Tragiese Holocaust-romanse nou ʼn TV-reeks

Jonah Hoaer-King as Lali Sokolov en Anna Próchniak as Gita Furman in “The Tattooist of Auschwitz”. (Foto: Heather Morris/Facebook)

Die bekende tragiese romanse wat in die topverkoperroman The Tattooist of Auschwitz vervat is, sal later vanjaar op Suid-Afrikaanse kassies te sien wees.

Dié TV-reeks, wat geskoei is op die boek wat handel oor die lewe van Lale (Lali) Sokolov, ʼn Slowaakse Jood wat in 1942 na een van die wreedste en bekendste konsentrasiekampe, Auschwitz, gestuur is, sal in Oktober vanjaar op M-Net begin draai.

Die verhaal, gebaseer op werklike gebeure, plaas die kollig op die tragedie wat Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog moes deurmaak, maar ook op die liefde wat Lali daar gevind het.

Hoewel dit ʼn donker tyd in sy lewe was, sien Lali dit eerder as ʼn ligpunt, aangesien hy sy vrou, Gita, in die kamp ontmoet het.

Hy is aangesê om ʼn syfer op elke gevangene se arm te tatoeëer, en dit is juis hoe hy die eerste keer sy oë op Gita gelê het. Sy was een van dié wat haar arm vir hom uitgehou het om haar gevangenenommer te kry.

Barbra Streisand het weer haar skrywerspen opgetel om ʼn liedjie vir dié langverwagte reeks te skryf.

“As gevolg van die toename in antisemitisme in die wêreld vandag, wou ek ‘Love Will Survive’ in die konteks van hierdie reeks sing, as ʼn manier om die ses miljoen siele te onthou wat ons 80 jaar gelede verloor het,” sê Streisand oor haar betrokkenheid by die reeks.

Harvey Keitel as Lali Sokolov en Melanie Lynskey as Heather Morris. (Foto: Heather Morris/Facebook)

“Daarmee saam wil ek ook sê dat die krag van liefde kan seëvier selfs in die donkerste tye.”

Nes in die boek, sal ʼn ouer Lale (vertolk deur Harvey Keitel) sy verhaal aan die skrywer, Heather Morris (vertolk deur Melanie Lynskey), vertel. Dit is 60 jaar nadat hy en Gita in Auschwitz was, en tydens die onderhoud herleef hy die donkerste tye in sy lewe.

Jonah Hauer-King neem oor as Lale se jonger weergawe, terwyl Anna Próchniak die rol van Gita Furman vertolk. Tali Shalom-Ezer het die regie van die reeks behartig.

  • The Tattooist of Auschwitz sal in Mei vanjaar internasionale skerms tref en sal op 7 Oktober op M-Net (DStv-kanaal 101) begin.

Kyk hier na die lokprent van The Tattooist of Auschwitz:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Toergids ·

Ek wil graag Gautengers aanmoedig om die Johannesburg Holocaust & Genocide Centre te besoek vir ‘n interresante en leersame ervaring van die volksmoord. ‘n Interresante feit is dat die Suid Afrikaanse Lugmag die eerste lugfotos van Auschwitz geneem het in die Tweede Wereld Oorlog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.