Video: ‘Real Housewives’ se Candice eerlik en opreg, maar gʼn boelie

Candice Bester. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Sy is dalk die soort vriendin wat vir jou gaan sê wat jy moet hoor, nie noodwendig wat jy wil hoor nie, maar dít beteken nie dat Die Real Housewives van die Wynlande se Candice gevoelloos is nie.

Inteendeel, sy glo eerlikheid is wat ware vriendskap van oppervlakkige verhoudings onderskei.

“Ek weet nie of ek moet sê dat ek gelukkig of ongelukkig daardie vriendin is nie. Ek het al gehoor dat ek koud kan voorkom, maar tog bel my vriendinne my altyd as hulle ʼn eerlike en opregte opinie soek, want hulle weet dit kom uit die hart uit. Dis nie altyd lekker om daardie persoon te wees nie, dis nou maar hoe ek bedraad is.”

Só het kykers haar die afgelope drie maande ook leer ken, as die sogenaamde “hoofmeisie” van die groep, soos haar mede-housewives haar gedoop het.

Nie dat dié voormalige sanger en nuwe restauranteienaar nie haar skoene kan uitskop nie.

“Ek is mal oor onthaal en om saam met vriende en familie te kuier. Hier is elke naweek mense in ons huis, dis hoekom dit tans daar buite só lyk,” sê sy tergend terwyl sy na die netjiese stoep van haar en haar gesin se Stellenbosse woning beduie waar enkele tekens van ʼn gesellige Sondagkuier nog sigbaar is.

“Ek dink kykers het wel eers ná die vierde episode dié kant van my gesien, want sjoe … die reeks het nie op die maklikste tyd van my lewe afgeskop nie.”

Gʼn spyt oor haar Housewives-reis

Candice het soos die meeste ander plaaslike “real housewives” eers behoorlik kennis met dié handelsmerk gemaak nadat die kameras begin rol het. Sy terg dat sy boonop amper kop uitgetrek het toe sy besef wat dit presies behels.

“Toe Die Real Housewives van Pretoria uitgesaai is, het ons reeds begin skiet aan ons program. Ek was skoon getraumatiseerd toe ek ʼn episode daarvan kyk,” lag Candice.

“Ek het nie heeltemal besef waarvoor ek myself inlaat nie, maar Pascual, ons regisseur, het my oortuig om aan te bly en ek is glad nie spyt nie.”

Sy is verheug oor hoe die Kaapse aflewering uitgespeel het, ondanks kritiek oor veral die laaste reünie-episode waar sy en Michelle van Zyl in ʼn vurige woordewisseling beland het.

Hoewel dié twee huisvroue aan die einde albei olyftakkies uitgesteek het nadat daar oor elkeen se verhale en bedoelings herbesin is, het sleutelbordkrygers nie geskroom om veral vir Candice vir sogenaamde “boeliegedrag” persoonlik aan te vat nie.

“Dis hartseer dat daar mense is wat dink ek is ʼn boelie, net omdat ek die waarheid gepraat het, maar ek het vroeg in die reeks reeds besef dat sekere kommentaar nie die tyd of energie werd is nie.”

Candice glo nie in doekies omdraai nie. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

In aanloop tot die reeks se opnames het sy ook vir haarself twee grense gestel, naamlik dat sy nie gaan vloek nie (waarin sy bieg sy een of twee keer gefaal het) en dat sy alles wat sy in haar videodagboeke oor iemand gesê het, ook voor hulle sou sê.

“Ek is dankbaar dat ek nooit iemand anders as myself was nie. Ek het 100% gesê wat ek wou en was eerlik oor my gevoelens teenoor alles en almal.”

Haar een cringe-oomblik, soos sy dit noem, was haar uitrustingflater by Michelle se TikTok-partytjie, waar haar kort rokkie haar in die steek gelaat het. “Mens weet sommer dadelik, as jy iets simpels doen of sê, dat hulle dit 100% in die program sal gebruik,” vertel sy laggend.

Volgens Candice was daar ook beslis nie in die program voorgegee nie, veral rakende haar werk.

“Ek was tydens die eerste drie episodes onder die grootste professionele druk van my lewe, so ek was dikwels daar in vlees, maar nie in gees nie. Ek kan omtrent niks van Karen se egskeidingspartytjie of daardie eerste paar videodagboek-opnames onthou nie. Ek dink kykers kon ook sien dat ek meer teenwoordig was ná episode vier, so alles was beslis baie real vir my gewees.”

Housewives bring genesing, maar ook kritiek

Oomblikke wat vir haar deur die reeks uitgestaan het, was veral die vroue se besoek aan Hoedspruit en Mauritius. Ook die opname van haar eerste oorspronklike lied was ʼn hoogtepunt.

“Die hele reis saam met Loki Rothman was die grootste voorreg. Ek weet baie kykers dink ek wil nou ʼn sangloopbaan begin, maar dit het vir my meer gegaan oor die verwesenliking van ʼn droom wat ek gehad het om hierdie liedjie op te neem.”

Sy het in die eerste episode gedeel dat sy ses miskrame gehad het voordat haar dogter, Emma, gebore is en daarom dié lied oor haar swangerskapuitdagings en verlies wou neerpen.

Vir Candice was haar optrede van die lied by haar, Amy en Mariska se gesamentlike loodsfunksie ʼn omkeerpunt in haar genesingsreis. “Dit was die eerste keer dat ek daaroor kon praat sonder om te huil. Ek het my emosies net so vir die wêreld gegee en daar is baie genesing daarin. Ek het van die verhoog af geklim en in Pascal se arms geval en getjank, dit was ʼn wonderlike en oorweldigende gevoel.”

Candice sê die opname van haar lied het genesing gebring. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

In teenstelling daarmee is haar sangvermoëns een van die vele goed waarna aanlyn trolle vroeg-vroeg begin kap het – iets wat Candice bieg haar gedagtes naderhand oorheers het.

“Ek moet myself letterlik verwyder van Facebook-groepe, nie omdat ek omgee wat mense dink nie, maar omdat dit my byna ingesluk het. Ek het soms drie uur op ʼn slag gesit en kommentaar dopgehou, dit is waansinnig en toksies.”

Die voormalige professionele Barnyard-kunstenaar moes kommentaar soos “Candice moet maar vergeet van ʼn sangloopbaan, daar’s geen talent daar nie” trotseer.

“Een van die slegstes was: ‘Haar bril is so lelik, dis seker om haar groot neus weg te steek.’ Dit verstom my dat mense so wreed en verveeld met hul eie lewe is, dat hulle tyd maak om kommentaar op ander se voorkoms te lewer.”

Candice sê veral Amy Kleinhans-Curd, ʼn voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou, het haar herinner om negatiewe kommentaar af te skud. “Amy het vir my gelag en gevra waarom ek dit lees? Sy het gesê dit dra geen betekenis nie en dat die res nie saak maak as jy weet wie jy is nie.”

Om met tye in die openbaar herken te word, is ook iets waaraan sy nie gewoond kan raak nie.

“Natuurlik voel ek baie koel as studente in die dorp my nader vir ʼn foto,” skerts sy.

“Die beste was wel toe ʼn twaalfjarige meisie my nou die dag in ʼn restaurant voorkeer en sê dat sy mal is oor die program. Ek lag toe lekker in my binneste, want ek besef toe sy is eintlik veels te jonk om dit te kyk.”

Kykers sien nie al die kante van die huisvroue nie

Hoewel hulle dele van hul lewe vir kykNET-kameras oopgemaak het, herinner Candice kykers graag daaraan dat hulle net 48 minute van ure lange opnames sien.

“Ek dink die bietjie wat mens sien, kan vinnig wanpersepsies laat ontstaan. Mariska word byvoorbeeld as hierdie blonde poppie uitgebeeld, maar sy is ʼn hoogs intelligente vrou met ʼn baie sterk wil. Ek kyk nogal op na haar.”

Ook Anita en Karen, wat geken was aan hul sterk persoonlikhede en skerp sêgoed, het sagter kante volgens Candice.

Dié ‘housewife’ sê sy was nooit iemand anders as haarself nie. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Anita is ʼn regte dame, sy is baie gesteld op goeie maniere en glo daar is ʼn tyd en plek vir alles. Karen is ook die sagste mens met ʼn massiewe omgeehart. Ek dink die program het net op ʼn kwesbare tyd in haar lewe gebeur, so haar ‘kwaaier’ oomblikke was net om haarself te beskerm. Dit is heeltemal verstaanbaar.”

Volgens Candice het die groep grotendeels goed oor die weg gekom.

“Daar was natuurlik hier en daar ʼn ou spoedhobbel, want baie van ons is eiesinnig en sterk, maar ons het regtig lekker saamgekuier. Daar is nog baie stories om te vertel, ek hoop regtig ons kry kans om nog ʼn seisoen te doen.”

Toekoms lyk smaaklik

Kykers het in Real Housewives ʼn voorsmakie van Candice en haar man, Werner, se nuwe restaurant in Stellenbosch, De Vier, gekry.

“Ons soek al jare lank vir die regte plek. Ek dink dis net hoe die Here werk, want daar was nie voorheen tyd vir so iets in my lewe nie,” vertel sy oor dié eetplek, wat binnekort sy deure oopmaak.

“Dit is eintlik ʼn lewenslange droom van my. My ouma en oupa het ʼn restaurant gehad, so ek geniet dit om in daardie spasie te wees. Ek voel asof dit al my passies, soos die gasvryheidsbedryf, kos en geleentheidsbeplanning, bymekaar laat kom.”

Die naam “De Vier” sinspeel op haar en Werner se idee om ʼn klein, seisoenale spyskaart te hê wat op vier hoofdisse geskoei is, naamlik rooivleis, hoender, vis en vegan-opsies.

“Wanneer jy instap, gaan dit voel asof jy in ʼn New Yorkse vyfster-hotel is, maar tog kan jy gemaklik en tuis voel. Dit gaan next level wees.”

Kyk hier hoe Candice van haar ‘Real Housewives’-hoogtepunte uitlig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.