Wenkbroue lig in ‘Op my eish! 2’

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

In die tweede seisoen van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! wat verlede week afgeskop het, is daar reeds ʼn goeie skeut drama wat hom in Nelspruit afspeel.

Kykers kan vir die volgende paar weke inskakel vir Francois Jacobs se soeke na liefde, wat hy met behulp van die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout se raad aanpak.

In vandeesweek se episode is die vroue onkant gevang ná die onverwagse aankondiging dat een van die deelnemers, Elizna de Waal, die program weens persoonlike redes verlaat.

De Waal, ʼn 25-jarige sportmasseuse van Kaapstad, sê dit was een van die moeilikste besluite wat sy nog moes neem.

“Ek kan nie begin om te verduidelik hoe ek die aand van die skemerkelkies gevoel het nie, want woorde sal dit nooit kan beskryf nie. My hart het in my keel gesit, dit het gevoel my bors trek toe en ek kry nie asem nie.

“Die oomblik wat ek Francois se hand geneem het, het my trane al begin loop want ek het geweet wat kom. Dit was vir my baie erg om Francois in die oë te kyk en te sê en gaan nie meer aan nie. Ek het nie net vir Francois gegroet nie, maar wel ook die meisies en die mense agter die kamera met wie ek ʼn band en vriendskappe gebou het.”

Die ander vroue het net die nuus verwerk en begin dink dat hulle pad na Jacobs se hart een minder uitdaging het toe Bezuidenhout vir nog ʼn kinkel in die kabel sorg.

Twee vroue – bekend as die “wild cards” – het hulle opwagting gemaak en by die groep in Nelspruit aangesluit met die hoop om uiteindelik Jacobs se hart te wen.

Ontmoet Op My Eish! se twee buiteperde (wild cards)

Leyla van Greuning. (Foto: kykNET)

Leyla van Greuning (23, Johannesburg, digitale bemarker)

Waarom het jy ingestem toe die vervaardigers jou genader het?

In die begin van die jaar het ek besluit dat ek hierdie jaar myself gaan uitdaag om uit my gemaksone te kom, en toe hierdie geleentheid opdaag, toe gryp ek dit aan. Ek is definitief ʼn kansvatter omdat ek die meeste van my lewe wil maak. Ek wil nie eendag dink ek moes nie, ek wil weet ek het.

Het jy van Francois geweet voor die program?

Nee, ek moes hom gaan stalk op sosiale media.

Was jy senuweeagtig om die ander deelnemers te ontmoet, en waarom?

Nee, glad nie. Ek is beslis ʼn mense-mens en geniet dit om nuwe mense te ontmoet.

Shané (Nykie) Pretorius. (Foto: kykNET)

Shané (Nykie) Pretorius (25, Pretoria, entrepreneur)

Waarom het jy ingestem toe die vervaardigers jou genader het?

Ek was eers onseker toe hulle my gevra het om op die show te wees, maar nadat ek met my naaste mense daaroor gepraat het en gebid het dat die Here my sal help om die regte besluit te maak, het ek met sekerheid ja gesê. Alles gebeur tog vir ʼn rede!

Het jy van Francois geweet voor die program?

Ek het Francois se gesig geken van Vir die voëls af, maar het niks verder van hom geweet nie. Dis eers toe ek op sy Instagram gaan kyk dat ek gesien het hy lyk soos ʼn lekker ou en dit het definitief my keuse om op die show te gaan ook beïnvloed.

Was jy senuweeagtig om die ander deelnemers te ontmoet, en waarom?

Ek was baie op my senuwees voor ons die vroue ontmoet het. ʼn Mens verwag altyd die ergste en ek het net gedink hoe ek sou voel as die rolle omgeruil was. Ek het net vir myself gesê: “Maak nie saak wat hulle reaksie is nie, dis verstaanbaar.” Maar tot my verbasing was hulle eintlik baie rustiger as wat ek verwag het.

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish! Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.