Alles wat jy van ‘Die Real Housewives van die Wynlande’ se reünie-episodes moet weet

Hooffoto: Anita Lloyd, Amy Klein hans-Curd, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl gaan die Wynlande op hol hê. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die kykNET-werklikheidsreeks, Die Real Housewives van die Wynlande, gaan binnekort finaal beklink word tydens die laaste twee reünie-episodes wat op 13 en 20 Julie uitgesaai word.

Kykers gaan vir Amy Kleinhans-Curd, Mariska Thorpe, Karen Schwentke, Candice Bester, Michelle van Zyl en Anita Lloyd ná drie maande se dramabelaaide episodes vir eers moet groet, maar gelukkig los dié ses vroue klaarblyklik die beste vir laaste.

Die reünie-episodes van die Housewives-franchise is daarvoor bekend dat dit geleentheid vir die huisvroue bied om hul laaste sê te sê oor enige bespiegelinge en opmerkings in hul videodagboek-opnames.

Natuurlik bied dit ook die perfekte geleentheid om ou koeie uit die sloot te grawe …

Hier is wat jy alles van Die Real Housewives van die Wynlande se reünie-episodes moet weet:

Armand Aucamp gaan die vrede probeer bewaar

Armand Aucamp wat nie net voor die kameras as akteur en aanbieder werk nie, maar ook kookboeke skryf en vir die maatsoek-app Koer verantwoordelik is, sal die gesprek lei en as aanbieder van die reünie optree.

“Om gevra te word om die gasheer te wees, was ’n enorme voorreg. Kykers kan uitsien na ’n perfekte einde van ’n omstrede, maar baie gewilde reeks. Daar is hittige oomblikke, oorgenoeg humor, maar ook deernis en versoening; ’n dieper verstaan van wie en wat ons is. Dit wys net weer dat ons met sagter harte met mekaar moet omgaan.”

Die reünie is verfilm in die hartjie van die wynlande

Die reünie-episode is by Haute Cabrière in Franschhoek verfilm. Haute Cabrière is onder meer die tuiste van Pierre Jourdan, een van Suid-Afrika se voorste Méthode Cap Classique-vonkelwyne, en is vernoem na die Franse hugenoot wat die plaas in 1694 gevestig het.

Dié wynplaas was volgens die produksiespan die perfekte keuse vir hierdie spesiale episodes aangesien die wynlande self so groot rol in die prag en praal van die reeks gespeel het.

Snoesig, tog stylvol

Die stilering van die program dra natuurlik by tot die glans.

“Ons het besluit ons wil ’n winter-, maar stylvolle, voorkoms hê,” sê Efraine du Toit, hoof van die stilering- en grimeerspan.

“Dit was belangrik dat die vroue gemaklik moes voel. Ons het werklik vir elkeen probeer gee waarin hulle die beste en glansrykste sou voel. Ek glo ons het dit goed reggekry.”

Een huisvrou kon nie verfilming van die reünie-episodes bywoon nie

Karen kon ongelukkig nie die reünie-episodes bywoon nie aangesien sy ’n week voor die verfilming haar sleutelbeen gebreek het en boonop eers ’n dag voor die verfilming uit die hospitaal gekom het.

Kykers kan egter steeds uitsien om haar kant van sake te hoor danksy ’n filmspan wat by haar huis opnames vir die reünie gedoen het.

Waaroor word daar nog gepraat?

Sedert verfilming van die reeks tot ’n einde gekom het, was daar steeds ’n paar onopgeloste onderonsies tussen sekere van die huisvroue wat hier bespreek gaan word, onder meer Amy se opmerking teenoor Anita in Mauritius, Mariska en Karen se herhaaldelike woordewisselings, sowel as Candice se gevoel oor Michelle se “buie”.

Michelle praat openhartig oor die beweerde skeiding in die groep en Mariska verklaar haar opmerkings oor Michelle se podsendingreeks.

Natuurlik word daar aan die drama met Karen by Enigma-huis herkou en die wegbreeknaweek in Hoedspruit kom ook onder die loep.

  • Die Real Housewives van die Wynlande se laaste twee reünie-episodes word op 13 en 20 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is beskikbaar op DStv Catch Up.
  • Kyk Maroela Media se video van die bekendstelling van dié reeks hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.