Só duik borrelende Dané in ‘Diepe waters’-karakter se donker bodem

Dané de Waal. (Foto: Louis Daniel Botha/Verskaf)

Sy vertolk dalk nou die rol van die gedrewe en ernstige Swartmarlyne-swemmer, Charity Vorster, maar die borrelende aktrise Dané de Waal is ver verwyderd van haar Diepe waters-karakter.

Kykers van dié telenovela is Maandagaand aan Charity bekendgestel nadat sy met haar toetslopie stof (oftewel water) in die Swartmarlyne-swemmer, Nina, se oë geskop het.

Hoewel sy reeds ʼn goeie swemreputasie het, en voorgee dat alles rooskleurig by die huis is, lyk dinge in eg Diepe waters-styl heelwat anders in dié karakter se bodem.

“Charity is doelgerig en onsettend onafhanklik. Sy is vasbeslote om haar merkie in die swemwêreld te maak en stel nie in vriende of voorkoms belang nie, maar sy gooi daardie koue skouer weens moeilike omstandighede, wat kykers nog later meer oor sal leer.”

Dané, wat al in reekse soos Lui maar op, Belinda en die KykNET-storiefilm, Die klas van Juffrou Nellie Welgemoed, te sien was, vertel dat Charity as karakter baie lae het en van haar geverg het om in haar ernstige kant as aktrise te delf.

“Ek is glad nie ʼn intimiderende of bitter mens nie, so ek moet heeltemal switch as die kameras rol, want ons persoonlikhede verskil hemelsbreed van mekaar.”

Tog kan sy met tye haarself met Charity se emosies vereenselwig.

Dané en Liam Bosman, wat die rol van Johan vertolk. (Foto: Verskaf)

“Met só karakter moet jy na ʼn sekere plek in jou binneste toe gaan en tye herroep waar mense jou al in die steek gelaat het om die regte emosies na vore te bring. Ek het al deur moeilike fases gegaan waar ek self die kopskuif moes maak om te keer dat ek vir myself ʼn gat grawe waaruit ek nie weer kan klim nie, so ek het beslis begrip vir haar optrede.”

Diepe waters se jong flankeerder, Johan (Liam Bosman), kleinseun van die Swartmarlyne-swemafrigter Gys, stel natuurlik dadelik in Charity belang en tree selfs vir haar in die bresse wanneer sy oupa met haar kwaai raak tydens oefening. Steeds wil sy niks van hom weet nie.

“Sy wil haarself nie in ʼn posisie sit om kwesbaar te wees en bande te smee nie, want sy is bang en beskermend. Ek dink kykers gaan geniet om te sien hoe haar storie ontvou, hulle gaan nog soveel oor haar leer.”

Omdat Diepe waters weens sy verskillende stelle nie kronologies verfilm word nie, het Dané ook besluit om dagboek te hou van Charity se storielyn om sodoende in voeling met haar karakterontwikkeling te bly.

“Dit help om te sien waar sy nou in die storielyn is, hoe sy oor wie voel en waar haar emosies is. Sy verander baie en hoe sy teenoor ander optree verander deur die storie. Ek wou self kophou met wat in háár kop aangaan.”

Dané vertel dat die Diepe waters-span haar ook dadelik met ope warms verwelkom het.

“Hulle is almal hartsmense. Justin Strydom (Gys) is byvoorbeeld die teenoorgestelde van sy kwaai karakter, hy is warm en vriendelik. Daar word gereeld grappies agter die skerms gemaak; dis ʼn lekker werksomgewing.”

Die 26-jarige aktrise skerts dat die byna sewe jaar ouderdomsverskil tussen haar en haar 19-jarige karakter al vir lekker lagoomblikke op die stel gesorg het.

Dané as Charity Vorster in ‘Diepe waters’. (Foto: Verskaf)

“Stiaan Bruwer (Henry) is net twee jaar ouer as ek, maar in die storie noem ek hom ‘oom’, so dis vrek snaaks. Ons het ook vinnig oor die weg gekom, omdat ons al twee van die Kaap af kom.”

Hoewel sy meer te doen het met die “jong klomp” soos sy verwys na die klompie akteurs wat die Swartmarlyne-swemmers vertolk, vertel Dané dat sy met tye steeds in verwondering is om die skerm met akteurs soos Nadia Valvekens en Werner Coetser te deel.

“Ek het grootgeword met hulle op die televisie, so dis snaaks om te dink dat ek nou saam met hulle in ʼn reeks speel. Ek kan dit soms steeds nie glo nie.”

Kaap toe en terug

Dané se gesin het tydens haar hoërskooljare na Gauteng verhuis, maar sy is ná skool weer terug na haar tuisprovinsie waar sy drama en teaterstudies op Universiteit Stellenbosch (US) studeer het.

Ná drie jaar in Kaapstad as vryskutakteur het sy werk as ʼn produksie-assistent en later produksiekoördineerder by Homebrew Films losgeslaan. Hier het sy op die stel van programme soos Kokkedoor gewerk.

Haar rol in Diepe waters het die Kapenaar egter terug binneland toe gestuur.

Dané is ‘n selferkende avontuurlustige. (Foto: Verskaf)

“Ek moes vinnig groet, maar almal was ondersteunend. Ek bly ook weer bietjie by my ouers, so vir die eerste keer in ʼn lang tyd spaar ek weer bietjie op huurgeld,” terg sy.

Die beskeie aktrise beskryf haarself nie as ʼn “kranige swemmer” nie, ondanks die feit dat sy op hoërskool meer as een keer die gewilde Midmarmyl-oopwaterswembyeenkoms in Durban aangepak het.

“Ek het swemlesse as kind gehad, maar was op hoërskool meer van ʼn langafstandatleet, wat my gehelp het om fiks te bly. Ek is mal oor draf en bergklim, en verlang daaroor terug na die Kaap.”

Dané sê haar ouers, Arend en Louise de Waal, is saam breë bors om haar saans op die kleinkassie te sien. “My ouers het nog altyd geweet dis iets waarvan ek hou en hulle sal nooit wil hê dat ek iets moet doen waarvan ek nie hou nie. Hulle is my grootste ondersteuners.”

Haar ma is ook gretig om te help wanneer daar woorde geleer moet word.

“Sy ken nou al die storielyne. Sy was al Gys en sy was al ʼn 17-jarige tiener. Sy speel die meerderheid van die ander karakters en sy speel hulle nogal goed,” vertel sy laggend.

Dané sê sy en Charity verskil hemelsbreed. (Foto: Louis Daniel Botha/Verskaf)

Dané sê haar ideale toekomsplanne sluit ʼn vollengte fliek in waarin sy al haar vriende en vriendinne in die vermaaklikheidsbedryf rolle kan gee. Verder sal sy haar nagraadse sielkunde kwalifikasie wil gebruik om ʼn dramaterapeut te word.

“My sussie Izanne werk tans as ʼn kunsterapeut in België. Ons het gesê ons sal nog eendag kragte saamsnoer en ʼn gedeelde praktyk oopmaak.”

Vir nou is dié selferkende avonturier tuis in Johannesburg en gefokus om nes haar Diepe waters-karakter ook haar merkie in haar gekose bedryf te maak.

“Ek hou wel van veelsydig wees en geniet al die verskillende komponente van my loopbaan. Wie weet wat die toekoms inhou?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.