Hollywood: Miley se ma trou met ‘Prison Break’-akteur; akteurstakings bereik dooiepunt

Tish Cyrus en Dominic Purcell is getroud. (Foto: Instagram/@Vogueweddings)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Miley Cyrus, strooimeisie by ma, Tish, se troue

Tish Cyrus (56), ma van die sanger en Hannah Montana-aktrise, Miley Cyrus, het onlangs die jawoord vir akteur Dominic Purcell (53) gegee tydens ʼn intieme seremonie in Malibu, Kalifornië.

Tish het haar verlowing aan Purcell, wat veral bekend is vir sy rol as Lincoln Burrows in die gewilde televisiereeks, Prison Break, in Aprilmaand in ʼn Instagram-plasing aangekondig.

Dit is Cyrus se derde en Purcell se tweede huwelik.

Sy is in 1986 met Baxter Neal Helson getroud en die paartjie het twee kinders, Brandi en Trace, saam gehad voordat hulle in 1989 geskei het.

In 1993 is sy met die country sanger Billy Ray Cyrus getroud, waarna hy haar twee oudste kinders wettiglik aangeneem het. Die egpaar het saam drie kinders verwelkom, naamlik Miley, Noah en Braison.

Purcell en sy eerste vrou, Rebecca Williamson, het in 2008 geskei. Die paartjie het vier kinders saam.

Hollywood-skrywers steeds nie tevrede te midde van staking

Die jongste vergadering tussen Hollywood se stakende draaiboekskrywers en topbestuurders van stromingsreuse soos Disney, Universal, Warner Bros en Netflix het volgens die skrywersvakbond in ʼn doodloopstraat geëindig, berig AFP.

Dié staking het in Meimaand afgeskop en onderhandelinge het vroeër vandeesmaand hervat ná drie maande se stilte van die stromingsreuse se grootbase af.

Die partye is steeds in ʼn dispuut vasgevang en Disney, Universal, Warner Bros en Netflix se aanbod om lone te verhoog, werksomstandighede te verbeter en die gebruik van kunsmatige intelligensie tot ʼn mate te beperk, is Dinsdag deur die skrywersvakbond van die hand gewys.

“Ons is met ʼn lesing ontmoet oor hoe goed hul enkele en enigste teenaanbod was,” het die skrywersvakbond se onderhandelingskomitee in ʼn verklaring oor dié samesprekings gesê.

“Hierdie was nie ʼn vergadering om ʼn ooreenkoms te bereik nie. Dit was ʼn vergadering om ons in ʼn hoek te druk.”

Die skrywersstaking, wat sedert die middel van Julie met ʼn akteursstaking gepaardgegaan het, het ʼn groot deel van die rolprent- en televisiebedryf tot stilstand gebring, en dit kos Hollywood miljoene dollars per dag.

“Ons sal julle almal weer in die strate sien en die maatskappye laat sien hoe arbeidskrag lyk,” het die vakbond bygevoeg.

Verskeie kunstenaars sny bande met talentbestuurder Scooter Braun

Scooter Braun en Justin Bieber. (Foto: Xavier Collin/ NurPhoto via AFP)

Die talentbestuurder Scooter Braun se paadjies het onlangs met drie van sy bekendste kliënte geskei.

People het berig dat die sangers Demi Lovato en Ariana Grande, sowel as die Broadway-aktrise Idina Menzel, kort ná mekaar bande met Braun gesny het.

Braun het selfs die gek met homself in ʼn plasing op X (voorheen Twitter) geskeer en geskryf: “Brekende nuus … ek bestuur nie meer myself nie,” in reaksie op dié kunstenaars se aankondigings.

Nie Lovato, Grande of Menzel het redes vir hul besluit in die media verskaf nie.

USA Today het berig dat Braun en Justin Bieber, wat saamgewerk het sedert die sanger se loopbaan meer as ʼn dekade gelede afgeskop het, “maande laas gepraat het”.

Dit is nog nie bekend of dié twee amptelik van mekaar afstand gedoen het nie.

Braun het die afgelope paar jaar ook die media gehaal nadat die sanger Taylor Swift, wie se voormalige platemaatskappy hy in 2019 oorgekoop het, hom daarvan beskuldig het dat hy haar nie wou toelaat om die regte van haar eerste ses albums se musiek oor te koop nie.

Die “Anti-hero”-sanger is gevolglik genoop om dié albums weer op te neem in ʼn poging om eienaarskap van haar musiek terug te neem.

Serena Williams weer ma

Die tennisster Serena Williams en haar man, Reddit-stigter Alexis Ohanian, het onlangs hul tweede dogter, genaamd Adira River Ohanian, verwelkom.

Williams se man het dié nuus Dinsdag aangekondig en bygevoeg dat albei “gelukkig en gesond” is nadat die moeilike geboorte van die tennisster se eersteling haar om haar lewe laat veg het.

“Ek is dankbaar om te rapporteer dat ons huis gevul is met liefde, ʼn gelukkige en gesonde pasgebore babadogter en ʼn gelukkige en gesonde mamma,” het Ohanian op Instagram geplaas saam met ʼn foto van hom en sy gesin.

Bronne: People, AFP, USA Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.