Tshwane-liefdadigheidskonsert moedig publiek aan om te gee

Die Stad Tshwane hou op 17 Desember ʼn konsert ten bate van liefdadigheid. Dié konsert word by die Sun Arena, Times Square in Pretoria, aangebied en vind van 17:00 tot 22:00 plaas.

“Verskeie musiekuitvoerings en toonsettings vorm deel van die program, maar in wese is die konsert daarop gemik om inwoners aan te moedig om skenkings vir liefdadigheid te maak” het Omogolo Taunyane, woordvoerder van die burgemeester, gesê.

Meer as 30 agtergronddansers en van die voorste platejoggies en kunstenaars, waaronder Mango Groove, Watershed, en plaaslike kore, soos die Tshwane-metropolisie en die Tshwane-busdiens se kore, gaan optree. Die vermaaklikheidsprogram sluit ook items soos Choral vs Amapiano, Orchestra vs Hip Hop, Kersliedere met ʼn kinkel en klassieke treffers in. Die geleentheid, wat slegs ’n paar dae voor Kersfees plaasvind, skep ’n platform vir alle sektore van die samelewing om hande te vat om in die nood te voorsien.

Mango Groove (Foto: south-africa.co.nz)

“Deur terug te gee aan die behoeftiges toon ons gemeenskaplike solidariteit in die bekamping van armoede,” het die Stad Tshwane in ʼn verklaring gesê. “Hierdie inisiatief sal die publiek mobiliseer om items vir kwesbare mense, veral vroue, kinders en persone met gestremdhede, te skenk.”

Skenkings soos nuwe skoolskoene en gemaklike skoene, groottes 6 tot 10, sanitêre doekies, ’n sak toiletware, skryfbehoeftesakke, skooltasse, komberse of weggooidoeke word ingewag. Dié skenkings word in plaas van toegangsgeld ontvang.

Kaartjies kan vooraf by TickiPay gekry word of op die dag van die geleentheid tussen 14:00 en 18:30 by Sun Arena se kaartjiekantoor afgehaal word in ruil vir die items wat geskenk word. Kaartjies kan ook op 12, 13 en 17 Desember van 08:00 tot 16:00 by die voorportaal van Tshwane House afgehaal word.

Konsertgangers word aangemoedig om jakaranda-pers en wit te dra as hulle die geleentheid bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter ·

Hoeveel word aan die wit plakkerskampe gegee?
Indien julle nie vir daardie mense gaan gee nie, gee ek NIKS!

Kobus ·

Gaan Raadslede ook skenkings kry. Aan wie en watter organisasies gaan die fondse. Enige geleentheid wat deur Owerheid gereel word vertrou ek.nie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.