Bekende gesig is nuwe ‘Ontbytsake’-aanbieder

Charlene Lackay is die nuwe aanbieder van ‘Ontbytsake’ op kykNET. (Foto: Verskaf)

Charlene Lackay née Truter, welbekend in die land se nuus- en mediakringe, vervul eersdaags ʼn splinternuwe rol in die aanbiederstoel van die kykNET-program, Onbytsake.

Charlene is ’n media- en maatskaplikebeleggingspesialis en ook ’n ervare TV-aanbieder. Sy sluit op Saterdag 3 Junie by Dawie Roodt, Leon Gropp en Corli Prinsloo in die Ontbytsake-ateljee aan.

“Ek sien uit na die opwinding. Dit gaan lekker wees om in ’n span te werk en elke week ’n verskeidenheid mense wat hulle passies uitleef, ondernemings bou en werk vir ander skep, te ontmoet,” sê Charlene.

Sy glo haar nuuskierigheid is een van die dinge wat sy na die Ontbytsake-tafel bring.

“Ek stel belang in mense. My beste tye voor die kamera was wanneer ek gaste kon ondersteun om hulle plek in die son te vind. Ek sien uit daarna om oor mense se suksesse en belewenisse te gesels.”

Charlene se wortels lê in die Boland waar sy in die Paarl gematrikuleer het en later ’n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Charlene Lackay. (Foto: Verskaf)

Haar medialoopbaan het as joernalis by SARIE begin en sy was later subredakteur by Die Burger in Kaapstad. Charlene het ook as vryskutskrywer en vertaler vir verskeie publikasies gewerk.

In 2003 het sy as veldaanbieder by die SABC-joernaalprogram, Pasella, begin werk, wat haar die geleentheid gegee het om die land plat te reis.

“Daar is min kerke of stadspleine in die land waar ek nié voor ’n kamera was nie,” sê sy.

Charlene het ook lesse in klassieke sang by die Konservatorium op Stellenbosch geneem. Haar eerste verhoogoptrede, saam met Jannie du Toit en Christa Steyn, was in Nagkantoor, wat oor die lewe van Koos du Plessis gegaan het.

In 2013 het Charlene, ná die geboorte van haar eerste kind, begin met ’n kort radioprogram op RSG, Brabbeltyd, wat oor baba- en kleuterdinge gehandel het.

Sy het later ook nuus gelees en deel van die RSG-span op ’n Sondagoggend geword.

Charlene is ook sedert 2013 die groephoof van die afdeling vir volhoubaarheid by Momentum Metropolitan en woon in Pretoria saam met haar man en twee dogters.

“Ek sien uit daarna om ons ryke skatkis van kunstenaars te leer ken, want soos ons almal weet: Afrikaanse musiek en kultuur ontplof!”

Ontbytsake saai elke Saterdag om 07:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 08:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.