Hollywood: ‘Kissing Booth’-ster verloof; Adele, The Weeknd het grootste treffers van 2021

Joey King (Foto: Jesse Grant/ AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘The Kissing Booth’-ster verloof

Joey King, bekend vir haar rolle in The Act en The Kissing Booth, het die week bekend gemaak dat sy en die rolprentregisseur Steven Piet op 22 Februarie verloof geraak het.

Die paartjie het hulle verhouding in 2019 aan die publiek bekendgemaak nadat hulle saam op ʼn afspraak gesien is.

King het die nuus oor die verlowing op haar Instagram-blad gedeel, met die woorde: “Ek het nooit geweet dat ʼn persoon se teenwoordigheid jou tuis kan laat voel nie. Ek het nie geweet dat liefde so mooi kan wees nie.”

Die plasing het ʼn reeks pragtige verlowingsfoto’s bevat.

Adele en The Weeknd 2021 se topverkopers

Adele op die rooitapyt by die Brit-toekennings in Londen. (Foto: Niklas HALLE’N / AFP)

Die Britse sangeres Adele se nuutste album, 30, is 2021 se topverkoper. Daar is binne twee maande 5 miljoen kopieë van die langverwagte album verkoop.

Sy het Ed Sheeran, Olivia Rodriguez en The Weeknd verbygesteek en het volgens die Internasionale Federasie van die Fonografiese Bedryf (IFPI) (International Federation of the Phonographic Industry) die gewildste album van 2021 gelewer.

The Weeknd. (Foto: Facebook)

The Weeknd het egter die gewildste enkelsnit van die jaar gehad. Luisteraars wêreldwyd het sy liedjie Save your tears in 2021 meer as 2 miljard keer gestroom.

Kim Kardashian wettig enkellopend

Kim Kardashian West en Kanye op verlede jaar se Vanity Fair-partytjie. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Die realiteit-superster Kim Kardashian is vir die eerste keer in agt jaar ʼn enkelvrou.

Dit kom nadat sy in Desember aansoek gedoen het om van die kletsrymer Ye, beter bekend as Kanye West, te skei. Die twee moet egter nog hul bates verdeel en besluit oor reëlings vir toesig van hul vier kinders.

Kardashian (41) het ook tydens ʼn virtuele verhoor Woensdag haar naam wettig verander. Sy staan nou weer net as Kim Kardashian bekend, en nie meer as Kim Kardashian West nie.

Die gewese egpaar se name is op die oomblik meer in die media as ooit tevore. Dit kom na die aankondiging van hul egskeiding en ander verhoudings wat intussen deur die twee bekendes aangeknoop is.

Kardashian is sedert November verlede jaar in ʼn verhouding met die 28-jarige komediant Pete Davidson, terwyl West verbind is aan ʼn string ander bekende vroue.

 

Bronne: E! News, BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.