Biblioteekboek is 43 jaar laat

(Foto: Newport News Public Library/Facebook)

ʼn Biblioteekboek is 43 jaar laat teruggegee – maar wie die boek al die jare lank gehad het, bly ʼn raaisel.

Die span by Newport News-staatsbiblioteek in die deelstaat Virginië in die VSA het die kopie van AJP Taylor se How Wars Begin terugverwelkom. Dit moes eintlik op 23 Maart 1980 terug gewees het by die biblioteek.

Die leser het egter besluit om dit net in die biblioteek se mandjie te los, eerder as om dit vir ʼn lid van die span te gee – waarskynlik uit verleentheid.

“Grissom-biblioteek het ʼn ongewone boek terug ontvang. Die boek moes op 23 Maart 1980 ingedien gewees het.”

Volgens die biblioteek is dit vermoedelik ʼn nuwe rekord vir ‘n agterstallige boek by Newport News-biblioteek. Hulle het nie enige inligting van persone wat boeke in daardie tyd uitgeneem het nie, so die onbekende persoon wat die boek teruggegee het, “kan maar net ons dankie kry”.

Sommige gebruikers het gewonder of die persoon dalk anoniem wou bly om ʼn stewige boete te vermy, maar die biblioteek het bevestig hulle vra nie enige boetes vir agterstallige boeke nie.

“Ek is nou lus om dit te lees!” skryf nog iemand in reaksie op die plasing.

Dit kom egter nie naby aan wat met David Hickman gebeur het nie. Hy was 17 jaar oud toe hy The Law for Motorists in 1964 uitgeneem het, net ná hy in ʼn motorongeluk betrokke was.

Hy het in die burgemeester van West Midlands, Engeland, se motor vasgery toe hy vir ʼn groep tienermeisies van Dudley High School for Girls gewaai het.

Hy is in hegtenis geneem en ʼn boete van £7 opgelê in die magistraatshof (vandag sowat £175 of R3 700), ondanks sy verweer uit dit wat hy uit The Law for Motorists geleer het.

Ná die petalje het hy heeltemal van die biblioteekboek vergeet en dit het agter in sy kas beland.

As 76-jarige het David besluit om die regte ding te doen en die boek terug te gee.

Die biblioteek kon hom ʼn boete van £42 340 (ongeveer R898 000) opgelê het teen ʼn boete van 20 pennies per dag omdat die boek 58 jaar laat was, maar het besluit om hom kwyt te skeld van die boete ná hulle sy grappige verhaal gehoor het.

Grissom Library's staff had a most unusual book returned in their book drop. The book was due on March 23, 1980! We…

Posted by Newport News Public Library on Wednesday, February 1, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.