Sepiegids: Lennie groet vir eers in ‘Arendsvlei’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Dann-Jacques Mouton as Lennie in “Arendsvlei”. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 4 September

At waarsku Conrad teen Dawid, en Conrad besef hy het iemand se vertroue geskend. ʼn Nuwe bestuurder vir die oorplantingseenheid word aangestel.

Dinsdag 5 September

Conrad neem ʼn moeilike besluit. Uys is vasberade om sy verhoudingstaktiek te verander, en ʼn ongewenste besoeker daag op. Daleen moet die stand van sake aanvaar.

Woensdag 6 September

Conrad het sy bedenkinge oor iemand en Tracy gee hom perspektief. Daleen voel skuldig en neem ʼn besluit. Febé volg goeie raad, en Uys moet voorgee hy is opgewonde.

Donderdag 7 September

Daleen is woedend wanneer Tertius haar konfronteer. Conrad tree vreemd by die oorplantingseenheid se bekendstelling op, en Nicolette maak ʼn skokkende ontdekking.

Vrydag 8 September

Louis moet slegte nuus aan At oordra, Daleen beskuldig Tracy en hulle rusie lei tot verdere spanning. Bonnie ontdek Uys se geheim.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 4 September

Kate stem in dat Angie ʼn daknatmaak-partytjie mag hou, terwyl Bridgette die probleem met haar paspoort probeer oplos. Almal is besorg oor Brendan.

Dinsdag 5 September

Carlo weet nie herwaarts of derwaarts nie, terwyl Aiden ʼn tweede kaartjietrekking vir die Rugbywêreldbeker aankondig. ʼn Nuwe gesig stel homself aan Ruiterbosch bekend.

Woensdag 6 September

Lee-Ann wil vir die Thulis van die brief vertel, maar Ty stem nie saam nie. Elana kry Angie voor stok oor hoe sy Wade behandel terwyl Mymoena ʼn bevlieging kry en almal verras.

Donderdag 7 September

Wade maak ʼn groot opoffering vir Angie, terwyl Kate en Justin moet maak of hulle in ʼn verhouding is. Bennie vind ʼn leidraad, maar sal hy die moed hê om dit met Siya en Danni te deel?

Vrydag 8 September

Rassie probeer met alle mag na Kate vry, terwyl twee van Ruiterbosch se inwoners gereed maak om Frankryk toe te vlieg. Danni is op die oorlogspad.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 4 September

Wim en Sanet erken ʼn ongemaklike waarheid, maar hul planne word vieslik in die wiele gery. Rossouw moet vir Gys inlig oor Charity se realiteit.

Dinsdag 5 September

Gys se verrassing lei tot onsteltenis. Charity kies ʼn sondebok wat sy blameer vir haar reaksies. ʼn Vreemde karakter hou die gemeenskap fyn dop.

Woensdag 6 September

Wim probeer iets aan sy skuldgevoelens doen. Charity se verhoudings begin Karla jaloers maak. Pam word deur Rossouw gekonfronteer. Bybie deel slegte nuus.

Donderdag 7 September

Wim en Sanet moet oor verbode vrugte praat, en dit is nie ʼn maklike gesprek nie. Karla besef sy gaan iets oor haar emosies moet sê. Zelda en Bybie leef in vrees.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 4 September

Beatrice vertel die polisie van die gat by die heining en die verdagte kar buite die skool. Bianca maak vrede met Zyla en Saartjie. Lennie pak die gimnasium op ná Bompie Desmond se geld kom soek.

Dinsdag 5 September

Die situasie by die skool raak toenemend gevaarlik en Beatrice moet iets daaromtrent doen. Lennie groet vir eers die Vlei. Saartjie word al hoe meer agterdogtig oor Zyla.

Woensdag 6 September

Thys gee Bianca goeie raad oor haar suster se sake-aanbod. Die Cupidos versterk veiligheidsmaatreëls by die skool. Dawn vertel vir Clint ʼn paar ontstellende dinge oor Abigail.

Donderdag 7 September

Beatrice neem ʼn besluit oor haar en Clint. Zyla manipuleer vir Bianca. Leerders en onderwysers voel onveilig by die skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.