My ma is nie in James Calata gebore nie… oor tye en name wat verander

Elizabeth Arnold, voor hulle huisie. (Foto: Verskaf / Alana Bailey)

In my ma se laat tagtigs, wou sy haar storie vertel. Sy het begin om op klein notablokblaaitjies te skryf:

Ek is gebore om 3 uur nm op 2/2/32 op die plaas Ebenhaeser. Mammie moes stuur om my pa op die land te laat roep. Mrs. Bull, vrou van dr. Bull, was die vroedvrou en ek was glo die laaste baba wat sy sou ‘vang’ voor hulle weg is…

Vroeër vandeesweek sien ek in ʼn koerantberig dat 85 dorpe in die land se name sedert 2000 verander het, insluitend Jamestown, wat nou James Calata heet.

Eerwaarde James Calata is volgens Google gebore in ʼn arm boeregesin by Debenek naby King Williams Town. Hy is opgelei as onderwyser en as priester in die Anglikaanse Kerk. Xhosakultuur en politieke aktivisme was sy passie en hy het ook gedien as sekretaris-generaal van die ANC (1936-1949).

My ma was die sesde kind van nege in ʼn arm boeregesin op die plaas Ebenhaeser naby Jamestown. Sy het geen formele opleiding na skool gehad nie, omdat haar ouers dit nie kon bekostig nie en daar nie ander geleenthede was vir haar om te studeer nie. Na skool het sy in Jamestown in ʼn prokureurskantoor gaan werk, en later by die Permanente Bouvereniging in Krugersdorp.

Na sy met my pa getroud is, was sy voltyds ma en huisvrou, maar sy het ook partykeer as deeltydse boekhouer by besighede uitgehelp. Afrikanerkultuur was haar passie en sy het lewenslank politieke gebeure met groot belangstelling dopgehou.

Ek vind die parallelle tussen dié twee mense interessant en soms selfs ironies.

Self was ek jare laas in Jamestown/ James Calata. My indrukke was dat die dorp ontvolk en verval het. Volgens 2011 se nasionale sensus, was daar toe 4 666 inwoners in die dorp, waarvan 92,7% Xhosa-, 2,2% Afrikaans-, 1,6% Engels-, 1,4% Sotho-sprekend en 2,1% anderstalig was. Dit is noemenswaardig dat die groter munisipale distrik waarbinne dit val, Joe Gqabi, ʼn skoon oudit ontvang het vir die finansiële jaar wat in 2022 geëindig het.

My ma se storie, waarmee ek grootgeword het, het nooit gefokus op armoede nie. Dit het vertel van geestelike rykdom en lewens wat in gesins- en gemeenskapsverband gedy het.

Sentraal was die kerk en die gesin. My grootouers was hartstogtelik lief vir God, mekaar en hulle kinders. In die depressiejare het hulle nie alleen die plaas, gesin en arbeiders versorg nie, maar my ouma het boeke vir ʼn winkelier op die dorp gedoen, terwyl my oupa as hofklerk gewerk het en soms ook as hoftolk na en van Xhosa. Afrikaans was sy eerste taal en Xhosa die tweede. Met opoffering is die pot aan die kook gehou.

My ouma het ʼn musieklisensiaat gehad en saans komposisies van Chopin en Beethoven, tot Badarzewska-Baranowska gespeel, terwyl my oupa van Shakespeare tot Zane Grey gelees het.

Sondae was die groter familie met oorgrootjies, ooms, tantes, neefs en niggies in die NG Kerk saam. Dit was ʼn bron van vele staaltjies, soos die dag wat die kerkbank onder die diens en letterlik onder die familie inmekaargestort het.

Die dorp se kultuurlewe was ewe interessant. Toneelgroepe soos dié van die befaamde André Huguenet het die dorp besoek, ook musici insluitend die wêreldberoemde Duitse koloratuursopraan Erna Sack. My ma was lewenslank trots om te vertel dat daar ʼn groot blomrangskikking op die verhoog was toe Sack moes optree. Dit het my ma-hulle se sig versper en toe Sack dit opmerk, het sy in die middel van ʼn aria gestop en gevra dat die blomme verskuif word sodat hulle haar optrede behoorlik kon geniet.

Alana Bailey.

Jongmense het geen tekort aan ander gesonde vermaak gehad nie. Daar was danse op plase, vrugte om in te lê, handwerk, kaartspeelaande en sport te kies en te keur. Tog het beroepsgeleenthede mettertyd die meeste van hulle na stede weggelok. Van my grootouers se agt kinders wat grootgeword het (een boetie is as kind oorlede), het net een tot sy aftrede in die distrik gebly. Die res het oor Suid-Afrika en Namibië versprei. Talle het op eie stoom verder studeer en gegradueer – die meeste van hulle kinders en kleinkinders ook. Uit ʼn eenvoudige begin het hulle lewens en gesinne gebou om op trots te wees.

Nee, my ma is nie in Joe Calata gebore nie. Sy was die kind van ʼn ander tyd in ʼn ander omgewing. Sommige mense sou aanvoer dat die naamsverandering gepas is, omdat dit so ʼn totaal ander tyd met sy eie uitdagings was, met sy eie prestasies en foute. Let wel, ek probeer nie my voorouers se lewens en besluite verromantiseer of as onbesproke uitmaak nie, maar vir my as historikus is die uitvee van ʼn pleknaam tragies, want daarmee saam gaan soveel geskiedenis verlore.

Wat ek wel weet, is dat ʼn boukultuur uit hulle uitdagings ontwikkel het. My oupa het hulle netjiese huis gebou met stene wat hy self gemaak het. Toe mure kraak, is ʼn kabel deur die eetkamer gespan om alles staande te hou. In 1987 was ek in die huis wat toe steeds deur die eienaars van die plaas bewoon is, kabel en al.

My neefs en niggies is oorwegend ook handig met ons hande én ons koppe en by almal is die besef gevestig dat jy werk vir wat jy wil hê.

My liefde vir taal en kultuur kom via my ma van my ouma wat as kind die gewraakte donkiebord moes dra as sy durf waag het om Afrikaans op skool te praat. Ouma het geweet taal- en kultuurregte is nie vanselfsprekend nie, maar moet gekoester en beskerm word.

Soms dink ek oor al hierdie dinge en wonder wat die kind wat in 2024 in James Calata gebore word vir haar nageslag gaan vertel as sy in haar tagtigs sit en mymer oor haar kinderjare. Wat is die lewenswaardes wat aan haar oorgedra word?

Name kan verander word deur politieke ideoloë ten einde ʼn illusie van prestasie te skep. Lewensgehalte is daarenteen moeiliker om te voorsien en in stand te hou…

Op die ou einde moet gemeenskappe self hulle etiek vestig en hul toekoms bou, ongeag die naam van die plek waar hulle bly.

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Die naamsveranderinge is net ‘n oefening van akademiese belang. Dit voeg gewoonlik geen waarde toe aan enige iemand se lewens nie. Dit is gewoonlik ook die baken van agteruitgaan en verval, waar dit slegs gebruik word as paaimiddel maar niks verder beteken nie.

Johan ·

Jy is 100% reg Danie. Hierdie naamsveranderinge het nog geen waarde toegevoeg tot enige dorpe nie. Maar as ‘n mens die verval en verwaarlosing (vernietiging) sien, is dit amper beter dat name van gerespekteerde leiers uit die verlede nie meer aan sulke plekke gekoppel is nie.

Vrijburger ·

Puik skrywe. En die kruks van die stuk in die laaste sin.

Kokerboom ·

Naamsveranderinge bly sinneloos,onnodig,kwaadwillig, verwarrend en vervreem jou in jou eie land!Sprekende voorbeelde is Ooskaap en Mpumalanga. Stem saam dit bring GEEN ekonomiese voordele.Dit word afgedwing, skep rassespanning en verbreek goeie gesindhede. Uitstekende resep vir korrupsie, verwoesting en kultuurvernietiging!

Goldy ·

Jamestown is n voorbeeld van wat volg vir baie en uiteindelik alle ander dorpe. Dis die eerste dorp wat ek gesien het heeltemal gesterf het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.