Emmy-toekennings vanjaar op M-Net te sien

Die 74ste Emmy-toekennings sal vanjaar op 12 September plaasvind. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Suid-Afrikaners kan vanjaar die Emmy-toekennings regstreeks op M-Net (DStv-kanaal 101) volg en kyk wie almal met die “Oscars van televisie” bekroon word.

Die 75ste Emmy-toekenningsgeleentheid, wat op 18 September 2023 sou plaasvind, is tot 15 Januarie uitgestel weens Hollywood se skrywers en akteurs se verlammende stakings verlede jaar.

Die Emmys vind gewoonlik op Martin Luther King Jr.-dag, ʼn Amerikaanse federale vakansiedag, plaas en is laas in 2001 weens die 9/11-aanvalle uitgestel.

Weens die maande lange vertraging is akteurs soos Elizabeth Debicki, wat tans te sien is as prinses Diana in die sesde en laaste aflewering van The Crown, benoem vir rolle wat hulle byna twee jaar terug reeds vertolk het.

Die geleentheid sal egter uiteindelik Maandag voortgaan, en word deur die akteur en komediant Anthony Anderson aangebied.

Die rolverdeling van ‘Succession’. (Foto: HBO)

Daar word verwag dat veral programme soos Succession, The Last of Us en The White Lotus – almal onder die mees benoemde reekse – elkeen beeldjies huis toe sal neem.

Dié programme is almal ook tans op die Suid-Afrikaanse stromingsdiens, Showmax, te sien.

Succession-akteurs Kieran Culkin, Jeremy Strong and Brian Cox is drie van die ses benoemdes vir beste akteur in ʼn drama, terwyl Sarah Snook, wat die rol van Shiv Roy in dié reeks vertolk, vir beste aktrise in ʼn drama benoem is.

Jenna Ortega is ook benoem vir haar rol in die Netflix-treffer, Wednesday, en sal die jongste wenner vir die toekenning van beste aktrise in ʼn komedie wees indien haar naam Maandagaand uitgeroep word.

Daar word ook verwag dat vanjaar se Emmys moontlik hulde aan Matthew Perry sal bring. Hy het self in 2002 ʼn Emmy-benoeming losgeslaan vir sy rol as die grapjas Chandler Bing in Friends.

Maroela Media het vroeër berig dat Perry in Oktober 2023 op die ouderdom van 54 oorlede is weens ʼn oordosis ketamien, maar sy dood is later egter as ʼn ongeluk bestempel.

Die rolverdeling van ‘Friends’. V.l.n.r. is Matthew Perry, Lisa Kudrow, David Schwimmer, Courteney Cox, Jennifer Aniston en Matt LeBlanc. (Foto: Facebook/Friends)

Sy Friends-medesterre het kort na die akteur se dood op sosiale media hulde aan hul ontslape vriend gelewer.

“Om totsiens aan ons Matty te sê, was ʼn golf van emosies wat ek nog nooit vantevore beleef het nie. Ons almal ervaar verlies iewers in ons lewens, verlies van lewe of verlies van liefde,” het Jennifer Aniston, wat die rol van Rachel Green in Friends vertolk het, op Instagram geskryf.

*Die 75ste Emmy-toekennings sal op Dinsdag, 16 Januarie regstreeks om 03:00 en weer om 22:00 op DStv Premium op M-Net (kanaal 101) beskikbaar wees. ʼn Regstreekse-uitsending sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Bykomende bronne: AFP, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.