‘Survivor SA’: ‘Ek kon voel ek was in die moeilikheid’

Mike Venter (Foto: Verskaf)

In die mees onlangse episode van Survivor SA is die radio-aanbieder van Boksburg, Mike Venter (21), uitgestem en het hy die agtste lid van die jurie geword.

Nou, ná afloop van die uitstemmery, sê Mike hy was nie heeltemal seker oor wat by tribal council gaan gebeur nie, maar dat hy ʼn gevoel gehad het dat hy dalk huis toe gestuur kan word.

“Ek kon voel ek was in die moeilikheid, omdat ek nie geweet het wat mense vir mekaar op die eiland gesê het nie. Ek het probeer planne maak so goed ek kon, maar ʼn mens kan ook net soveel doen,” sê hy.

“Ek het in tribal council ingegaan wetend dat ek uitgestem kon word. En ongelukkig het die planne nie vir my uitgewerk nie.”

Hoewel Mike talle kere probeer het om vir Rob uit te stem, het Rob dit gisteraand duidelik gemaak dat Mike die teiken was vir die aand. En, soos in die res van die seisoen, het dinge verloop soos wat Rob dit opgestel het.

Mike sê dit is maklik om nou terug te dink aan wat hy anders kon doen of hoe hy beter besluite kon neem, maar dat hy in die oomblik, gegewe die omstandighede, die beste besluite geneem het wat hy kon.

“Ek het gedink ek sou die spel meer kon speel, maar in werklikheid is mense baie na aan mekaar en daar is nie eintlik baie spasie om altyd te ‘speel’ nie. Mense is baie sensitief en menslike verhoudings is baie belangrik,” verduidelik hy.

Mike word uitgestem (Foto: Verskaf)

“Dit maak nie saak hoe sterk jy is of wie jy is nie, as jy nie ʼn sterk sirkel om jou het nie, gaan jy nie die spel wen nie.”

Mike meen die beste deel daarvan om weer terug by die huis te wees, is om enigiets te kan eet, om sy familie te kan sien en om weer sy eie toilet te kan hê.

Hy het gedurende die reeks baie oor homself geleer, soos dat hy taaier is as wat hy gedink het, dat hy baie meer kan doen as waarvoor hy homself krediet gee, om nie so baie te stres nie, om dinge meer te waardeer en dat sy sosiale vaardighede baie beter is as wat hy gedink het.

Hy sê hoewel daar baie moeilike goed was om te hanteer tydens sy tyd op die eiland, was daar ook oomblikke wat hy altyd sal onthou.

Mike en sy pa (Foto: Verskaf)

“Dit was wonderlik om my pa te sien, en net om verhoudings te bou met die mense, sal ek altyd onthou. Dit is ook baie lekkerder om die skuiling te bou as wat ek gedink het dit sal wees!”

Mike sê hy is nie seker vir wie hy sal stem as ʼn wenner nie.

“Ek moet nou eers my kop kry om wat gisteraand gebeur het – dat ek uitgestem is. Dit was nooit my droom om op die jurie te wees nie, so ek het nog nie daaraan gedink nie. In een of ander stadium sal ek ʼn idee hê wat ek gaan doen, maar nog nie nou nie.

“Ek sal graag vir iemand wil stem wat ʼn boeiende spel gespeel het. Iemand wat keuses kon maak en dit kon uitvoer.”

Mike sê hy was verbaas oor hoe moeilik die tyd op die eiland regtig was. “Die isolasie, muskiete, bamboes-bed en reën het alles baie moeilik gemaak,” erken hy.

“Ek het geweet dit gaan wild wees, maar ek kon myself nie voorberei vir net hóé wild hierdie ervaring was nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Ja, uiters vervelig….ek het nou juis op dit geclick want die opskrif lees “Ek kon voel ek was in die moeilikheid…”, ek dog amper n mens was in n lewensgevaarlike situasie waar iemand amper by die dood omgedraai het…amper soos” clik bait…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.