Saftas 2020: Hier is die wenners

Die wenners van die 14de jaarlikse Saftas (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings) is Woensdagaand regstreeks op sosiale media deur radio-aanbieder Dineo Ranaka aangekondig.

Tshedza Pictures wat die gewilde telenovela The River vervaardig, was die grootste wenner van die aand met 17 toekennings. Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat dié veeltalige produksie (Setswana, isiZulu en isiXhosa) die meeste beeldjies by die Safta-toekenningsgeleentheid verower.

Die kykNET-sepie Getroud met rugby is vereer vir beste draaiboek in ʼn televisiesepie terwyl die telenovela Arendsvlei twee beeldjies gewen het vir onderskeidelik beste prestasie in kunsregie vir ʼn telenovela of sepie (Beatrix van Zyl) en beste akteur in ʼn telenovela vir die akteur Roberto Kyle.

Denise Newman van Suidooster is met die beeldjie vir beste aktrise in ʼn sepie vereer. Die Spreeus se Leon Visser, vir beste redigering in ʼn televisiedrama, en Pierre-Henri Wicomb, vir beste oorspronklike musiek in ʼn televisiedrama, is ook as wenners in hul benoemde kategorieë aangewys.

Susan Scott en Bonné de Bod, vervaardigers van ‘STROOP’, spog met hulle Safta-toekenning. (Foto: Twitter)

STROOP – The journey into the rhino horn war is met die beeldjie vir beste natuurgeskiedenis- en omgewingsprogram vereer. Op seer se spoor is aangewys as beste feitelike en opvoedkundige program.

Elders: Japan, met skrywer Erns Grundling as aanbieder, is met die beeldjie vir beste leefstylprogram vereer.

Die rolprent Knuckle City was die voorloper van die aand in die rolprentafdeling met ses toekennings. Fiela se kind is as beste vollengterolprent aangewys.

Brett Michael Innes is aangewys as wenner vir beste draaiboek vir ʼn vollengterolprent vir Fiela se kind. Die verhaal van Racheltjie de Beer is aangewys as wenner in die kategorieë vir beste kinematografie (Willie Nel), beste klankontwerp (Jim Petrak) en beste oorspronklike musiek (Chris Letcher).

Clementine Mosimane en Anna-Mart van der Merwe is onderskeidelik aangewys as beste aktrise en beste aktrise in ʼn ondersteunende rol in ʼn vollengterolprent vir die rolprentweergawe van die Elsa Joubert-roman Poppie Nongena.

Die volledige lys van wenners is beskikbaar op die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.