Rouel Beukes oor voorreg van pa, oupa wees

Rouel Beukes. (argieffoto)

Die operasanger en akteur Rouel Beukes is nie net ’n geliefde figuur in die Afrikaanse vermaakbedryf nie, hy staan ook die skoene van pa en oupa in sy familie vol.

In sy kenmerkende diep stem het hy aan Maroela Media vertel dat sy dogter, die aktrise en aanbieder Nadia Beukes, nie net op hom trots is nie, maar dat hy netso trots op haar is.

“Ek het as operasanger en akteur baie weg van die huis af gewerk, my vrou het dikwels die leisels hanteer. Ons kinders het baie onafhanklik grootgeword.”

Beukes, die pa van twee, staan sterk in die feit dat hul kinders met vryheid grootgeword het en dat hy en Eureke, sy vrou, hulle bloot in die regte rigting gelei het.

Hy gesels graag oor Nadia, hoe trots hy op haar is en die goeie verhouding wat hulle het.

“Sy was maar nog klein toe sy saam met my teater toe begin kom het. Ons het geoefen en sy het met groot oë tjoepstil gesit en kyk.”

Dié pa-en-dogter-span het jare gelede tydens die musiekblyspel Ons vir jou die verhoog gedeel, iets waarna Beukes met liefdevolle herinnering terugkyk.

Hy bieg dat hy nie gedink het dat hy ooit gereed sou wees om in die skoene van ’n oupa te klim nie. Sy seun, De Villiers, en sy gesin bly tans in Australië. Hy is dankbaar vir video-oproepe sodat hy tog op ’n manier sy kleindogter, wat amper vyf jaar oud is, kan sien grootword.

“Daar is iets spesiaal daaraan om ’n naamgenoot te hê,” vertel hy oor sy kleinseun, Joshua Samuel. Dié is Nadia en David de Villiers se tweede seuntjie en hy is na sy oupa vernoem aangesien Beukes se volle name Rouel Samuel Beukes is.

Die 67-jarige akteur is nog aan’t sing en beplan nie om die mikrofoon gou neer te lê nie.

Beukes, wat tans in die Kaap besig is met ’n opera, is dankbaar dat hy steeds kan doen waarvoor hy lief is. Hy is trots op die feit dat hy en sy dogter in die vreugde van die teater kan deel.

“Sy speel tans in Die Gelofte. Dit is ’n wonderlike voorreg om te kan doen wat ons doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.