Dapper tiener red kinders op die bus

Acie Holland III (Foto verskaf deur Glen Hills Middle School)

Acie Holland III het vinnig gereageer toe hul skoolbusbestuurder skielik siek geword het.

Acie was op die bus saam met medeskoliere toe hy besef het die bestuurder ry nie stadiger om by hul bushalte stil te hou nie.

“Sy maak graag grappies en ek het gedink sy trek dalk net ons been,” het die 14-jarige aan die Washington Post gesê. Dit was egter geen grappie nie.

Die busbestuurder het haar bewussyn verloor en haar voet was nog op die petrolpedaal.

Acie het na haar uitgeroep, maar haar kop het vorentoe geval voor die bus in die aankomende verkeer se laan beland het.

“Hy het gou vorentoe gehardloop, die stuurwiel gegryp en die bestuurder se voet van die petrolpedaal verwyder. Hy het ook die rem getrap en die bus tot stilstand gebring,” het sy skoolhoof by Glen Hills Middle School in Glendale, Wisconsin in die VSA, in ʼn brief aan die skoolgemeenskap verduidelik.

Acie word nou beskou “as ʼn held” wat ʼn “baie ernstige tragedie voorkom het”. Daar was op 24 April altesaam 14 skoliere op die bus toe die voorval plaasgevind het, het skoolhoof Anna Young bygevoeg.

“Almal was oukei en die ander kinders het doodstil bly sit,” het die tiener aan die Post gesê. “Alles het baie vinnig gebeur.”

Skermgreep uit die video

Sy heldhaftigheid het nie daar opgehou nie. Hy het die kinders aangesê om hul ouers te bel en een van sy vriende gevra om die noodnommer 911 te skakel. “Ek het gou huis toe gehardloop om my ouma te gaan haal, want sy is ʼn verpleegster.”

Die ouma se hulp was uiteindelik nie nodig nie. Teen die tyd dat Acie teruggekeer het, het die busbestuurder weer haar bewussyn herwin en het die vervoermaatskappy gekontak. ʼn Senior beampte van die maatskappy het die vrou na ʼn hospitaal geneem, berig die Post.

Dit is nog nie bekend wat met die bestuurder gebeur het nie, maar sy het die volgende dag nog mediese behandeling ontvang, het Young gesê. “Die kinders het gesê dit was ʼn angswekkende ervaring, maar Acie het hom goed van sy taak gekwyt.”

Acie het ʼn ongekende kennis oor voertuie vir iemand so jonk, omdat sy pa ʼn motorwerkswinkel besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

1 groot geluk is dat al hul voertuie automaties is, dus hoef jy net rem te trap. Steeds dankbaar vir sy vinnige optrede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.