Buitelanders kan ook nou die kassie aansit en kuier saam met bekende Suid-Afrikaanse gesigte soos Riaan Cruywagen en Jan Braai.
kykNET Internasionaal op ShowMax bied kykers in die buiteland die geleentheid om binne een dag ná uitsending hier na al die lekkerste Afrikaanse programme te kan kyk op ʼn rekenaar, slimfoon of tablet.
ShowMax is Afrika se grootste aanlyn-televisiediens in terme van inhoud, en bied kykers onbeperkte toegang tot meer as 12 000 episodes van die beste plaaslike reekse en flieks uit Suid-Afrika teen US$8.99 (ongeveer R138) per maand.
Buitelandse kykers kan voortaan ook wors braai saam met Jan Braai en byhou met die dokters se dramas in Binnelanders. Vir die jongspan is daar oulike Afrikaanse stories soos Maja die by en Tjiff & Tjaff en ʼn verskeidenheid Afrikaanse flieks is ook beskikbaar.
ʼn Subskripsie by ShowMax laat kykers toe om op twee skerms gelyktydig te kyk en tot vyf verskillende toestelle te registreer. Die diens is ook beskikbaar op enige slimfoon, tablet, persoonlike rekenaar, skootrekenaar asook Samsung en LG Slim TV-stelle.
Kykers kan ook soveel as 25 episodes asook flieks aflaai met die ShowMax-app en dit vir 30 dae hou.
Die diens bied ʼn sewedag-proeflopie. Besoek ShowMax se webwerf.