Regisseur Elrich Yssel oor die krag van stories

Elrich Yssel, regisseur van De Kleine Griet. (Foto: Mareli Theron/Forum Films)

As kind het flieks soos True Lies, Tank Girl en The Matrix al vir Elrich Yssel, regisseur en rolprentmaker van Forum Films, meegevoer na fantasiewêrelde waar onrealistiese gebeurtenisse eg en moontlik gevoel het.

Yssel, wat in die regisseurstoel van die nuwe Afrikaanse komediereeks De Kleine Griet is, wou met dié nuwe Forum Films-produksie dieselfde vermag.

De Kleine Griet speel af in die tydperk toe die Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in die 17de eeu die grootste handelaarsmaatskappy ter wêreld was. Die idee vir die storie het aanvanklik by seerowers begin, maar Jan van Riebeeck en die VOC het later die reeks geïnspireer.

“Die storie is iets wat niemand ooit in werklikheid sal kan beleef nie en daarom skep ek die wêreld van kaptein Wim van der Vaart en sy bemanning op die De Kleine Griet-skip op die speseryroete. Daar word eietydse elemente en storielyne ingebring wat onrealisties is, maar wat moontlik gemaak word deur die krag van stories.”

Kaptein Wim van der Vaart word vertolk deur die akteur Charlie Bouguenon. Tiaan Slabbert is te sien as Bas Boudewijn, David Steyn as Arnoud Schoonbeeck, JP du Plessis as Costa Almada, Deoudoné van der Merwe as Vinkie Weilburg, Leán van den Bergh as Helena van Leeuwen en Jurgen Hellberg as Hans Kraaij.

Yssel vertel hy en die akteurs het ʼn baie oop verhouding met mekaar gehad en dat hy as regisseur kanse moes waag met De Kleine Griet.

“Ek weet nie of dit gaan werk en wat die gehoor gaan dink nie. Ek wou nie enigiemand kwaad maak met die tema van die reeks nie en ek wil nie polities vir iets staan nie. Ek wil net stories maak.”

Op die stel van De Kleine Griet. Van links na regs is David Steyn, Elrich Yssel, Marcelle Peach, Chris Chameleon (as Jan van Riebeeck) en Charlie Bouguenon. (Foto: Mareli Theron/Forum Films)

Hy vertel hy het as rolprentstudent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie nooit in Afrikaanse produksies belanggestel nie, maar dat die fliek Bakgat, met Ivan Botha in die hoofrol, in 2008 dié siening verander het.

“Ek het die wêreld se respek vir almal agter die skerms van Bakgat vir wat hulle op daardie tydstip in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf met die fliek kon regkry.”

Hy verduidelik dat flieks soos Bakgat deure na groter en beter moontlikhede en geleenthede vir Afrikaanse rolprentmakers oopgemaak het.

“Mense met geld het die geleentheid begin raaksien om in Afrikaanse produksies te belê. Daar was iets eg Suid-Afrikaans aan Bakgat en jy kon jou baie sterk met die karakters vereenselwig. Dit het mense se koppe laat skuif dat Afrikaans kan werk.”

As rolprentmaker wil hy ook die bedryf lewe gee. “Wanneer jy ouer raak, dink jy meer emosioneel oor goed en jy wil weet waar jou plek is. Jy wil sterk verhoudinge bou en waarde in jou lewe toevoeg.

Elrich Yssel op die stel van De Kleine Griet. (Foto: Mareli Theron/Forum Films)

“Daarom wil ek stories vertel wat vir ons kinders behoue kan bly en wat eg is. Dit gaan lankal nie meer oor hoe goed jy alles kan laat lyk nie, hoewel dit ook tel. Dit gaan oor hoe geloofwaardig jy is en dat jy kan groei.”

Luan Lauw, skrywer van die reeks, het volgens Yssel karakters geskep met wie mense hulle kan vereenselwig.

“Luan is ʼn ongelooflik goeie skrywer. Hy het karakters geskep met wie jy ʼn verhouding bou, al is dit die tipe mens van wie jy dalk nie eens hou nie.”

Yssel vertel hy het as kind al geheg geraak aan karakters in sekere flieks. “Op filmskool het van my medestudente altyd ellelange lyste van flieks wat hulle al gekyk het, opgenoem. Ek het ook al ʼn redelike aantal flieks in my tyd gekyk, maar ek is geneig om sekere flieks oor en oor te kyk.

“Flieks is vir ewig en baie keer voel dit asof ek nie kan afskeid neem van ʼn karakter nie, soos met die avonture van Peter Quill in Guardians of the Galaxy. Jy voel amper asof jy hy wil wees en as jy na die fliek kyk, is jy in sy skoene. Ons as storiemakers het die krag om karakters te skep wat vir mense soveel beteken.”

De Kleine Griet sal later vanjaar digitaal te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.