Lokprent vir nuwe Kaapse Vlakte-reeks te sien

Sanda Shandu as Charlie in ‘Skemerdans’. (Foto: Zaheer Banderker)

Die eerste lokprent vir die nuwe oorspronklike Showmax-dramareeks Skemerdans is pas uitgereik. Die reeks sal in April beskikbaar wees.

Skemerdans is ʼn neo-noir Kaapse Vlakte-moordraaisel wat afspeel by die Oasis-jazz-klub – die middelpunt van ʼn magstryd tussen twee broers, ʼn woedende weduwee en ʼn georganiseerde misdaadsindikaat.

Dit is grootliks geskiet by die ikoniese Club Galaxy gedurende die inperking in Oktober verlede jaar. Die reeks van 13 episodes wat elk ʼn halfuurlank is, handel oor die Fortune-familie, vertolk deur die SAFTA-wenners Kevin Smith (Isidingo, Arendsvlei), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo), Brendon Daniels (Four Corners, Sara se Geheim, Arendsvlei); SAFTA-benoemde Vinette Ebrahim (7de Laan, Binnelanders); Carmen Maarman (Arendsvlei, Lui Maar Op, Belinda); opkomende ster Trudy van Rooy (Die Byl, Sara Se Geheim); en Ceagan Arendse (Suidooster, Arendsvlei) wat in Februarie vanjaar tragies gesterf het.

Amy Jephta, regisseur van die komende vollengte rolprent Barakat en skrywer van Die Ellen Pakkies Storie en Trackers, is uitvoerende vervaardiger en reekshoof, asook mederegisseur saam met Ephraim Gordon. Gordon is vervaardiger van die komende vollengte rolprent Barakat en regisseur van Sara se Geheim en Suidooster.

Showmax het met die Jephta en Gordon gesels om meer uit te vind oor Skemerdans:

Waar het die idee vir Skemerdans vandaan gekom?

Amy: Ons hou baie van die noir-genre, so ons het ʼn estetika in gedagte gehad. Ons wou iets skep wat anders voel as enige Suid-Afrikaanse reeks wat ons tot dusver gesien het. Baie van die reekse hier is baie helder, terwyl ons vind dat daar iets mooi is aan die spel met donker en skadu’s.

Een aand het ons in Voortrekkerstraat afgery op ʼn soektog na ʼn plek om te verfilm, en toe dink ons: “Hierdie plek het soveel lewe; daar is soveel stories in die krake.” Ons dink nie dat dit al voorheen op skerm uitgebeeld is nie, so een deel van Skemerdans het gekom uit ons wat die storie van hierdie wêreld wou vertel.

En dan was die ander deel dat ons net ʼn baie sexy storie wou vertel wat anders was as enige iets wat mense van ons sou verwag. Barakat, my eerste vollengte rolprent, is ʼn teer familieverhaal oor die liefde, so hierdie is die teenoorgestelde daarvan.

Ephraim: Ons wou ook ʼn kant van Kaapstad wys wat mense nie normaalweg sien nie, om ons visie te deel van wat Kaapstad is. Wanneer mense aan Kaapstad dink, dan dink hulle daaraan as ʼn gekompartementaliseerde wêreld: sekere mense leef hier, sekere mense leef daar. Maar Voortrekkerstraat is ʼn plek waar verskillende mense gedurig deurbeweeg.

Amy: Ons wou wys dat Kaapstad nie net die berg en die see is nie. Ons wil nie die berg en die see wys nie. Ons wil die dieptes van die stad wys, die grinterigheid en die somber dinge, die harde lig – nie net die mooi natuurskoon nie.

Anders as meeste Suid-Afrikaanse televisie lyk dit of Skemerdans grootliks tussen skemer en sonop geskiet is? 

Amy: Dis so ʼn beeldskone tyd. Chris Lotz, ons kinematograaf, is fanaties oor die ure wat jy net na sononder kry. Die goue uur is wonderlik en ʼn mens kan altyd in daardie tyd verfilm. Maar daardie periode tussen sewe en agt, wanneer die laaste lig uit die lug uit lek, dis ons goue uur. En dan die nag, want dit is wanneer die wêreld van die storie lewe kry, wanneer die klub begin pols, dis wanneer die ligte aangaan, wanneer gevaarlike dinge begin gebeur, maar ook die opwindende dinge. Dis ‘n wêreld wat eers om 21:00 oopgaan: dit gaan nie af wanneer die son ondergaan nie.

Dit sou oorspronklik ‘n reeks vir televisie wees. Hoe het die reeks verander toe dit na Showmax skuif?  

Amy: Toe die geleentheid om dit vir Showmax te doen hom voordoen, was ons soos: “Dankie tog: nou kan ons doen net wat ons wil”. Ons word die kreatiewe vryheid gegun om die storie te maak soos dit nodig is om te wees, sonder om ons te bekommer oor dinge soos taalgebruik, seks, geweld of dat ons die grense te ver verskuif. ʼn Mens kan net die storie vertel sonder om te bekommer of daar te min Engels, of te min Afrikaans is, of te veel vloekwoorde, of te veel sekstonele. Ons kon net die wêreld laat groei, sonder om gesensor te word.

Ephraim: Sodra daar taal-kwotas op iets geplaas word, beperk jy die moontlike rolverdeling. Dan bevind jy jouself op ʼn plek wat almal van dieselfde plek af kom en dieselfde klink en dieselfde optree. Maar dit is nie die wêreld waarin ons leef nie. Ons leef in ʼn wêreld waarin mense konstant tussen ruimtes deurbeweeg. So daardie beperking wat weggeval het, het ons toegelaat om die net wyer te gooi vir die rolverdeling, en om die wêreld uit te beeld soos dit is.

Hoe sou julle die tema van die reeks beskryf? 

Amy: Een van die temas vra: kan jy ooit van familie ontsnap? Skemerdans gaan oor die nalatenskap van een man, en hoe almal steeds in sy skadu leef, en hoe die familie verbind word deur ʼn geheim in hulle verlede.

Dit gaan ook oor mag. Almal in hierdie wêreld definieer mag ʼn bietjie anders. Party definieer dit volgens familie, party volgens materiële rykdom, party volgens sukses en party volgens die legende wat jy agterlaat, of die mitologie agter die man.  So almal hou op een of ander manier aan mag vas, of probeer mag bekom. Die ambisies in die reeks is groter as basiese oorlewingsdinge.

Ephraim: Hoe ons Kaapstad en haar mense wou uitbeeld, was belangrik. Niemand in hierdie reeks is brandarm nie. Hulle is dalk nie almal middelklas nie, maar die besluite wat hulle neem, is nie brood-en-botter-kwessies nie. Dit is belangrik om mense op die Kaapse Vlakte ook in daardie lig te sien, waar dit nie altyd ʼn geveg om oorlewing en ʼn geveg vir jou volgende maaltyd is nie. Daar is waardigheid daarin.

Skemerdans is op 28 April vanjaar op Showmax te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.