Hollywood: Eerste kyk na ‘The Crown’ se slot-episodes, musieklegendes ná dekades steeds op trefferlyste

‘n Jonger Kate en William pronk op ‘n nuwe plakkaat vir ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown Netflix)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

The Crown deel spogfoto’s van finale seisoen

Dit is amper tyd vir (die fiktiewe) William en Kate om in die koninklike kollig op The Crown te tree.

Dié Netflix-trefferreeks maak eersdaags sy finale buiging ná ses dramabelaaide seisoene en het onlangs lusmakerfoto’s van die tweede deel van sy slotseisoen gedeel.

Hier is die tienerprins William die middelpunt waar hy aanpas by sy nuutgevonde bekendheid terwyl hy steeds treur oor sy ma, prinses Diana, se dood.

Prins William en Kate Middleton, nou die prins en prinses van Wallis, se ontmoeting en verhouding geniet ook baie aandag.

Die reeks foto’s gee ook ʼn blik op watter koninklike hoogtepunte kykers nog in die laaste aflewering kan verwag, insluitend koning Charles III en koningin Camilla se troue, die bekende modeparade waarin Kate haar prins se oog gevang het, en prinses Margaret, koningin Elizabeth II se suster, se finale jare voor haar dood in 2002.

Die eerste deel van The Crown se sesde seisoen is volgens Netflix vir 36 900 000 uur in die eerste drie dae ná sy bekendstelling gekyk. Die laaste ses episodes is vanaf 14 Desember op die stromingsreus te sien.

Dié twee ikone dans ná dekades steeds op trefferparades

Die country-koningin Dolly Parton en disco-diva Cher se stemme gaan klaarblyklik nog lank nie rus nie.

Parton se jongste album, Rockstar, is pas uitgereik en is die 77-jarige se 49ste ateljee-album.

Die album het sy buiging bo-aan die Billboard-trefferlyste van topcountry en toprock-en-alternatiewe album gemaak en beklee ook die derde plek op die Billboard 200-trefferlys, net na kletsrymer Drake en popprinses Taylor Swift.

Dit is Parton se hoogste posisie ooit op dié ranglys.

Cher het op haar beurt vir ʼn sewende agtereenvolgende dekade ʼn nuwe nommer-een-treffer op ʼn Billboard-trefferlys danksy haar jongste lied, “DJ Play a Christmas Song”.

Dié enkelsnit is die eerste uitreiking van haar eerste Kersfeesalbum, eenvoudig getiteld Christmas.

Inskrywings stroom in vir nuwe Karate Kid-rol

Duisende belowende jong akteurs gaan moet vuisslaan, oftewel “wax on, wax of”, om te sien wie die hoofrol in die nuwe Karate Kid gaan vertolk.

Maroela Media het vroeër berig dat Ralph Macchio, wat die rol van Daniel Russo in die oorspronklike Karate Kid-rolprente vertolk het, en Jackie Chan, wat later die rol van Mr. Han in die 2010-weergawe van dié fliek gespeel het, onlangs mense reg oor die wêreld in ʼn videoboodskap genooi het om hul oudisies vir dié nuwe rol in te stuur.

Ralph Macchio en Jackie Stan gaan in ‘n nuwe aflewering van “Karate Kid” te siene wees. (Foto’s: Instagram)

Volgens die webwerf vir die rolverdeling, soek die span iemand van Chinese of van gemengde Chinese-afkoms in die ouderdomsgroep van 15 tot 17 jaar oud.

Meer as 10 000 inskrywings het binne 24 uur nadat die video opgelaai is, van die VSA, Kanada, die VK, Indië, Australië, Singapoer, Finland, Swede en selfs Suid-Afrika ingestroom, aldus The Hollywood Reporter.

Die eerste Karate Kid-fliek is in 1984 uitgereik, met opvolgrolprente wat onderskeidelik in 1986 en 1989 gewys het. Hilary Swank was in die 1994-fliek, The Next Karate Kid, as Ralph se opvolger te siene.

Die jongste Karate Kid-fliek sal na verwagting op 13 Desember 2024 in teaters verskyn.

Bekendes skitter op rooitapyt vir Beyoncé-konsertfliek

Beyoncé, Amerikaanse R&B- en popsanger, se langverwagte konsertfliek, Renaissance, het Vrydag fliekteaters wêreldwyd getref, maar Hollywood te topbekendes het reeds vir “Queen Bey” soos aanhangers na haar verwys, op die fliek se rooitapyt kom ondersteun.

Beyoncé en Taylor Swift op die rooitapyt. (Foto: X/@Beyoncé)

Die kletsrymer will.i.am, aktrise Blake Lively, asook Beyoncé se voormalige Destiny’s Child-medelid Michelle Williams het dié fliek se première in Londen bygewoon.

Taylor Swift, wat haar eie konsertfliek onlangs bekendgestel het, het ʼn glansryke verskyning in ʼn blink rok gemaak nadat Beyoncé Swift se première in Novembermaand ook ondersteun het.

Daar word verwag dat Renaissance lokketrekords wêreldwyd gaan laat spat.

Bronne: The Hollywood Reporter, E! News, Good Morning America, The Independant, AFP, Billboard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.