Video: Drie aktrises, een Mart in ‘Dinge van ʼn kind’

Melissa Myburg speel die rol van jong Mart in ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: Petri Schoeman)

Sowat 28 jaar nadat Marita van der Vyver se Afrikaanse roman Dinge van ʼn kind die eerste keer verskyn het, is dit in ʼn TV-reeks omskep wat van vandag af (10 Mei) op die kassie te sien is.

Die reeks bestaan uit tien episodes en handel oor die hoofkarakter Mart Vermaak se ontnugtering van haar grootwordjare teen ʼn politieke agtergrond van die onstuimige laat sewentigs, terwyl ʼn ouer Mart haarself in ʼn ontnugtering van ʼn ander aard bevind.

In die roman leer ken ons vir Mart Vermaak as tiener en as ʼn vrou in haar dertigs, wat as ʼn expat in Londen woon. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ʼn heelwat ouer Mart, wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.

Maroela Media gesels in ʼn video-onderhoud met Melissa Myburg, Cintaine Schutte en Susanne Beyers oor hulle vertolking van Mart in die TV-reeks. Hulle deel ervarings van die verfilmingsproses en sê waarom die storie vandag steeds relevant is.

Myburgh, wat in die kykNET-reeks Kompleks te sien was, vertolk die rol van Mart as tiener. Schutte vertolk die rol van die 30-jarige Mart en die veteraan-aktrise Beyers is te sien in die rol van die ouer Mart.

In die tonele wat in die sewentigs afspeel, is Mienke Ehlers te sien as Mart se skoolvriendin Dalena met Augusta Zietsman wat die rol van Suna speel. Jana Kruger en André Weideman is Marlene en Karel, Mart se ouers, en Andahr Cotton (Simon), Méla Swanepoel (Liefie) en Wesley Smit (Neil) is haar sibbe.

Van die ander spelers in die tonele uit die sewentigs sluit in Ben Albertyn as Pierre en Deànré Reiners as Hein, asook bekendes soos Stian Bam, Amalia Uys, Lizz Meiring, Martelize Kolver en Sandra Vaughn.

Wilhelm van der Walt is saam met Schutte te sien in die tonele uit die negentigs en hy speel die rol van die ouer Simon. Van die akteurs wat in die hedendaagse tonele te sien is, sluit in Ludwig Binge, Kim Syster, André Roothman, Zenobia Kloppers en Quanita Adams.

Dinge van ʼn kind is deur Nagvlug Films vervaardig en die regisseurs is Quentin Krog, Zandré Coetzer en Tinarie van Wyk Loots. Die draaiboek is geskryf deur Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg.

Dinge van ʼn kind begin Dinsdag 10 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) wys.

Kyk die volledige video-onderhoud met Melissa Myburg, Cintaine Schutte en Susanne Beyers hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.