Lyntjie Jaars vind ware liefde ná 40

Lyntjie Jaars, mede-aanbieder van die kykNET-reeks, “OppieStoep”, en veldaanbieder van kykNET&kie se tydskrifprogram “Klop!”. (Foto: kykNET)

Deur Martjie Roos

Sy het in haar wildste drome nooit gedink sy gaan ná veertig so verlief raak nie, sê die radio- en TV-aanbieder Lyntjie Jaars (43) wat die afgelope paar jaar met haar aansteeklike lag, Nama-aksent en pittige sêgoed diep in kykers se harte gekruip het. “Oeeee ek kry butterflies wanneer ek net aan die man dink,” sê sy en lag haar kenmerkende borrel-lag diep uit haar maag uit.

Lyntjie en haar ‘alles-in-een-man’ soos sy na die nuwe liefde in haar lewe verwys, het onlangs verloof geraak en gaan binnekort trou. Maar meer besonderhede oor wie die man is en die troue wil sy nie weggee nie. “Hy is ʼn baie privaat mens,” sê sy. Sy verklap darem so ʼn bietjie oor sy geaardheid. “Ons harte klop vir dieselfde goed. Eerlikheid, respek en geloof is vir ons baie belangrik. Ons hou van die eenvoudige dinge in die lewe. Dit is vir ons lekkerder om in mekaar se geselskap te wees as om uit te gaan. Familie is ook baie belangrik vir ons albei,” voeg sy by. Hulle was eers net goeie vriende, maar die liefde het mettertyd begin blom en nou sprankel Lyntjie meer as ooit tevore.

Dis moeilik om te glo dat daar ʼn tyd in Lyntjie se lewe wat die son nie so helder vir haar geskyn het nie. Inteendeel, 2016 was ʼn donker en depressiewe tyd vir dié lewenslustige omroeper en aanbieder.

Lyntjie, wat in Springbok in die hartjie van Namakwaland gebore is, was in daardie donker tyd omroeper by Namakwaland se streeksradiostasie Radio NFM 98.1. “Ek was in ʼn diep, donker gat en kon nie met die lewe aangaan nie. Ek het gedink die wêreld sou ʼn baie beter plek wees sonder my en het selfs ʼn afskeidsnota op my selfoon gelos.” Maar sy moes nog steeds elke dag agter die mikrofoon haar vriendelike, spontane self wees en ander mense bemoedig. “Ek het maar ʼn front voorgehou. Die enigste mense wat geweet het dat ek so depressief was, is my ma Dina en dr. Aafke Bekker, ʼn algemene praktisyn van Springbok,” vertel sy. Dr. Bekker het haar in 2017 toe geborg om saam met ʼn toergroep Israel toe te gaan. “Dit was daar, op die See van Galilea, dat ek die grootste en mees onbeskryflike stilte en vrede ervaar het. Dit was ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan,” onthou sy.  Maar haar grootste Damaskus-oomblik het egter gebeur toe sy die graf van Jesus besoek het. “Ek moes eers drie keer ingaan voordat ek die heilige oomblik beleef het waar ek besef het Christus het waarlik vir ons opgestaan. Ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink. Dit is waar ek weer ‘lewendig’ geword het.”

Lyntjie het sedertdien nie teruggekyk nie en haar loopbaan as aanbieder en omroeper het floreer Sy is in 2019 met ʼn ATKV-mediaveertjie vir beste aanbieder by ʼn gemeenskapsradiostasie vir haar program Hamba khaya by NFM 98.1 bekroon. Nog ʼn veertjie in haar hoed was toe die sanger-aanbieder Coenie de Villiers haar dieselfde jaar gevra het om ʼn mede-aanbieder op die VIA-program, Stories wat saak maak, te word. En toe Pietman Geldenhuys, mede-aanbieder van OppieStoep haar twee jaar terug oor die radio hoor praat en haar nader om mede-aanbieder op dié storievertel-program te wees, was dit so reg in Lyntjie se kraal. “Ek is mal oor stories vertel. Ek kom uit ʼn familie en omgewing van storievertellers,” sê sy. Sy is nou reeds vir die derde seisoen mede-aanbieder van OppieStoep wat tans op kykNET uitgesaai word en ook al ʼn hele paar jaar veldaanbieder en soms gasaanbieder van die tydskrifprogram, Klop! op kyNET & kie. “Ek was aan die begin baie kamera-sku toe ek by Klop! begin aanbied het, maar Heindrich Wyngaard het my mooi touwys gemaak en gesê ek moet net myself voor die kamera wees.”

Dis moeilik om te glo dat daar ʼn tyd in Lyntjie se lewe wat die son nie so helder vir haar geskyn het nie. (Foto: GRYS)

Mense verwag nie van haar om anders te praat wanneer sy voor die kamera of agter die mikrofoon inskuif nie. “My taal het beslis ook die weg vir my gebaan in my loopbaan. Dis waarom ek mense ook aanmoedig om die Noord-Kaap te besoek en die rykdom van die taal en die kultuur van ons mense self te beleef. Gaan na Port Nolloth en gaan eet auntie Emma Seas se roosterkoek en gaan gesels met haar. Baie mense reis na Namakwaland om na die blomme te gaan kyk, maar eintlik is die mense wat daar woon die blomme.”

Omdat haar taal haar so na aan die hart lê, het sy in Februarie vanjaar video’s vir Afrikaans.com opgeneem waar kykers Nama-Afrikaans kan leer en ook meer oor die kontrei en sy mense te wete kan kom. Sy het reeds ses video’s opgeneem wat ook op YouTube uitgesaai word en tot dusver goeie terugvoer ontvang.

Lyntjie het ook haar vlerke na die verhoog gesprei en is deel van die produksie Antie Katriena, waar sy stories vertel. Sy spog nou ook met haar eie eenvrouvertoning, Ellie. “Ek is alleen op die verhoog, maar ander akteurs word met video’s in die stuk geïnkorporeer en ek voer gesprekke met hulle. Ek is baie opgewonde oor Ellie wat ons verlede jaar by die Vrystaatse kunstefees opgevoer het en ons toer ook in Desember met die stuk na Namakwaland.”

Intussen behartig sy nog gereeld die laataand- en vroegoggend-oordenkings op RSG. “Die anties met die wit koppies en pêrels kom gereeld na my toe en sê hulle geniet my ‘preke’ baie op die radio. Dit is vir my ʼn riem onder die hart, want ek het juis in 2009 my radioloopbaan met die oordenkings afgeskop toe dr. Flip Loots my by ʼn konferensie in Barberton gevra het of ek kans sien om van die oordenkings te behartig.”

Dis die eenvoudige dinge in die lewe wat haar plesier gee. “Ek en die inhoudsregisseur Stephanie Pekeur het eendag daar by Skilpad in Namakwaland gestop om pastei te gaan eet toe sy my geroep het en gesê het ek moet gaan kyk wat staan in die badkamer. Die woorde: ‘In die eenvoud van die lewe skuil daar vir jou ʼn skat’ het teen die muur gestaan. En dit is presies hoe dit vir my en my geliefde is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.