Opwinding, nuwe karakters wag in ‘Fynskrif 2’

Neels van Jaarsveld vertolk die rol van Ben in Fynskrif. (Foto: kykNET)

Die tweede seisoen van die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif hou nie net interessante hofsake en gekompliseerde verhoudings in nie, maar ook ʼn paar nuwe karakters.

Die reeks begin weer op 8 Oktober en aanhangers kan nie wag om hulle weer in die intriges van die regsfirma Van Wyk & Vennote te verlekker nie.

Luidens ʼn verklaring deur kykNET gaan die tweede seisoen voort drie maande ná die einde van die eerste seisoen, met Van Wyk & Vennote se toekoms wat aan ʼn draadjie hang ná Hans (Chris van Niekerk) se aftrede. Lara (Tinarie van Wyk Loots) is so daarop gefokus om nuwe kliënte te werf, dat sy nie die gaping raaksien wat tussen haar en Jaco (Jacques Bessenger) ontstaan het nie.

Boonop sit Katrien (Cintaine Schutte) met Kobus se moordsaak wat dreig om haar lewe saam met Ben en die praktyk totaal te ruïneer. Corné (Beer Adriaanse) se toekoms is duister en Wian (Edwin van der Walt) en Anne (Kim Cloete) probeer hulle lewens herdefinieer.

Nina Swart het die regie van Fynskrif 2 behartig. (Foto: kykNET)

Dolf (Charlton George) neem ’n groot besluit oor sy verhouding met Gertrude (Elana Afrika-Bredenkamp). Ben (Neels van Jaarsveld) probeer alles bymekaar hou terwyl Hans in sy studeerkamer sit en sy memoires skryf. Waar dit alles gaan eindig, bly ’n ope vraag.

Kykers sal deur die seisoen saam met Corné worstel om te besluit waarvoor hy staan en hoekom hy doen wat hy doen; kyk hoe Hans sy aftrede trotseer en sien hoe Lara en Ben hul verhoudings met hulle geliefdes en kinders weer van nuuts af ondersoek. Anne besluit of sy nog ’n prokureur wil wees en Wian moet weer dink oor sy definisie van familie.

“Al die karakters – ook die kinders – leer ’n bietjie meer van hulself terwyl alledaagse krisisse trotseer word.”

De Klerk Oelofse vertolk een van die nuwe karakters in die tweede seisoen van Fynskrif. (Foto: kykNET)

En natuurlik is daar ook ’n paar sake wat almal grys hare gee. Ivan Nel (Armand Aucamp) maak sy terugkeer as popster, wat Dolf teen die mure uitdryf. Egskeidings, geskille oor intellektuele eiendom, onregverdige afdankings en aanranding is maar net ’n paar probleme wat die prokureurs moet oplos.

Twee nuwe karakters sluit ook by Van Wyk en Vennote aan. Lilani (Lea Vivier) is ’n klerk wat haar terugkeer tot die praktyk maak ná ’n jaar se sabbatsverlof. Sy het maar nog altyd emosioneel gesukkel en veral sy en Corné het ’n donker geskiedenis. Simon (De Klerk Oelofse) is ’n groot nuwe kliënt wat ’n pad stap saam met Katrien en baie ander se lewens raak.

Die skrywers en vervaardigers, Albert Snyman en Louis Pretorius, sê hulle hoop dat kykers in dié seisoen nog verder en dieper sal reis saam met al die karakters.

Fynskrif 2 begin op 8 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.