Video: Knap só jou winterkas met nuwe mode-videoreeks op

Vernuwe jou klerekas vir die komende koue maande op ʼn praktiese en bekostigbare manier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die kort en wisselvallige aard van Suid-Afrikaanse winters, asook die ekonomiese druk wat almal se sakke raak, maak dat ons dikwels kreatief met ons modekeuses in kouer maande moet wees.

Vir party is die idee om rokkies en T-hemde vir serpe en sykouse te verruil ʼn fees en vir ander is die dalende temperature ʼn verskoning om nóg ʼn seisoen in dieselfde snoesige maar uitgerekte trui as vyf jaar terug te trotseer.

Laat vaar egter vanjaar die wintervaalte en vernuwe jou klerekas vir die komende koue maande op ʼn praktiese en bekostigbare manier met die hulp van voorkomskonsultant en eienaar van Full Circle Image Consulting, Lizel van der Westhuizen.

In dié nuwe videoreeks deel die kykNET Glam Guru-modestilis graag haar top-modewenke vir die wintermaande. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Of jy nou die jongste neigings volg of jou klerekas op ʼn meer klassieke en praktiese manier wil aanpak, met haar hulp kan jy op koue dae steeds vir vuurwarm modeoomblikke sorg.

In dié nuwe videoreeks deel die kykNET Glam Guru-modestilis graag haar top-modewenke vir die wintermaande, onder meer hoe jy items uit jou somerskas op kouer dae kan benut, watter sleutelitems ʼn “moet-hê” vir die winter is en watter items jy vanjaar liefs moet laat vaar.

Sy demonstreer verder ook ʼn mooi en maklike metode om jou grimering soggens perfek aan te wend.

  • In die eerste episode deel sy die topvyf items vir dié wat vanjaar in die allernuutste wintermode wil pronk.
  • Besoek Lizel se webwerf of volg haar op Facebook en Instagram.
  • Kyk die video hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.