Resensie: Trompoppies afgemaai in ‘smulpaap-lekker’ Afrikaanse reeks

Melissa Myburgh in ‘Trompoppie’. (Foto: Showmax/Verskaf)

TROMPOPPIE        
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐ (8/10)    
Met Melissa Myburgh en Marion Holm
Regisseur: Etienne Fourie
(Showmax)

Ek het die mees veelbesproke TV-reeks vir die einde van die jaar gehou. Ek glo vele gesinne sal gedurende hierdie niksdoendae om die televisie vergader om na hierdie wildewoeste moordstorie vol tromstokkies te kyk.

Die reeks heet Trompoppie, maar in Etienne Fourie van Stiekyt se warmbrak-hande, verander ʼn doodgewone skoolstorie in ʼn vuurwarm frikkadel wat jy van die een hand na die ander sal gooi.

Dit gaan oor ʼn middelklas meisie, waaraan Melissa Myburgh uitstekend gestalte gee, se nagmerrie wanneer sy in ʼn hoogsaangeskrewe skool beland waar moorde op trompoppies gepleeg word.

Daneel van der Walt in ‘Trompoppie’. (Foto: Showmax/Verskaf)

Bitsige kwinkslae, venynige katterige meisies, ʼn ma, die lippe-aflek-lekker Marion Holm, wat groter en wreder met die tong is as meninge draak in ʼn sepie, swaai die septer, en wil sorg dat die trompoppies die beste in daardie spesifieke skool vaar. Maar wie het die moorde gepleeg?

Dit gaan voel of jy in doringdraad rol en spelde kou. Dis ʼn smulpaap-lekker Afrikaanse skolereeks met ʼn totale verskil. Skool toe gaan sal nooit weer dieselfde wees nie. Jy sal jou hand meer voor jou mond klap as wat dit op jou skoot sal lê.

Jy sal verstom wees, maar boeta, dis lekker.

(8/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.