‘Ek het geglo ek kan – so ek het,’ sê ‘Survivor SA’-wenner

Robert Bentele reageer nadat hy as die wenner aangekondig is.

Direk nadat Robert Bentele (28) gisteraand as die wenner van Survivor SA se sewende seisoen aangewys is, het hy aan Maroela Media gesê hy het gewen omdat hy van die begin af geglo het hy kan.

“Iets waaraan ek altyd glo, is dat jy moet visualiseer wat jy wil hê. Ek het probeer om slegs te dink aan hoe ek die spel wen. So vandat ek in die spel ingekom het, het ek gevisualiseer hoe ek wen – en dit het my realiteit geword.

“Veral toe ek daardie finale uitdaging gewen het, het ek geweet ek gaan die spel wen. Die wen was in my kop van die begin af,” sê hy.

Rob sê wel hy het begin sweet toe hy sien hoeveel stemme Nicole gekry het. “Almal het van die begin af geweet ek wou saam met iemand wat die titel van Survivor SA waardig is na die einde toe gaan, en Nicole het ʼn fantastiese spel gespeel. Dit was nie ʼn uitgemaakte saak dat ek sou wen nie, want sy het ʼn baie goeie kans gestaan, maar ek het die beste gedoen wat ek kon. Ek sou niks aan my spel verander nie.”

Robert Bentele

Hy het ook baie van homself geleer in die spel, soos om elke deel van sy persoonlikheid te omarm, eerder as om dit te probeer onderdruk.

“Ek studeer al vir baie lank spiritualiteit, en ek het aanvanklik gedink jy moet jou ego laat vaar om spiritualiteit te kry. Maar op Survivor het ek geleer om alles te omarm, self die dele van my wat mense kan beheer en manipuleer. Ek het geleer om myself te aanvaar soos wat ek is,” sê hy.

Buiten die R1 miljoen-prysgeld wat Rob as wenner van vanjaar se seisoen kry, het hy ook met ʼn nuwe motor weggery nadat hy as die publiek se gunstelingspeler aangewys is.

Hy is dankbaar dat hoe hy op televisie uitgebeeld is, ʼn ware weerspieëling is van wie hy is.

“Die spel en realiteit word vermeng op die eiland, maar my kop was 100% in die spel. En ek is dankbaar vir die manier waarop hulle my op kamera gewys het, want hulle het regtig my storie vertel,” sê hy.

Robert Bentele

“Ek het kante van myself gesien wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Ek het besef waartoe ek in staat is as ek in ʼn hoek gedruk word. Die omstandighede waaronder mens op die eiland lewe, is nie normaal nie, en jy sien dán hoe diep jou wil is om te veg.”

Rob sê hy is nog glad nie uitgeëet aan kokosneute nie, en dat hulle eintlik steeds vir hom heerlik is. Rob het 16 kg op die eiland verloor, en sedertdien weer 14 kg opgetel. Laetitea het 10 kg verloor en 5 kg weer opgetel, terwyl Nicole 13 kg verloor het en weer 8 kg opgetel het. Durão het 18 kg verloor en daarna 24 kg opgetel.

Hoewel Rob nog nie wil verklap wat hy met sy R1 miljoen-prysgeld gaan doen nie, wil hy in die toekoms meer werk voor die kamera doen.

“Ek het besef ek geniet dit om voor die kamera te wees en om mense te vermaak, so ek wil graag daarmee aanhou. Om werk soos Nico [Panagio] (die aanbieder van Survivor SA) te doen, sal vir my fantasties wees.”

Survivor SA het nog nie aangekondig of hulle vir ʼn agtste seisoen hernu is nie, maar het gesê dat die kykertalle van die sesde seisoen tot die sewende seisoen met 50% gegroei het, en dat hulle hoop op die geleentheid vir nog ʼn seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frenette Gottschalk ·

So bly Rob het gewen, ek het persoonlik niks can Nicole gehou nie en was verbaas oor die baie stemme wat sy gekry het! Wel gedaan Rob!

Chanel ·

Ek is in ‘n manier bly dat Rob gewen het, Hy het die game baie goed gespeel. Maar ek sal daarvan gehou het as Laetitea kon gewen het. Maar after all verdien Rob om tewen, maar ek glo tog die Here voorsien waar hy moet sorg en dat alles met ‘n rede gebeur.

Stukkie ·

Joh, daai Rob is darem maar ‘n stukkie vleis. Sal nie mind om hom vir ete te nooi nie.

San ·

Baie bly Rob het gewen. Hy het ń uitstekende spel gespeel. Leatitea is baie oulik, maar sy was volgens my ń sluiper- nie” gameplan” gehad. Welgedaan aan almal.

Derick ·

Love him or hate him, hy het out last, out wit and out play, en gewen …… geluk Rob

Stephanie Tredoux Malian ·

Ek is so spyt hy het gewen. Ek wou ook nie gehad het Nicole moet wen nie, eerder Laetitia dan. Rob en Nicole is agterbaks en vals. Nie mense met wie ek geassosieer wil word nie, maar dan aan die ander kant voel hul n veer vir my opinie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.