TikTok-sensasie Wynand Kotze vertel oor eenmanproduksie en internet

 

Wynand Kotze (Foto: verskaf)

TikTok-ster, Wynand Kotze oftewel Wynvirdiepyn, is tans besig om met sy soloproduksie Tiektok deur Suid-Afrika te toer.

Die komediant het besluit om die jaar wat hy nou al op die internet as vermaaklikheidspersoonlikheid is te vier deur vir ’n wyle die Kaap vir ’n paar dorpe en stede in die Noorde te verruil.

Kotze het by Maroela Media in die ateljee kom kuier om meer vertel oor sy lewe, ervarings op die internet en hoe hy die berge wat hy al in sy lewe moes klim in molshope omskep het.

Kotze, gebore en getoë in Vanrhynsdorp aan die Weskus, het op die ouderdom van 21 aan die Universiteit Stellenbosch drama begin studeer. Hiervoor het hy geld bymekaar geskraap deur lootjies te verkoop.

“’n Boer in die dorp het vir my ’n skaap geskenk en ek het R10-lootjies daarvoor verkoop. Ek het op die ouderdom van 18 by ’n radiostasie begin werk en alles gedoen wat die res nie wou doen nie.”

Hy kon egter net een jaar bekostig, en moes vir twee jaar weer gaan werk om vir die res van sy studies te betaal.

Tydens die inperking het hy besef dat hy ’n uitlaatklep nodig het, en dié het hy op die video-platform TikTok gevind.

“Ek het mense gesoek om mee te praat. Daar was nie verhoë nie. Daar was skaars flieks en reekse wat gemaak is, want ons kon nie op stel funksioneer nie.”

Kotze het sy gehoor TikTok met kort video’s wat reguit en snaaks is, vermaak en gou ʼn groot aanhang gehad. Hy het egter ook vinnig kennis gemaak met die negatiwiteit wat bekendheid op die internet ook teweegbring.

“Aan die begin was daar elke dag ʼn paar lelike stukkies kommentaar op my video’s, nou is daar net so vier per week. Kom ek sê jou wat, dit sal my seerder maak as dit iemand is wat ek ken, wat iets vir my sê waarvan ek nie hou nie. Vreemdelinge op die internet gaan my nie ontstel nie.

“Ek het lankal besef dat ons ʼn beperkte hoeveelheid tyd op die aarde het. Vir my om bekommerd te wees oor lelike kommentaar is ʼn totale mors van my tyd. Wat my raak is régte dinge soos hoe dit met my ma gaan? Is my ma gesond? Hoe gaan dit met my vriende?”

Hy het van jongs af geweet dat hy vir iets groter bestem was as dit wat hy tot op daardie punt geken het.

“Vandat ek ʼn jong laaitie was, wou ek stories vertel. Ek het geweet wat my roeping was en is. Ek wou eerstens mense gemaklik laat voel met hulself – deur die feit dat ek gemaklik is met myself. Ek het ook geweet dat ek ʼn gawe het om mense te laat lag. Die ding van humor is dat dit mense laat vergeet. As jy kan lag oor iets, beteken dit dat jy dit oorleef het.

“Ek het geweet my lewe is groter as wat ander mense my wou laat glo. My lewe is groter as my omstandighede, en ek wou daardie roepstem gehoorsaam. Ek is nog nie waar ek wil wees nie, maar ek weet ek het ʼn verantwoordelikheid om mense wat nie gesien voel nie, gesien te laat voel.”

Kotze beskryf homself as ʼn spieël en ʼn deur. “Dis daardie cliché van jy hou ʼn spieël op vir mense. Nou ek wil ʼn spieël ophou, maar ook ʼn deur. Jy kan deur hierdie deur loop tot in ʼn wêreld wat jy nie noodwendig verstaan nie – maar ek wil ook mense aanmoedig om bietjie vir hulself te lag.”

Humor is ʼn ongelooflik belangrike aspek van Kotze se lewe.

“Jy kan nie so ernstig wees oor alles nie. Ons is in hierdie seisoen wêreldwyd eintlik, maar veral in Suid-Afrika, waar mense nie meer lag nie. Mens kan sien as iemand iets plaas op die internet, dat mense hul sin vir humor verloor het en dis vir my ʼn tragedie.”

* Wynvirdiepyn kuier op 4 Februarie in Meyerton, op 5 Februarie in Potchefstroom, op 7 Februarie in Port Elizabeth en op 28 Februarie in Kaapstad. Lesers kan kaartjies vir die vertoning op www.wynvirdiepyn.com bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.