‘Binnelanders’ se Elise: ‘Die helingsproses is nou volsirkel’

Lindie Stander. (Foto: kykNET)

Die aktrise Lindie Stander was op die kruin van haar loopbaan as aktrise in 2012 toe sy, tot aanhangers se groot teleurstelling, sonder waarskuwing uit die gewilde kykNET-sepie Binnelanders verdwyn het.

Sy het die rol van suster Elise Kruger vertolk – ʼn rol waarvoor dié gesoute teateraktrise in 2011 ʼn gesogte ATKV-mediaveertjie ingeoes het.

Agt jaar later is sy terug op die stel van Binnelanders en maak Elise weer vandag (Woensdag) haar onverwagse opwagting in Binneland, maar dié keer is sy ʼn mediese verteenwoordiger wat kom en gaan uit Binneland.

Ja, gee Stander toe in ʼn onderhoud met Maroela Media, sy het destyds Binnelanders onder ʼn donderwolk verlaat toe sy geestelik die laagste punt in haar lewe bereik het. Sy moes vele struikelblokke oorkom, veral uitdagings van ʼn persoonlike aard.

Sy het uit Johannesburg gevlug en ʼn nuwe lewe langs die see gebou, waar sy tot vandag as hoof van die dramadepartement van ʼn privaat skool op Langebaan werksaam is.

“Ek het so half my wonde kom lek hier in Langebaan. Ek het uiteindelik besef dat ek myself moet regruk en dat niemand my gaan red nie – ek moes myself red. Ek het dit gedoen met vars lug en sonskyn en ʼn wind wat jou met tye wegwaai. Ek het besef ek moet volwasse raak en dat ek na myself moet omsien,” vertel Stander.

“Ek was op daardie stadium my eie grootste vyand. Ek moes herdefinieer wie ek is, want ek het niks meer gehad om aan die wêreld te bewys nie. Ek het foute gemaak en roekeloos geleef. Ek klink dalk hard op myself, maar dit was die enigste manier hoe ek lewenslesse kon leer.”

Lindie Stander en Cindy Swanepoel in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Stander vertel haar jong studente op Langebaan is haar behoud. “Sedert ek met die kinders werk, het ek begin agterkom daar is soveel meer aan die lewe en dat ek ʼn verskil kan maak. My verhoudings met my studente verskaf my soveel vreugde en ek koester dit.”

Stander erken egter dat sy senuweeagtig was om byna ʼn dekade later terug te keer na die Stark-ateljee in Johannesburg waar Binnelanders geskiet word.

“Ek het ʼn bietjie vrees gehad om terug te gaan, veral omdat ek op so ʼn laagtepunt daar weg is. Aan die anderkant was dit ook asof die helingsproses ʼn volle sirkel gemaak het. Dit was ʼn berg van my skouers af om te kan weet ons is hierdeur. Dit het agt jaar geneem, maar ons is hierdeur.”

Sy bieg dat dit oorweldigend was om ná so ʼn lang tyd weer Elise se skoene vol te staan, maar dat sy ʼn ongelooflike ervaring op die stel gehad het.

“Ek is stomgeslaan oor die ope arms waarmee ek verwelkom is – van die ouer garde, van wie daar ʼn handjievol oor is, tot die nuwer spanlede saam met wie ek nog nie vantevore gewerk het nie. Ek het op dag een reeds vriende gemaak en is met soveel respek en deernis behandel.

Lindie Stander saam met Je-Ani Swiegelaar, Ilne Nienaber en Lindsey Abrahams in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Dit was soos ʼn fantastiese déjà vu. Ek het nooit gedink die dag sal weer kom dat ek op daardie ateljee se vloer kan stap as Elise Kruger nie. Onthou, ek het nooit werklik afskeid geneem nie omdat ek so vinnig daar weg is en om terug te wees op die stel het dié jarelange rouproses finaal afgesluit.”

Baie water het sedert haar laaste verskyning in die sepie in die see geloop en kan sy weer lag en ook ander laat lag.

“Dit is hoofsaaklik Elise se doel in Binnelanders. Sy verskaf die komiese verligting. Die karakter is dus nie op die oomblik deel van enige ernstige storielyne nie,” verklap sy.

“Dit is lekker om weer lewe te gee aan ʼn karakter wat so tuis in my vel gesit het en in wie se skoene ek lanklaas geloop het. Dit is soos om ʼn ou vriendin raak te loop, maar dié keer pas hulle mekaar net beter op.

“Ek is tans baie gelukkig. Ek het uiteindelik iemand ontmoet van wie ek baie hou – haar naam is Lindie Stander.”

Binnelanders is weeksaande om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louis ·

Wonderlik, ek het belangstelling in Binnelanders verloor toe sy die stel verlaat het. Kon my oe nie glo toe sy uit die bloute op die stel verskyn gisteraand. Ek het toevallig gekuier by familie en die TV aan was. Sommer lus om weer te kyk. Daar is maar 1 Elize Kruger.

Louise ·

Kan nie wag dat sy weer deel word van die binnelanders nie, sy was nog altyd my gunsteling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.