Video: Regisseur gee blik op ‘Real Housewives’ se binnewerkings

Pascual Wakefield, regisseur van ‘Die Real Housewives van die Wynlande’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Al het ons hulle vir eers van die kleinkassie af gegroet, het die stof nog lank nie gaan lê oor Die Real Housewives van die Wynlande nie.

Amy Kleynhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl het die afgelope drie maande vir kykers ʼn weeklikse blik op hul luukse lewens in die Wes-Kaapse Wynlande gegee en vir verskeie kleurvolle en onvergeetlike oomblikke gesorg.

Agter dié ses glansryke en opspraakwekkende vroue het daar egter ʼn man gestaan wat hulle op ʼn heel ander vlak leer ken het, die akteur en Real Housewives-regisseur, Pascual Wakefield.

“Ek voel asof die vroue byna vir ons gestuur is, hulle was sulke unieke en dinamiese karakters,” vertel hy in ʼn video-onderhoud aan Maroela Media by Haute Cabrière in Franschhoek, waar dié werklikheidsreeks se finale twee reünie-episodes in Junie verfilm is.

Pascual is geen groentjie in die vermaaklikheidsbedryf nie en is ewe tuis op die verhoog, asook voor én agter die kamera – hetsy as inhoudsvervaardiger of regisseur.

Hy was onder meer in Suidooster, Troukoors en Binnelanders al te sien gewees en het agter die skerms gewerk aan reekse soos Wie word ʼn miljoenêr, Op my eish en Die Real Housewives van Pretoria.

Die Real Housewives van die Wynlande is egter die eerste projek van so ʼn groot formaat waar hy in die regisseurstoel gesit het en die veelsydigheid van sy loopbaan is iets wat hy glo sy visie vir dié program help vorm het.

“Ek is nou maar bietjie van ʼn obsessiewe, kreatiewe persoon wat dinge mooi wil maak. Daar het baie beplanning in die visuele elemente en die manier waarop ons tonele wou skiet, gegaan. Selfs met die garderobe-afdeling wou ons seker maak dat die vroue se uitrustings nie bots met die vertrekke waarin ons verfilm het nie.”

Maroela Media het met Pascual by Haute Cabrière in Franschhoek gesels. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Oor wat uit die ses huisvroue se monde gekom het, het hy egter geen beplanning of beheer gehad nie.

“Met ʼn narratief het jy teks en die akteurs word gesê watse emosies vir daardie teks of tonele nodig gaan wees. Met werklikheidsreekse het jy ook ‘tonele’, maar al leiding wat jy kan gee, is hoe hulle moet inloop of wat hulle moet bespreek. Dan moet jy maar rol en kyk wat uitkom,” sê hy byna laggend.

Sowat 200 vroue is vir Real Housewives oorweeg, vertel Pascual, van wie hy nagenoeg 50 persoonlik ontmoet het.

“Die belangrikste was om vroue te kry wat sterk opinies het, nie skaam is nie en ʼn unieke karakter het. Daarom voel ek dat ons ses huisvroue byna geroep is vir hierdie program, hulle het so goed by mekaar gepas.”

Hoewel hy deeglik daarvan bewus is dat smake verskil en gerespekteer moet word, sê hy dat daar baie waninterpretasies oor die program ontstaan het – veral by diegene wat “net opskrifte gelees en opsommings gekyk het”.

Pascual sê hy sien kans vir ‘n tweede seisoen. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dis vir my so ironies en eintlik hartseer dat die vroue se intelligensie onderskat word, want byna almal is hoogs geleerd. Ek glo nog altyd dat mense wat intelligent is, ook geneig is om snaaks te wees. Die vroue hoef ook nie hierdie program te gedoen het nie, die meeste was eintlik nuuskierig om iets nuuts aan te pak.”

Pascual glo dat kykers wat egter die volle 48 minute van elke episode deurgekyk het, veral die humor daarin waardeer het.

“Ek weet daar is soveel mense wat nie saamstem met hoe dié vroue leef en dink nie, maar hulle is nie naastenby so uitspattig soos baie glo nie. Hulle was net nie fake nie. Enigiemand gaan ná ʼn paar dae se verfilming vergeet dat daar kameras in hul huis is en eerlik gesels as jy heeltyd gevra word hoe jy oor alles voel. Dit is sleg dat party mense nie daardie insig gehad het nie.”

Die beeld wat daar soms in hoofstroom- en sosiale media by kykers ontstaan het, strook volgens hom ook nie noodwendig met wie die vroue werklik is nie.

“Karen is byvoorbeeld glad nie so kwaai nie, sy is net eerlik. Michelle is ʼn wonderlike ma wat werklik alles vir haar kinders doen. Anita is skreeusnaaks en die tipe mens by wie jy lank wil kuier, terwyl Mariska ʼn goeie sakevrou en Candice vreesloos is. Amy het dalk lekker gegiggel, maar sy is ʼn fontein van wyshede en het die hele span soveel geleer.”

Pascual herinner kykers ook om werklikheidsreekse soos Real Housewives te sien vir wat dit is, naamlik prettige vermaak.

“Ons kyk televisie omdat ons wil ontsnap aan ons vervelige of besige lewens. Mens moet dit vat vir wat dit is; dis baie snaaks, die ‘karakters’ is interessant, die redigering is goed, dis visueel mooi. Gee dit ʼn kans, selfs al is dit dan net vir Anita se sêgoed,” skerts hy.

Soos sy besige skedule nou lyk, is daar nie tans plek of tyd vir ʼn tweede seisoen nie, “maar as dit dieselfde ses vroue is, beslis”!

  • Kyk na die volledige onderhoud hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.