Vrou slaan halfmiljoen op ‘Wie word ʼn miljoenêr?’ los

Susan Booyens het met ‘n halfmiljoen by ‘Wie word ‘n miljoenêr?’ weggestap. (Foto: verskaf)

Vir die tweede keer sedert die kykNET-program, Wie word ʼn miljoenêr?, in 2021 afgeskop het, het ʼn deelnemer met R500 000 in die sak daar weggestap.

Susan Booyens (55) het in vanaand (5 Julie) se uitsending van dié gewilde vasvra-program haar algemene kennis op die proef gestel, en dit het behoorlik vrug afgewerp. Dit was ook nie die eerste keer dat dié deelnemer haar verskyning op die kassie gemaak het nie.

Susan was destyds die aanbieder van die speletjiesprogram, Blitsvinnig, op kykNET en sy het net die lekkerste herinneringe aan dié program.

“Dit was in die beginjare van kykNET, in 2000, dit was basies dieselfde formaat as die ou Flinkdink, en my vriend Dawid van Lill, kampioen der kampioene, het die vrae opgestel; met die liewe Edwill van Aarde, eertydse aanbieder, as arbiter,” vertel Susan.

“Ek kan báie vinnig vrae vra, ek dink Tom Larney en ek het eenkeer vir die snelvuurafdeling binne 60 sekondes 15 vrae en antwoorde kafgedraf! Die reeks is ongelukkig om administratiewe redes nooit voortgesit nie, wat jammer is, dit was ’n vrolike ervaring en so reg in my kraal.”

Die eerste deelnemer wat ʼn halfmiljoen op die program losgeslaan het, was die sakejoernalis en skrywer, Theunis Strydom. Aan die moontlikheid om in sy spore te volg, is iets waaraan Susan aanvanklik nie gedink het nie. Hoewel sy erken dat sy vermoed het dat indien sy verby die “vinnige vingers”-ronde sou vorder, die speletjie nie te moeilik vir haar sal wees nie.

Tog, erken dié deelnemer dat sy nie geskroom het om op ʼn koelkop-wyse ʼn raaiskoot te neem nie.

“Haai raai, ek is net so gebore, stroesbob, geen geheime nie – sodra ’n mikrofoon of kamera aangaan, raak ek so gelukkig en rustig soos ’n vis in die water, absoluut in my element. So, ek wás kalm!”

“Ek moet byvoeg, Wie word ’n miljoenêr? se uitvoerende vervaardiger Lindi Lucouw se inligtingsessie met die deelnemers vooraf was goud werd, sy’t ons herinner as jy onseker is oor die antwoord, gesels met Rian, vat jou tyd en pluis dit uit, moenie dadelik boedel oorgee nie.”

ʼn Vraag oor eerste minister Jan Smuts is egter die een wat haar op ou end gekelder het. Oor die feit dat sy daarteen besluit het om ʼn waagkans met dié vraag te vat, is sy nie spyt nie.

“Oe, dis maklik om ná die tyd te bespiegel, maar nee wat, my glas is altyd vol pleks van half of leeg. Ek is diep dankbaar vir die stewige meevaller wat ek wel gekry het.

“Net om te gaan deelneem was waagmoedig genoeg, en om verby die ‘Vinnige vingers’-ronde te vorder was reeds wonderlik.”

Sy het ook besluit om haar prysgeld vir nou te spaar vir “ʼn veilige kussinkie vir die toekoms.”

  • Wie word ’n miljoenêr?word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Monique ·

Wat ‘n ongelooflike deelnemer, soos Rian aan die einde gesê het, die manier waarop sy elke vraag uitredeneer het, was merkwaardig! Sy het haar prysgeld verdien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.