoogkomedie Laerskool Noord leer ken het, het sy al vir lekkerlag-oomblikke in produksies soos Sjarrap en eet jou kos!, ValenPYNsdag, en Vettie BoemBoem gesorg.

Een van die gewildste komedies uit haar pen was die-hoe-se-wie-se-wat-nou-weer wat sy spesiaal vir die geliefde akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster geskryf het.

Ilne het in 2013 vir dié teks die prys vir beste Vrystaatse Kunstenaar by die Vryfees (nou bekend as die Vrystaat Kunstefees) ontvang. Dit is maar net een van die talle teaterpryse wat sy al vir haar skryfwerk en toneelspel gewen het.

“Ek dink ek het per ongeluk in komedie beland,” vertel Ilne lighartig in Maroela Media se ateljee.

Sy wag ʼn oomblik en sê dan dat dit waarskynlik iets is wat op skool begin het. “Om gewild te wees, moet jy iets hê wat jy na die tafel toe bring. Jou pa moet ryk wees, julle moet die slaghuis op die dorp besit, of jy moet in die skool se eerste span speel. Ek het nie een van daardie goed gehad nie, maar ek kon snaaks wees en mense het dit geniet.

“Mettertyd het ek so verlief op komedie geraak. Ek het geleer dat dit ʼn vaardigheid is wat jy moet aanleer om mense te lees, en ek het besef dat humor nie vir almal dieselfde is nie.”

Wat Ilne hoop om reg te kry, is dat mense tydens die vertoning heerlik sal lag en agterna oor die storie sal nadink. “Ek wil vir mense ʼn spreekwoordelike kospakkie pak en saamstuur. Dit moenie net ʼn sakkie spookasem wees nie.”

In Laerskool Noord speel Ilne saam met Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck die rolle van drie uiteenlopende onderwyseresse wat ʼn verrassingsafskeidspartytjie vir hul uittredende skoolhoof beplan. Dié produksie is al twee jaar op die planke, en word tans vir oulaas by die Centurion Teater in Pretoria opgevoer.

Hierna werk Ilne volstoom aan haar debuutproduksie, Ken jy vir Dewie?, wat eersdaags by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees open. Die stuk speel in ʼn skoolomgewing af en dit plaas veral die kollig op verskeie aspekte wat met boeliegedrag verband hou.

Dit is nie om dowe neute dat Ilne die onderwysmilieu as agtergrond vir haar teaterproduksies gebruik nie. Sy het in ʼn onderwyshuis grootgeword, self ʼn hoëronderwysdiploma voltooi en ʼn ruk lank skool gegee.

“Ek het ʼn groot liefde vir kinders en tieners. Dit is miskien omdat ek self op skool geboelie is,” vertel Ilne. “Toe ek jonk was, was daar wel nie iets soos selfone en TikTok nie, en daarom dink ek boeliery is vandag soveel erger as destyds.

“Dit is regtig ʼn swaar stuk, en ons bied dit in die vorm van intieme teater (immersive theatre) aan. Die gehoor gaan binne ʼn skoolsaal sit en werklik deel word van die omgewing waarin dit afspeel.”

Die vraag wat Ilne met hierdie stuk vir die samelewing stel, is tweeledig. “Dit sinspeel eerstens op Dewald, oftewel Dewie, se ideaal. Hy droom daarvan dat iemand hom moet raaksien en dat almal oor hom praat. In die tweede plek gaan dit daaroor of ouers werklik hul kinders ken.”

Ken jy vir Dewie? se rolverdeling bestaan uit Crystal-Donna Roberts, Robert Jindley en Joshwin Dyson. Die produksie word in samewerking met KKNK, Suidoosterfees en Momentum Beleggings Aardklop aangebied.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Ilne Fourie. Sy gesels in Maroela Media se ateljee oor haar grootwordjare in die Karoo, die ontwikkeling van haar loopbaan en hoe sy dit ervaar om in Kaapstad te bly.
  • Laerskool Noord word Donderdag 7 Maart en Vrydag 8 Maart om 19:30 by die Centurion Teater in Pretoria aangebied. Klik hier om kaartjies op Quicket te bespreek.
  • Ken jy vir Dewie? maak op 23 Maart sy debuut by die KKNK. Besoek die KKNK se webwerf om meer hieroor te wete te kom.

Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.