Sepiegids: Febé is jaloers in ‘Binnelanders’; Rossouw braak gal oor Jacques in ‘Diepe waters’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Hykie Berg as Conrad in ‘Binnelanders’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 6 November

Karen is van voor af bekommerd oor Liam, en ʼn vriend ontferm hom oor haar. Lukas dreig vir Dawid, maar Dawid is hom een voor. ʼn Onverwagse besoeker daag by die veldhospitaal op.

Dinsdag 7 November

Annelize en nog ʼn dokter is geskok wanneer hulle Eric King se sakevennoot herken, en Annetjie bevestig Bonnie se vermoede. Steve word onkant betrap deur Conrad en Delia se besluit.

Woensdag 8 November

Tertius wil Jeremy se raad volg, en Bonnie neem Nicolette in haar vertroue. Tracy is angstig om by dr. Butler uit te kom.

Donderdag 9 November

Karen vat Bonnie oor haar skinderstories vas, en Febé raak al meer jaloers op ʼn verhouding. Tracy wag in spanning vir uitslae van bloedtoetse, en Conrad troos haar. Delia is geskok wanneer Dawid haar aanbod van die hand wys.

Vrydag, 10 November

Tertius maak ʼn lewensgevaarlike voorstel, ʼn verveelde Naomi begin almal effens irriteer, en Febé sukkel om haar groeiende gevoelens en jaloesie weg te steek.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 6 November

Dit is chaos by JPD wanneer Nazeem se geheime plan in werking tree. Lee-Ann probeer met Ty vrede maak, terwyl ʼn inbeller na Radio Dassie vir Susan die skrik op die lyf jaag.

Dinsdag 7 November

Rhafiek wil sy familie en vriende op ʼn uitstappie neem. Ty se verbeelding gaan op hol, terwyl Nazeem vir Gary dwing om met sy vuilwerk by JPD voort te gaan.

Woensdag 8 November

Ty is op die punt om roekeloos op te tree, terwyl Bridgette vir Nazeem uitdaag. Dinge tussen Justin en Veroné raak al meer ingewikkeld, en Rhafiek kry ʼn boodskap wat hom ontstel.

Donderdag 9 November

Almal sien daarna uit om saam met Rhafiek te gaan stap. Nazeem draai Gary se arm en Justin kan homself nie meer keer nie.

Vrydag 10 November

Justin wil weet waar hy met Veroné staan, maar sy is bekommerd oor haar verloofde se gevoelens. Aiden wil weet hoekom Gary besluit het om in die Kaap te bly, terwyl Rhafiek ʼn krisis in die gesig staar.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 6 November

Gys is nie gereed vir Jacques se nuus oor ʼn testament nie, en Sanet ruk haar op wanneer Ben met haar wil praat. Johan en Charity het ʼn groot uitval.

Dinsdag 7 November

Charity is onseker oor wat haar met Johan te doen staan. Sanet raak desperaat vir aandag op sosiale media, en Zelda gaan dalk ʼn bietjie te ver oor die lyn.

Woensdag 8 November

Sanet skok Karla met een van haar vlogs. Johan maak sy hart oop en verwoord sy waarheid. Jacques en Pam vind uit dat hulle iets in gemeen het.

Donderdag 9 November

Geluk kom met ʼn voorwaarde, en Rossouw maak sy frustrasie oor Jacques aan Pam en Gys bekend. Sanet gaan deur diepe waters oor Karla se pyn en vernedering.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 6 November

Sasha moedig Beatrice aan om op ʼn romantiese afspraak te gaan, en Clint loop toevallig daarop in. Karelse neem onverwags verlof en los vir Nicolene sonder enige mentorskap. Emile besluit om sake in sy eie hande te neem, sodat hy vir Gio kan beskerm.

Dinsdag 7 November

Hein waarsku Clint dat hy sy sokkies moet optrek voor hy vir Beatrice vir ewig verloor. Janice se huis is heeltemal somber en Daniel oortuig vir Lennie dat hulle iemand jonk in die huis nodig het.

Woensdag 8 November

Beatrice het besluit om dinge met haar nuwe liefdesbelangstelling te beëindig. Marvin sak op Emile neer en Daniel kry ʼn nuwe huismaat. Lee-Roy besoek die verlede.

Donderdag 9 November

Bianca vis uit oor Beatrice se aand met Heinrich. ʼn Ou kennis van Clint daag by Arendsvlei op om vir kaptein Karelse in te staan. Uit verwarring het nie Emile óf Tereska vir Gio by die skool gaan haal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alta Alleman ·

Mag ek asseblief vra dat Binnelanders nuwe skrywers kry? Die stories wat hulle opdus is om van naar te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.