Lokprent: Skuif reg vir ‘Nêrens, Noord-Kaap’

De Klerk Oelofse in ‘Nêrens Noord-Kaap. (Foto: kykNET)

In die eerste episode van die nuwe kykNET-dramareeks Nêrens, Noord-Kaap, kom drie broers bymekaar op hulle familieplaas, Nêrens, vir ’n familiegeleentheid.

Dié reeks van 13 episodes begin aan die einde van die maand op die kassie draai en is ’n verwerking van Nico Scheepers se gelyknamige teaterstuk, wat sedert 2017 uitverkoopte teaterlokale gehad het.

Die stuk is as beste nasionale debuut op die Vrystaat-kunstefees bekroon en het in 2018 die kykNET-Fiësta-toekenning vir beste ensemblewerk ingeoes.

In die reeks, wat volgende week op die kassie begin draai, is dit vanuit die staanspoor duidelik dat die drie broers elk uit ’n ander stuk lap gesny is.

Hulle pa, Lourens (Frank Opperman), en Maggie (Ilse Klink), wat al jare in die huis op Nêrens werk en ’n tweede ma vir die broers ná hul eie ma se dood is, probeer die gesin bymekaarhou.

Maggie se seun, Jan-Jan (Dean Balie), is ’n kindertyd-vriend van die broers wat hulle beter as hulleself ken.

Geon Nel (Die Boekklub, Vallei van Sluiers en Boland Moorde) vertolk die rol van die oudste broer, Frans. Albert Pretorius (Johnny is nie dood nie, Dwaalster en Waterfront) is Ronnie, en De Klerk Oelofse (Hotel, Die Boekklub en Kyk wie praat) is Andries.

Ander spelers sluit in Shana Mans as die buurdogter Lorrie, Marion Holm as Lourens se suster Ans, Aletta Bezuidenhout as Olivia, Ronnie se snobistiese skoonma, en Natalie Robbie as Shannon, Ronnie se bruid en ma van baba Lourens.

Die mederegisseurs is Nico Scheepers en Johan Cronjé (Wonderlus, Meisies wat fluit) en die kinematograaf is Chris Lotz (Somerkersfees, Sara se geheim).

Die kunsregisseur is Chris Joubert (Wonderlus, Liewe Kersfeesvader) en Marí Conradie (Blood & water, Johnny is nie dood nie) is hoof van kostuums en grimering. Die meesleurende klankbaan is deur Franco Prinsloo gekomponeer.

Nêrens, Noord-Kaap word vanaf 31 Augustus elke Dinsdagaand op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en sal ook beskikbaar wees op DStv Catch Up.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.