Heerlike pryse op die spel vir nuwe dorp van die jaar

Hannes van Wyk (Kwêla se aanbieder), Maryke Hayward (Bemarkingshoof van Lottoland) en Waldimar Pelser (M-Net Direkteur van Premium-kanale). (Foto: verskaf)

Dit is die dorp met die lekkerste gebak, die beste slaghuis en die mooiste skatte; ’n dorp uit die boonste rakke, ’n plek waar jou hart tuis voel, ’n dorp waar gasvryheid seëvier.

Kwêla se gewilde Dorp van die jaar-kompetisie het pas afgeskop en bied enigeen die geleentheid om hul gunstelingdorpe te benoem.

Die wendorp sal R1 miljoen kontant geborg deur Lottoland, lugtyd ter waarde van R1 miljoen in die vorm van ’n advertensie, en ’n fees of musiekkonsert wen.

Wie kwalifiseer?

Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit minder as 500 000 inwoners het en nie die afgelope twee jaar ’n streekswenner was nie. Dié dorpe sluit Greyton, Upington, Senekal, Koster, Wakkerstroom, St. Lucia, St. Francisbaai, Hoedspruit, Gochas, Kroonstad, Montagu, Calvinia, Glencoe, Haenertsburg, Keetmanshoop, Cullinan, Graaff-Reinet en Pelgrimsrus in.

Vorige wendorpe mag vir ses jaar ná hul oorwinning nie weer deelneem nie. Mosselbaai, Jeffreysbaai, Swakopmund, Kareedouw, Greyton en Kroonstad is op dié lys.

Daar sal uit die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Namibië en Gauteng en Noordwes saam gekies word.

Hoe werk dit?

Jy kan jou gunstelingdorp benoem deur die dorpsnaam na 33157 te SMS teen R1,50 ’n SMS. Die kompetisie open op Sondag 5 Maart om 18:00 en sluit weer op Vrydag 17 Maart om 12:00.

Die hoeveelheid dorpies wat ’n individu kan benoem word nie beperk nie, elke benoeming moet egter deur onderskeidelike benoemings geskied.

Daar sal drie dorpe uit elke streek na die halfeindronde op 15, 23 en 30 April deurdring. Daarna stem die publiek weer, met 30 SMS’e wat per unieke selnommer toegelaat word. Daarna sal ’n wendorp van elke streek aangewys word, waarna dié dorpe na die eindronde van die kompetisie sal deurdring.

Kwêla sal ’n insetsel in elkeen van die nege dorpies wat die eindronde haal  kom verfilm.

Die Dorp van die jaar word op 30 Julie 2023 op Kwêla bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.