‘Succession’ groet kleinkassie met ses Emmys

Die rolverdeling van ‘Succession’ op die Emmy-verhoog. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die laaste seisoen van die donkerkomedie Succession het Maandagaand by die Emmy-toekennings oorheers en ses van die aand se toppryse vir ʼn televisiedrama ingepalm.

Dié reeks vertel die verhaal van ʼn mediamagnaat en sy wanfunksionele familie, en het veral die afgelope drie jaar by dié toekenningsgeleentheid skoonskip gemaak.

Succession-akteurs Sarah Snook, Kieran Culkin en Matthew Macfadyen het almal beeldjies huis toe geneem in die dramakategorie, terwyl die program ook die algehele beste dramareeks en beste regisseur gewen het.

Jesse Armstrong, skepper van die reeks, het gesê dit was “ʼn groot hartseer om die program te beëindig”, maar dit was ʼn groot plesier om dit te kon produseer.

“Hierdie is ʼn program oor familie, maar dit gaan ook oor wanneer partydige nuusdekking vervleg raak met verdelende, regse politiek,” het Armstrong bygevoeg.

In die komediekategorieë het The Bear, Beef en The White Lotus onderskeidelik oorheers.

The White Lotus, ʼn stylvolle satiriese reeks oor die doen en late van verflenterde rykes, se tweede seisoen het meer as dubbeld die aantal benoemings as sy eerste aflewering gekry en vir Jennifer Coolidge die beeldjie as beste ondersteunende aktrise in ʼn komedie verseker.

Sir Elton John het ʼn toekenning losgeslaan vir sy regstreekse TV-konsertopname, Elton John Live: Farewell from Dodger Stadium.

Dít beteken dat die Britse musieklegende uiteindelik ʼn lid van die gesogte en eksklusiewe EGOT-klub is: vermaaklikheidsterre wat ʼn Emmy-, Grammy-, Oscar- en Tony-toekenning gewen het.

Die jaarlikse “In Memoriam”-afdeling het TV-sterre vereer wat die afgelope jaar gesterf het, insluitend Angela Lansbury, Strictly Come Dancing se Len Goodman, die 25-jarige Euphoria-akteur Angus Cloud, Andre Braugher van Brooklyn Nine-Nine-faam en die Friends-ster Matthew Perry.

Popsanger Charlie Puth en die duo, The War and Treaty, het saam Puth se tranetrekker treffer, “See You Again”, gesing voordat hulle met ʼn akoestiese weergawe van die bekende Friends-temalied, “I’ll Be There for You”, op die Emmy-verhoog afgesluit het.

Maroela Media het vroeër berig dat die 75ste Emmy-toekenningsgeleentheid, wat op 18 September 2023 sou plaasvind, tot 15 Januarie uitgestel is weens Hollywood se skrywers en akteurs se verlammende stakings verlede jaar.

Die Emmys vind gewoonlik op Martin Luther King Jr.-dag, ʼn Amerikaanse federale vakansiedag, plaas en is laas in 2001 weens die 9/11-aanvalle uitgestel.

Bronne: AFP, BBC, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.