‘Nêrens, Noord-Kaap’ se Daneel van der Walt: ‘Suzette glo in goed’

Daneel van der Walt. (Foto: Zaheer Banderker)

Deur Ilza Roggeband

Dankbaar.

Dié woord kom gereeld op wanneer Daneel van der Walt oor die laaste paar maande in haar lewe praat. Sy is 41 jaar oud en lank reeds aktrise. Sy ken verwerping: die oproepe om te hoor sy het wéér nie die rol gekry nie. “Black belt in rejection,” sê sy en lag.

Daar wás werk. Teater. Kabaret. Rolle in advertensies. Gasrolle in televisiereekse. Stemwerk. Maar dit het gevoel asof daardie een groot deurbraak altyd net-net buite bereik was.

En toe kom Suzette.

“Ons het almal ’n Suzette in ons lewe nodig.”

“Ek is gek oor Suzette. Sy is so ons soort mens. So werklik.”

“Wie is die tannie-aktrise? Sy is briljant in haar vertolking!”

“Ek glo nie ’n ander aktrise sou die rol van Suzette so oortuigend vertolk het nie. Dit lyk nie eens asof sy toneel speel nie.”

“Suzette is die beste ding wat met Ronnie en klein Lourens kon gebeur het. Fantastiese aktrise. Hoekom sien ons haar so min op TV?”

“Wie speel Suzette? Ken haar nie? Sy is briljant!”

Daneel van der Walt (regs) in ‘n toneel uit ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: Verskaf)

Dit is maar net ’n paar van die talle kommentare op kykNET se sosialemediaplatforms. Daar gaan nie ’n week verby dat dié produksie en ál die spelers groot lof kry nie, maar as daar een karakter is wat in kykers se harte ingekruip het, is dit Suzette.

“Ek het al in Maart 2020 ’n oudisie op video gedoen vir die rol van Suzette,” vertel Daneel in ’n koffiewinkel aan die voet van Tafelberg, naby waar sy woon.

“Ek moes dialoog uit drie tonele doen: die begraafplaastoneel waar Suzette vir Ronnie sê ‘bel jou boeties’, Suzette en Ronnie se eerste ontmoeting en die toneel waar sy vir klein Lourens sê hy moet plaas toe gaan om ʼn bietjie weg te kom. Maar toe kom die pandemie en die produksie van Nêrens, Noord-Kaap word uitgestel. Vroeër hierdie jaar is ek gevra om weer op Zoom vir Nico Scheepers (skrywer en regisseur) en Johan Cronjé (mede-regisseur) ’n oudisie te doen.”

Kort daarna kry sy die oproep: Die rol van sersant Suzette Claase is hare.

“Ek is so, so dankbaar. Ek het met my gat in die botter geval. Om saam met hierdie span te gewerk het, om vir Albert Pretorius te kry om teenoor te speel – iemand wat kom uit waarheid, liefde, iemand wat net gee. En dan natuurlik daardie blou oë van hom. Ek is net so dankbaar vir hierdie storie. Vir Nico se teks. Vir Suzette.”

Daneel van der Walt as sersant Suzette Claase. (Foto: Zaheer Banderker)

Op ’n vraag waar hy aan die karakter Suzette gekom het, antwoord Nico: “Ek het iemand nodig gehad om vir Ronnie en Lourens te red. En toe skryf ek iemand wat ek sal liefkry, plat op die aarde en uiters bekend vir enigiemand wat Afrikaans praat.”

Het Daneel besef Suzette gaan so gewild onder kykers wees?

“Nee, ek het nie. Ek het wel geweet sy is iemand wat glo in goed en dat sy nie wag dat dit na haar toe kom nie, maar bereid is om dit te gaan haal.”

Daneel se lewe het in Sasolburg begin. Gebore en getoë. As kind het sy gemaak of sy David Kramer is en op ’n koffietafel gesing en gedans. Vir haar laaste twee jaar op skool is sy na Pro Arte in Pretoria. Sy het in 1998 matriek geskryf, vir twee jaar as kelnerin gewerk en in 2001 keuring gekry om drama aan die Universiteit van Kaapstad te studeer waar sy later met ’n honneursgraad in uitgestap het.

“Ek het die Kaap so een kyk gegee en gedink: Ag, ek dink ek bly maar,” sê sy. “Baie dankbaar vir Sasolburg, maar die Kaap is nou huis.”

Ná haar studie is sy vir die een oudisie na die ander. Intussen het sy weer as kelnerin gewerk om die pot aan die kook te hou.

“Met oudisies help dit as jy baie aantreklik is,” sê sy en glimlag. “Jy stap in en daar is modelle met bene tot by hulle ore, maar jy doen wat jy moet doen.”

Een oudisie sal sy nooit vergeet nie.

“Dit was vir Egoli,” onthou sy. “My oë was rooi en tranerig as gevolg van hooikoors – dankie, Sasolburg – maar ek het deurgedruk. Die vrou vir wie ek die oudisie gedoen het, het my so gekyk en gesê: ‘Jy het dalk ’n kans in teater, maar jy gaan dit nooit op TV of in flieks maak nie’. Ek is terug na die plek waar ek gewerk het en vir hulle gesê: ‘Onthou julle toe ek gesê het ek is ’n aktrise wat deeltyds ’n kelnerin is? Wel, ek is nou ’n voltydse kelnerin wat deeltyds ’n aktrise is’.’’

Daneel van der Walt in ‘n toneel uit ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: Verskaf)

’n Vorige kêrel het haar egter ’n jaar of wat later oortuig om ’n agent te kry en sy het meer werk, veral in die teater, gekry.

“Teater is die beste ding wat mense nog ooit uitgedink het,” sê Daneel.

Ewe gemaklik in Afrikaans en Engels was sy onder meer te sien in Ons is nie almal so nie op die Woordfees in 2019 en ook as Petruchio in die 2018 Maynardville-produksie van The Taming of the Shrew met ’n rolverdeling wat net uit vroue bestaan het. Haar talent in musiekteater het erkenning gekry toe sy in 2014 die Fleur du Cap-toekenning gewen het vir haar rol as Magenta in The Rocky Horror Picture Show.

Radiodramas is nog ’n liefde en verlede jaar het sy saam met die akteur André Weideman die oudioboek vir Irma Venter se Skarlaken opgeneem. Op die oomblik is sy en André besig met nog ’n Irma Venter, Sewe-en-veertig, wat eersdaags as oudioboek uitgereik word en werk sy aan ’n M-Net-reeks van tien episodes waarin sy in nege van die episodes gesien gaan word.

“Al wat ek kan sê is dat dit in Engels is en ’n eg Suid-Afrikaanse storie is.” Sy werk aan ’n kabaret wat sy self skryf en hopelik een van die dae op die verhoog kan kry en is te sien in Kissing Booth 3 op Netflix. “Ek het skielik ’n klomp Amerikaanse tieners wat my op Instagram volg,” lag sy.

Daneel van der Walt as Suzette teenoor Arnold Swart as klein Lourens. (Foto: Verskaf)

Terug na Suzette en Nêrens, Noord-Kaap. Is Suzette lief vir Ronnie omdat sy lief is vir Lourens? Is sy dalk liewer vir die een as die ander?

“Ooooo…,” sê Daneel en kyk uit na die berg. Dink ’n rukkie en sê dan: “Die twee is nie afskeidbaar nie. Ronnie is Lourens en Lourens is Ronnie en Suzette sal vir hulle al twee baklei. Dis net so maklik om vir hulle lief te wees.”

Sy sê weer hoe dankbaar sy is dat Suzette oor haar pad gekom het. “Ek het die eerste keer wat ek vir Frank Opperman ontmoet het, vir my broer en suster ’n boodskap gestuur en gesê: ‘Julle gaan nie glo wie oorkant my sit nie!’. Met die tonele vir die braai by Lourens se ma-hulle se huis het ek vir Aletta Bezuidenhout ontmoet. Ná die ontmoeting het ek na Nico gestap en vir hom gesê ek dink ek het nou net vir Aletta Bezuidenhout ge-curtsy. Maar vir my is iemand soos sy koninklik. Ek kan soms steeds nie glo ek het hierdie kans gekry nie.”

Ons praat oor die moontlikheid van ’n tweede reeks. Wat sal sy graag wil sien moet gebeur?

“Dat Ronnie vrede vind en dat Lourens uitvind wat ware liefde is. Ek wil ook vir Arnold (Swart, die jong akteur wat Lourens speel) sien groei. Nie wie hy gaan word nie, want hy is reeds fenomenaal, maar waarheen hy gaan.”

Daneel, wat enkellopend is, deel haar woonstel met haar kat. “Sy naam is Finally want ek wou nog altyd ’n kat gehad het,” sê sy. “Ek is baie na aan my suster Anneke wat ’n skoolhoof in Ghana is en daar saam met haar man en drie kinders woon, en my broer, Braam, wat in Bristol woon waar hy ’n sportmasseur is. Ek is lief vir kook en moet juis later vir ’n vriendin ’n pot mayonnaise gaan maak.

‘n Teer oomblik tussen Suzette en klein Lourens. (Foto: Verskaf)

“Ek begin elke dag deur drie dinge waaroor ek dankbaar is hardop te sê.”

Wat was vanoggend se drie dinge?

“Ek was dankbaar dat ek kon gaan draf, vir my kat en hierdie onderhoud. Onderhoude is vir my nuut. Ek voel nog so ʼn bietjie soos ʼn indringer; dat iemand weer vir my gaan sê hierdie is nie my plek nie.”

Nie dat dit ooit sal gebeur nie, want een ding is seker: Daneel van der Walt is hier om te bly. Die pad was dalk lank, maar met Suzette het sy nie net aan die deur geklop nie, sy het hom met deursettingsvermoë en emmers vol talent oopgeskop.

As sy weer ’n loopbaan sal kies, sal dit weer hierdie een wees?

“Ja,” sê sy sonder om te aarsel. “’n Duisend maal ja.”

Nêrens, Noord-Kaap is elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MJ ·

Ek is ook MAL oor Suzette – net wat Ronnie en Lourens nodig het.
Dankie Maroela, ek het ook gewonder wie die oulike aktrise is.
Mooiste wense vir jou toekoms Daneel !!

Patch ·

Suzette het sommer vinnig in my hart ook gekruip. Sy is presies wat die storie nodig het vir Ronnie en Lourens. Iemand wat ‘n omgee-hart het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.