Lea Vivier leef met empatie vir karakters, mense

Lea Vivier. (Foto: Jenni Elizabeth Photography)

Vir Lea Vivier is die lekkerste en mooiste uitdagings dié wat gepaard gaan met ingewikkelde karakters wat met ’n sterk sin van empatie en begrip aangepak moet word.

Deur die jare het dié aktrise haar op die Suid-Afrikaanse televisie kom tuismaak en droom nou daarvan om baanbrekerswerk in die plaaslike vermaakbedryf te doen.

Sy is bekend vir haar rolle in trefferrolprente en -reekse soos Legacy, Fynskrif, Wonderlus en Die spreeus.

Vivier (30) was onlangs in die eerste seisoen van die lighartige Showmax-reeks Troukoors te sien en het heerlik met Maroela Media hieroor en die res van haar loopbaan gesels.

Dié reeks was vir haar soos ’n vars asemteug in die vermaakbedryf.

“Die teks is kontemporêr, vars, jonk en nuut. Baie van die akteurs is ook gesigte waarmee ons nie so bekend is nie – dis lekker om nuwe bloed in die reeks te hê.”

Die aard van die reeks se temas beskryf sy as waaghalsig, en tog vernuwend.

“Die temas druk die grense van dít waaraan ons in die Afrikaanse vermaakbedryf gewoond is. Dit is opwindend.”

Hoewel dit vir haar lekker is om haar karakter in dié reeks met ’n ligte hand en hart aan te pak, geniet sy dit om karakters met ’n hoër vlak van emosionele ingewikkeldheid te vertolk.

Dié soort karakters moet sy dikwels met handskoene van empatie en begrip hanteer, iets wat sy glo noodsaaklik is wanneer jy probeer om in die skoene van ’n ander te klim.

“Ek dink die uitdagendste karakters is dié wat ingewikkeld is. Dié wat uiteenlopende aspekte van persoonlikhede het. Karakters wat alle aspekte van menswees ervaar en uitleef.”

Sy vertel ook dat sy dikwels stoei met karakters wie se morele waardes radikaal van haar eie verskil. Wanneer sy egter voor dié soort etiese kruispaaie te staan kom, onthou sy dat sy nie die karakter kan veroordeel nie.

“Wanneer jy die karakter se dade in die teks lees en amper nie kan glo waarom die karakter dit doen nie, is dit jou werk as akteur om jou karakter beter te probeer verstaan.”

Dié aanhoudende krap in haar karakters se menswees is iets wat ongetwyfeld deur haar lewe en verhoudings vloei.

Sy vertel dat sy as akteur al hoe meer haarself vang dat sy besig is om mense dop te hou. Hoe hulle reageer in verskillende omstandighede het ’n uitwerking op hoe sy haar karakters aanpak. Die empatie wat so maklik vir haar karakters gekweek word, het vermenigvuldig.

“Elke mens is ingewikkeld en vol teenstrydighede. Ons het as samelewing besluit wat reg en verkeerd is, maar ʼn mens kan altyd probeer verstaan van waar af iemand kom as jy na hul agtergrond kyk.”

Sy verduidelik dat die aard van haar beroep dikwels ’n klip in die pad rol wanneer sy met harde en veroordelende oë na mense probeer kyk.

(Foto: Jenni Elizabeth Photography)

“Jy weet dat as jy na hul agtergrond en omstandighede gaan kyk, gaan jy die optrede verstaan. Dit maak dit nie die regte optrede nie, en dit beteken nie dat jy self so sal optree nie, maar jy verstaan.”

Met elke stel karakterskoene waarin sy haar al bevind het, het sy gegroei. Een van die karakters wat vir haar die meeste groei teweeggebring het, was die een van Yola in die Showmax-gruwelreeks Dam.

“Sy is nie op haar mond geval nie en glad nie bang om te sê wat sy dink en voel nie. Sy is ’n ontsettend intuïtiewe, hardkoppige, sterk en aksiegedrewe karakter.”

Vivier is nie iemand wat maklik haar hand sal opsteek om ’n mening te lug nie; sy beskryf haarself as diplomaties. Die opinies wat sy wel hier en daar vorm, word gehou om met haar verloofde en vriende te deel.

“Hoewel die karakter party keer verkeerd was, vat dit ongelooflike waagmoed om te sê wat jy dink reg en verkeerd is en om uiting te gee aan wat jy glo.”

Sy erken egter dat die aard van die karakter en die reeks haar dikwels na ’n donker, emosionele plek geneem het. Na afloop van elke toneel, ongeag hoe dreinerend dit was, moet die emosies bloot afgestof word.

“Die eenheid waarin ons as akteurs werk, is emosie. Net omdat daar cut geroep word, beteken dit nie dat ons skielik ons emosies soos ’n rekenaar kan afskakel nie.”

Vivier het egter talle metodes wat sy gebruik om daardie karakters se skoenveters ʼn bietjie los te trek. Een van dié metodes is om weg te stap en te maak asof sy onder ’n stort staan wat die karakter en dié se emosies van haar afwas.

’n Ander metode wat dié talentvolle aktrise gebruik om te ontspan ná ’n lang dag propvol emosies, kan vergelyk word met die meeste ander vroue s’n: ’n lang bad en ’n heerlike glas wyn.

“Ná Dam was ek ontsettend uitgeput. Ek het gevoel asof ek so ʼn bietjie van myself in die proses verloor het aangesien ek tydens die verfilming daarvan so baie op stel was dat dit gevoel het asof ek meer van die karakter se lewe as my eie geleef het.”

Sy het na haar verloofde, familie en vriende, na wie sy as die konstante mense in haar lewe verwys, gekeer sodat sy weer gemaklik in haar eie skoene kon word.

Vivier glo dat die invloed wat haar werk as kunstenaar, nes talle ander, deur mense vloei en tog ’n verskil maak in die manier hoe hulle die wêreld en verskillende soorte mense sien en beleef.

“Ons is storievertellers wat ons lewens daaraan toewy om verskillende soorte menswees oor te vertel aan die kyker om sodoende empatie tussen mense te kweek.”

Dit is juis by mense en hul stories waar haar passie lê en waarom sy die lewenspad van aktrise stap.

Sy beplan om binnekort met opleiding in intimiteitskoördinering te begin, die kuns om sensitiewe en intieme tonele te kan choreografeer. Die intimiteitskoördineerder is ook die skakel tussen die akteurs en die regisseur sou daar enigiets verkeerd loop tydens die verfilming van een van dié tonele.

Sy hoop om as intimiteitskoördineerder ook op internasionale stelle te kan werk.

Vivier, ʼn Kapenaar in murg en been, het die gemak van Suid-Afrika vir ʼn tyd lank vir Chili, Suid-Amerika, verruil, waar sy selfs geleer het om Spaans vlot te praat.

By haar terugkoms in Suid-Afrika het sy eers tale aan die Universiteit van Kaapstad studeer, maar oorgeslaan na dramastudie aan Rhodes Universiteit wat sy in 2015 voltooi het. Sedertdien het sy vir haar heerlik plek in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf oopgeskrop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.