‘Nêrens, Noord-Kaap’-skrywer boei met gruwelreeks

Erica Wessels in ‘Donkerbos’. (Foto: verskaf)

Die onheilspellende gevoel wat aan jou kleef terwyl die toneel op die kassie jou boei, die alomteenwoordige gevoel van morbiede nuuskierigheid en die soeke na waarom ’n samelewing sulke grusaamhede sou laat plaasvind, is presies wat Nico Scheepers met sy splinternuwe reeks Donkerbos probeer skep het.

Donkerbos, ’n gruwelverhaal oor kindermoorde, ’n toegewyde speurder en die web van mense en hul stories wat deur die reeks verweef is, is ’n eerste vir dié skrywer.

Nico, wat ook vir die treffer-kykNET-reeks Nêrens, Noord-Kaap verantwoordelik was, erken dat hy as skrywer voor Donkerbos nie vertroud met die gruwel-genre was nie.

“Voordat ek begin skryf het, het ek myself afgevra wat ek sou wou bydra. Wat gaan ek skryf wat nuut en uniek is?”

Hy het byna dadelik geweet dat die gruwelverhaal in die digte bosse van Magoebaskloof in Limpopo sou afspeel. Dit is onverwags vir die kyker, meen hy.

Die reeks het sy oorsprong in die Covid-19-grendeltydperk gevind.

“Met alles wat om ons aangegaan het, kon ek myself nie kry om positiewe programme en rolprente te kyk nie.”

Nico het hom dus na moord- en gruwelverhale gewend. Hy erken egter dat Amerikaanse reekse se herhalende resep van moordreekse skep, hom nie geval het nie.

Die ongemaklike, onheilspellende gevoel wat in sy maag gesit het terwyl hy egter Suid-Koreaanse en Skandinawiese reekse gekyk het, het hom laat besef presies hoe Donkerbos aangepak moes word.

“Die storie word deur die klein oomblikke vertel.”

Leandie du Randt in ‘Donkerbos’. (Foto: verskaf)

Nico het Donkerbos agterstevoor geskryf, vertel hy. Die moordenaar is geskep nog lank voordat besluit is wie die hoofkarakter en slagoffers gaan wees. Selfs voordat hy besluit het oor watter soort moorde die reeks sou handel.

“Dit is ’n whodunit-verhaal, maar ook whydunit,” vertel Nico.

“Mense gaan nie net wil weet wie die moorde pleeg nie, maar ook hoekom. En hoekom ’n samelewing so iets sou laat gebeur.”

Nico vergelyk die skryfproses van die reeks met ’n horlosie wat stukkie vir stukkie uitmekaar gehaal word, en stukkie vir stukkie weer gebou word. Stelselmatig het alles vir hom in plek begin val, van waar elke toneel sou afspeel tot wie en wat elke karakter is.

Hy vertel dat ʼn mens egter met ’n ander blik na dialoog en karakters moet kyk.

“Karakters is nie mense nie, en dialoog is eintlik glad nie soos wat twee mense met mekaar sou gesels nie.

“Dialoog is amper soos musiek. Daar is ’n ritme van ’n toneel waarby almal betrokke is en na wie almal luister.”

Die mense wat Nico gehelp het om dié ritme te skep, die akteurs, is elkeen perfek in hul karakter se skoene, meen hy.

“Al die akteurs het hul alles gegee, dit was wonderlik. Wat nog meer indrukwekkend is, is dat baie van die akteurs rolle vertolk wat hulle nog nooit vantevore gespeel het nie; dit is alles nuut vir hulle.”

Alhoewel daar dikwels teen die gebruik van kinderakteurs gewaarsku word, is dit juis vir Nico belangrik om ’n storie mét kinders daarin te vertel. Nes Nêrens, Noord-Kaap, is Donkerbos deurtrek van talentvolle kinderakteurs.

“Dit gaan nie vir my oor of dit maklik of lekker is om met kinders te werk nie, dit gaan oor die belangrikheid van kinders in ’n storie.”

“Kinders is nie rekwisiete nie, hulle is karakters. Dit is belangrik dat die gehoor die kinders leer ken sodat daar later verstaan word waarom daar kommer oor ’n kind is.”

Oor die ingewikkelde, grusame temas van die reeks, is daar met taktvolle eerlikheid met die kinders gesels. Nico erken dat van die sensitiewe tonele op so ’n wyse geskiet is dat die kinderakteurs nie eintlik ’n idee gehad het wat in die toneel aangaan nie.

Nico weet egter dat daar talle kinders is wat natuurlike storievertellers is, dat hulle ook hul skoene in die vermaakbedryf kan en moet volstaan.

  • Donkerbos is van 29 November op Showmax beskikbaar.

Kyk na die lokprent van Donkerbos hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.