Wat is op die kassie?

Blaai jy ook telkens vir ure deur die verskillende stromingsplatforms en voel amper asof daar soveel kykstof is om van te kies, dat jy nie juis weet waarna om te kyk nie?

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Reyka – Showmax

Ouderdomsbeperking: 16 PG (taal, seks, geweld)

Die tweede seisoen van hierdie plaaslike reeks, met Kim Engelbrecht in die hoofrol, is tans op M-Net en DStv Stream te sien. Die eerste seisoen is op Showmax en kykers wat wil vasbyt kan die tweede seisoen ook daar kyk.

Reyka Gama word in 1994 in Suid-Afrika ontvoer. Sy ontsnap en as ʼn volwassene word sy ʼn speurder. Reyka gebruik haar vaardighede om raaisels op te los terwyl sy haar kind grootmaak.

Fool Me Once – Netflix

Ouderdomsbeperking: 16 PG (taal en geweld)

Die Britse reeks Fool Me Once is die jongste televisieweergawe van die skrywer Harlan Coben se gelyknamige speurroman.

Michelle Keegan as Maya Stern, Joanna Lumley as Judith Burkett en Richard Armitage as Joe Burkett maak opslae in die reeks, wat die no. 1-posisie op kykerslyste wêreldwyd gehaal het.

Die storie handel oor Maya Stern wat die wrede moord van haar man, Joe Burkett, probeer verwerk. Wanneer sy egter ʼn kamera installeer om die kinderoppasser dop te hou, is sy geskok om haar man lewend in haar huis te sien.

Die storie ontvou vandaar van die een klimaks na die ander en hou kykers sedert 1 Januarie voor die skerm vasgenael.

Boy Swallows Universe – Netflix

Ouderdomsbeperking: 16 PG (taal en geweld)

Die beperkte reeks Boy Swallows Universe speel in die 1980’s in Australië af. Felix Cameron, Zac Burgess en Auden Ryan speel onderskeidelik die rol van Eli Bell op verskillende ouderdomme.

Boy Swallows Universe is geskoei op skrywer Trent Dalton se gelyknamige, semi-outobiografiese boek en is deur John Collee geskryf.

Die storie handel oor Eli wat as jong seun reeds die onderwêreld van Brisbane betree in ʼn poging om sy ma van gevaar te red.

Wie is op TV-vrate se lippe?

Die afgelope paar weke kloek al wat ʼn kollega is rondom die koffiepot om te gesels oor die jong Hollywood-akteurs Jacob Elordi, Barry Keoghan en Jeremy Allen White.

Saltburn – Prime Video

Ouderdomsbeperking: 18 PG (taal, seks, geweld en dwelms)

Jacob en Barry het saam gespeel in die fliek Saltburn, wat gemengde gevoelens onder kykers ontlok het om die minste te sê. Die donker fliek is in November uitgereik. Dit het egter eers onlangs op Suid-Afrikaanse kykers se radar gekom.

Jacob Elordi is 26 jaar oud en is in Brisbane, Australië gebore. Hy het onlangs in ʼn onderhoud vertel dat hy op dieselfde dag wat hy gehoor het hy het die hoofrol in Saltburn losgeslaan, ook die nuus gekry dat hy die rol van Elvis Presley in Priscilla gekry het.

Barry Keoghan, Jacob se 31-jarige Ierse medester in Saltburn, is in Summerhill, Dublin gebore. Sy ma het gesukkel met dwelmmisbruik en is dood toe hy 12 jaar oud was. Hy en sy broer, Eric, het sewe jaar in 13 verskillende pleegsorghuise deurgebring voordat hulle deur hulle ouma, tannie en ouer suster, Gemma, grootgemaak is.

Barry het in 2020 ʼn Britse Akademie vir Film- en Televisiekuns- (Bafta-)toekenning gewen vir sy ondersteunende rol in The Banshees of Inisherin, en het vir dieselfde fliek ʼn Oscar- en Golden Globe-benoeming gekry.

Jacob Elordi en Barry Keoghan tydens die première van ‘Saltburn’ by die Theatre at Ace Hotel in Los Angeles, Kalifornië, op 14 November 2023. (Foto: Facebook/Alberto Rodriguez/Variety via Getty Images)

Kyk hier na die lokprent vir Saltburn.

The Bear – Disney + (Hulu)

Ouderdomsbeperking: 16 PG (seks, geweld en dwelms)

Reekskykers wat voorheen gehou het van die Amerikaanse reeks Shameless, sal vir Jeremy Allen White onthou in die rol van Phillip, oftewel Lip, een van die skaamtelose Gallagher-broers.

Hy ontvang egter nou wyd lof vir sy rol as sjef Carmen “Carmy” Berzatto in die bekroonde reeks The Bear. Hy het ʼn Emmy-toekenning, sowel as twee Golden Globe-beeldjies vir dié rol ingeoes.

Jeremy Allen White (Foto: Instagram)

Jeremy het ook onlangs al wat ʼn aanhanger laat swymel met sy Calvin Klein-advertensieveldtog, waarvoor hy die klere laat waai het en slegs in ʼn paar skamele ontwerpersonderbroeke pryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.