Spanne uitgeruil in ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’

Lara en Ashley in die kombuis. (Foto: skermgreep/verskaf)

Die jongste episode van kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam het nie net vir trane van spanning én blydskap gesorg nie, maar ook vir ʼn paar skokoomblikke – veral toe daar ʼn onverwagse spanuitruiling plaasgevind het.

Dié episode het op die familieplaas van Jurie de Kock in Napier in die Overberge afgeskop. Daar het die 18 oorblywende deelnemers ʼn geleentheid gehad om met Jurie, ʼn bobaas-worsmaker, skouers te skuur en selfs van sy wors te proe.

Nege spanne wat elkeen uit ʼn kinkel- en onthoubraaier bestaan, moes dit teen mekaar uitspook. Vandeesweek se uitdaging was ʼn gereg wat nie net geurige wors bevat nie, maar ook ʼn unieke blik op eg Suid-Afrikaanse braaipap gee.

Terwyl Lara en Nicole op die ou einde koning(in) in dié uitdaging gekraai het, moes ʼn paar spanne spartel om kop bo water te hou.

Lara en Ashley se figuurlike pap het op die grond geval, terwyl Kevin en Jan gespook het om hul wors, wat te seningrig was, te red. Jan was selfs bekommerd dat dit die einde van sy pad in die Kokkedoor-kombuis kan wees.

Dié uitdaging het die emosies hoog in die Kokkedoor-kombuis laat loop, met van die deelnemers wat nie net gehuil het nie, maar ook woede-uitbarstings en oomblikke van angs en spanning ervaar het.

Gert, anel en Francois. (Foto: skermgreep/verskaf)

ʼn Paar deelnemers het kop omhoog, propvol selfvertroue die kombuis ingestap, terwyl ander erken het dat hulle nog nooit eers gepoog het om self wors te maak nie.

Mandré, wie verlede week se potjiekosuitdaging saam met sy spanmaat, Karen, gewen het, was een van dié wat sonder om te blik of te bloos sy selfvertroue uitbasuin het.

“ʼn Perfekte sjef is ʼn gedupliseerde weergawe van myself,” het dié kinkelbraaier gesê.

Hy het egter te vinnig gepraat; hy en Karen het saam met Lara en Ashley die uitdaging verloor. Gelukkig vir dié twee spanne, is daar niemand huis toe gestuur ná vandeesweek se uitdaging nie.

Bertus Basson, een van die beoordelaars van dié seisoen, het egter ʼn verrassing vir dié twee spanne gehad: hulle moes uitruil.

Lara en Mandré is nou in ʼn span, terwyl Karen en Ashley die kompetisie voortaan saam gaan moet aanpak.

Terwyl Ashley mismoedig gelyk het, is sy voormalige spanmaat opgewonde om na die kombuis terug te keer vir ʼn tweede kans op oorwinning.

“Ek is dankbaar. Dit beteken hulle sien iets in ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.