Video: Nuwe seisoen van ‘Real Housewives’ skop af

Hooffoto: Anita Lloyd, Amy Klein hans-Curd, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl gaan die Wynlande op hol hê. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Daar is Donderdagaand uiteindelik van naderby kennis gemaak met die ses vroue wat die rolverdeling van die eerste seisoen van Die Real Housewives van die Wynlande uitmaak.

Amy Kleinhans-Curd, ‘n voormalige Mej. Suid-Afrika, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl wys in dié reeks presies hoe uitdagend ’n luukse lewe in die wynlande nou eintlik is.

Die room van die Kaapse vermaakbedryf het Donderdagaand geskitter tydens die eksklusiewe bekendstelling van die seisoen.

Loki Rothman, Eva du Preez, Margot, Marciel Hopkins, Armand Aucamp, Katinka Oosthuizen, Devonecia Swartz en ander belangrike rolspelers in die bedryf soos Cornelia Faasen, Karen Meiring en Waldimar Pelser het die geleentheid bygewoon.

kykNET-kykers is Donderdagaand met die intrapslag aan Amy bekendgestel, wat in 1992 die eerste vrou van kleur was om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word. Sy woon tans in ’n huurhuis omdat haar gesinshuis op die plaas opknappings ondergaan.

“Real Housewives van Pretoria” se Kiki La Coco het die dames van die Wynlande kom ondersteun. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Karen Schwendtke bly al vir vyf jaar in die Val de Vie-landgoed en het ’n “ingebore liefde vir perde”. Sy ry gereeld op haar peperduur Arabiere en teel ook met dié gesogte resiesperdspesie.

Karen maak dadelik oop oor haar twee dogters uit haar huwelik van 22 jaar. Sy spog oor haar oudste, Saskia, wat tans in Dubai skoolgaan.

“Sy was verskriklik bevoorreg om in te kom in een van die topskole. So, sy is voor haar peers wat sy in die Boland agtergelaat het,” verklaar Karen trots.

Amy nooi dié huisvroue na die bekendstelling van haar nuwe Cap Classique-vonkelwyn, Amelia, maar Karen vind dit nodig om op te merk dat Amy “nooit Amelia sal wees nie”.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit was egter Anita Lloyd, vrou van die KWV-baas Boyce Lloyd, wat veral kykers na hulle asems laat snak het met die kwinkslae wat sy kwytgeraak het.

Anita sê eerlik vir Amy hoe sy oor die eerste proe voel en voeg by dat sy uiteraard wyn ken omdat haar man die uitvoerende hoof van KWV is.

“Ek ken hulle nie. Glad nie,” sê Mariska, die voormalige welvaartbestuurder en fiksheidsmodel, oor KWV.

“Almal ken dit in hierdie hele land. KWV!? Jinne, dolla!” reageer Karen geskok.

Dié nuwe reeks is tydens ‘n spoggerige funksie in die Wynlande bekendgestel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Daarna begin die huisvroue van hulle kinders praat en Anita laat weet almal in die vertrek dat sy uiteindelik “child-free” is. In aansluiting hierby, betreur Mariska al die druk wat daar deesdae op vroue is om kinders te baar, maar Anita reken dis net hier in ons wêreldjie waar dit die geval is en nie, byvoorbeeld, in Europa nie: “Vroue regoor die wêreld baklei vir vroueregte.”

Anderkant Simonsberg in Stellenbosch ontmoet kykers die voormalige sangeres Candice Bester, wat haar kunstenaarslewe vir ’n ander beroep opgegee het. Toe sy begin praat oor haar man, Werner, en die moeilike dae waardeur hulle moes gaan, loop die trane.

“Ons wou baie graag meer kinders gehad het,” vertel sy bewoë nadat sy haar enigste dogter, Emma, by die skool afgelaai het. Candice het ses miskrame gehad en vir eers “daai bootjie laat vaar.”

Al het sy nou ’n stimulerende werk, droom sy steeds daarvan om weer te begin sing. “Musiek is my eerste liefde. Dis wat my gelukkig maak.”

Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is om eerlik te sê “kommin” ek verstaan nie hoe mense so graag bekendheid wil werf deur na sulke lae vlakke te daal nie .Ek dink om eerder iets positief te doen kan meer bydrae as jy nou moet in die “limerick ligh” wees.

Kobus ·

Gelukkig het mens altyd ‘n keuse. Ek verkies om nie die program te kyk nie en geniet vele ander programme. Hierdie program bied niks leersaam nie en die dames kry maar net die geleentheid om met hulle welvaart te spog.

Lila ·

Daar is ‘n gesegde GELD KOOP NIE KLAS … kon nie glo wat ek gisteraand uit van daardie vrouens se monde gehoor het, die taal gebruik was skokkend … en om sonder skaamte te sê jy dien mammon … Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs…..Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang … sterkte vir jou ….

Hannelie ·

Ai om te “brag” op tv hoe “commin” jy eintlik is. Gelukkig het ek nog nie een van dié goedkoop program gekyk nie.
Karen kan maar spog oor haar kind wat in Dubai skoolgaan………kyk of jy eendag plek vir jouself en jou kind by die hiernamaals kan kry.
Ek dink as hul vanaand al daai aangeplakte make-up afhaal, is hul maar net so vaal soos ons ander.

Debbie ·

Geld kan nie klas koop nie. Anita is nou n kamtige fancy, hot skatryk huisvrou maar die hemel weet n vrou laat nie sulke taal oor haar lippe nie. Veral nie n vrou van haar ouderdom nie. Gedink Kiki van die vorige reeks was erg maar ek was geskok oor mevrou KWV. Hulle almal se gesigte is so op geblaas met al die fillers en goed. Nee wat, gisteraand was die 1ste en laaste keer wat ek na daai program gekyk het. Jinne kykNET, ek is seker julle kan iets beter vir ons gee om na te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.