Die dag toe daar nie nuus was nie

Argieffoto (Foto: Mahesh Patel/Pixabay)

Dit word al hoe moeiliker om mens in te dink dat daar ʼn dag sal wees waar daar geen nuus is nie: niks oor ʼn oorlog, misdaad, wêreldwye pandemie of ongelukke nie.

Maar 92 jaar gelede, op 18 April 1930, het die BBC se nuusleser niks gehad om te kommunikeer nie. “Goeienaand. Dit is Goeie Vrydag. Daar is geen nuus nie,” was die teks vir die nuusbulletin om 20:45, voor klaviermusiek vir die res van die 15 minuut lange segment gespeel is.

Die draadloos-diens het daarna teruggekeer na sy uitsending uit die Queen’s Hall in Langham Place, Londen, waar die Wagner-opera “Parsifal” uitgevoer is.

Die BBC was in 1930 slegs 10 jaar oud en het baie spesifieke doelwitte gehad. “Die BBC se benadering was om direk teenstrydig te wees met dit wat die VSA met radio gedoen het, om lisensiëring oop te maak en mededinging tussen ʼn wye verskeidenheid van kommersiële benaderings toe te laat,” het Ethan Zuckerman, direkteur van die Sentrum vir Burgerlike Media by MIT, vroeër gesê. “Eerder as om die deure oop te gooi en almal te probeer bereik, het die BBC ten doel gehad om die morele karakter van Brittanje te verhoog.”

Die BBC kon self kies wat die moeite werd is om oor te berig. Radio-aankondigers het hul stories van Reuters, die Press Association, Central News en Exchange Telegraph Company ontvang.

Zuckerman het daarop gewys dat geskiedkundige nuusbronne wys dat daar minstens twee belangrike dinge in en rondom Brittanje gebeur het: die Britse regering het gepoog om te reageer op bewerings wat die vorige dag in die koerant gepubliseer is, en omdat die koerante nie op Goeie Vrydag uitgegee is nie, is dit moontlik dat hulle waarskynlik die radio sou wou gebruik. Die tweede voorval hou verband met Surya Sen, ʼn Bengali-vegter wat suksesvol ʼn klopjag uitgevoer het teen ʼn koloniale buitebos in Chittangong. Die tegnologie is waarskynlik vir dié een te blameer: selfs al sou hulle daaroor wou berig, sou hulle nie die nuus ontvang het nie, omdat Sen se magte die spoor- en telegraaflyne afgesny het.

In internasionale nuus is 118 mense dood tydens ʼn brand in ʼn houtkerk in Costesti, Roemenië, waarvan meeste skoliere was. Hulle het pas met hul Goeie Vrydag-diens begin. Kerse wat in die diens gebruik is, het aan die gordyne geraak en ʼn brand het uitgebreek.

ʼn Tifoon het ook Leyte in die Filippyne getref en enorme skade aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.