Resensie: ‘Baby Reindeer’ onthuts; het miljoene aan’t gons

BABY REINDEER                                                           
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(9/10)     
Met Richard Gadd en Jessica Gunning
Skepper: Richard Gadd
(Netflix)

Het jy nog nie die jaar se mees veelbesproke TV-reeks gesien nie? Maar jy moet kan saampraat as “Netflix” al by jou ʼn werkwoord geword het. Netflix dit vanaand! Onthou net, jy sal nooit weer dieselfde wees nie.

Baby Reindeer is geskoei op ʼn nare ware verhaal en het werklik met Richard Gadd, wat die rol van Donny speel, gebeur.

Hy is só erg deur ʼn bekruiper (of stalker) verneder, dat dit sy hele menswees aangetas het en van hom ʼn lopende wrak gemaak het wat alle selfrespek verloor het.

Dit het alles in Skotland begin toe hy vir ʼn eensame siel, of so het hy gedink, ʼn gratis versnapering gegee het. Sy het derduisende e-posse en WhatsApp-boodskappe aan hom gestuur wat so uitlokkend en beledigend was, dat ʼn mens probeer verstaan hoekom hy nie vroeër opgetree het nie.

Richard Gadd in “Baby Reindeer”. (Foto: IMDb)

Dis juis waaragter bekruipers skuil – dat hulle ʼn persoon nie fisiék aangerand het nie, net emosioneel. Dit is hoe Martha Scott, die bekruiper, weggekom het, maar dis maar net die begin van Donny se oorbluffende ervarings.

Weet net: As jy hierna kyk, gaan dit jou geweldig ontstel. Ook om te kyk hoe een enkele mens in ʼn  ruïne verander en ineenstort. Baby Reindeer is die gesprekspunt van die oomblik, en die reeks se waarskuwing is: Pas op dat jy nie self in die takbokkie verander nie.

Die reeks het ‘n ouderdomsbeperking van 18.

(9/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.